Deur dr. Wynand de Beer

’n Fassinerende en betreklik onbekende verskynsel in die moderne geskiedenis is die noue samewerking wat by die wisseling van die 19de na die 20ste eeu tussen die Iere en die Boere plaasgevind het. Albei volke was indertyds in ’n meedoënlose stryd om nasionale vryheid teen imperiale Brittanje gewikkel. En hoewel die twee Boererepublieke van  Transvaal en die Oranje Vrystaat in 1902 tot ’n einde gekom en die grondgebied agt jaar later deel van die Unie van Suid-Afrika geword het, was die heldhaftige verset van die Boere teen die Britse oormag ’n blywende bron van inspirasie vir die Iere in hul vryheidstryd – ’n stryd wat in 1922 met selfregering en in 1937 met onafhanklikheid vir die grootste deel van Ierland beloon is.

Agtergrond

Die vertrekpunt van die Ierse vrywilligerhulp aan die Boere kan na die Britse anneksasie van die Transvaal in 1877 teruggevoer word. Sewe Ierse parlementslede in Westminster het ’n verbete stryd gevoer om wetgewing wat van die hele Suid-Afrika ’n konfederasie onder Britse beheer wou maak, te veto. Onder hulle was Charles Stewart Parnell, die latere leier van die Ierse parlementêre party wat ’n beduidende rol in hul vryheidstryd sou speel, en Frank Hugh O’Donnell, wat tydens die Anglo-Boereoorlog as geheime agent vir die Boererepublieke in Europa opgetree het. Hoewel hul parlementêre protes weens die Britse lojaliste-oormag onsuksesvol was, het die mediadekking daarvan gelei tot ’n opwelling van steun vir die Boere-saak onder die Ierse nasionaliste. Parnell se suster Fanny het reeds in 1881 ten tyde van die Boere se Eerste Vryheidsoorlog teen Brittanje ’n sterk pro-Boer-gedig, Paul Kruger, geskryf wat wyd deur Ierland versprei is. Die Ierse publikasie Freeman’s Journal het die gedig ses dae na die aanvang van die Tweede Vryheidsoorlog op 11 Oktober 1899 heruitgereik.

Amerikaanse Iere wat in die Anglo-Boereoorlog saam met die Boere geveg het.

Amerikaanse Iere wat in die Anglo-Boereoorlog saam met die Boere geveg het.

Dit lui onder meer soos volg:

 

PAUL KRUGER

Now Christ thee save Paul Kruger!

Now Christ thee save from harm,

And may the God of Josua


Bear up thy strong right arm.

May He who fought the battles

Of all thy Hero Sires,

When Orange William kindled

The blaze of Freedom’s fires.

And joy shall lash the pulses

Of freeman and of slave,

To see the youg Republican

Throned on a despot’s grave.

 

Lo! these shall be the bulwarks

No red-coat robber scales

Till once again this banner

Before the Dutchman trails!

 

No brighter star hath heaven

‘Mid all the flaming band

Than he who lives and labours

And dies – for Fatherland. 

 

Die Boere se reeks oorwinnings oor die Britte in verskeie skietgevegte in Transvaal en Natal en wat gelei het tot die finale slag in die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881, is wyd deur die Ierse nasionalistiese pers verwelkom. Daar is veral gewag gemaak van die feit dat die Ier Alfred Aylward as raadgewer vir kommandant-generaal Piet Joubert tydens die Slag van Majuba opgetree het.

Die eksentrieke Aylward is in die 1860’s twee keer sonder verhoor deur die Britte aangehou weens sy Ierse rewolusionêre aktiwiteite, totdat hy in 1868 na Suid-Afrika uitgewyk het. Hier was hy agtereenvolgens kwaksalwer, koerantredakteur en soldaat, totdat hy in 1879 redakteur van die Natal Witness geword het. Laasgenoemde was die enigste Natalse koerant wat met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog teen die einde van 1880 die Boere-saak ondersteun het. Te midde van doodsdreigemente deur lojalistiese Natallers is hy na Transvaal, waar hy hom by die Boere aangesluit het. Hy het ná Majuba as Boere-woordvoerder vir die Britse oorlogskorrespondente opgetree, tot hul ergernis. Aylward is in 1889 in die VSA oorlede. ’n Dekade later sou sy aandeel in die Boere se Tweede Vryheidstryd deur Arthur Griffith in Ierland weergegee word.

Ironies genoeg het die aartsimperialis Cecil John Rhodes in 1888 ’n aansienlike skenking van £10 000 aan Parnell gemaak, met die voorbehoud dat sy party enige poging sou teenstaan om Ierse verteenwoordiging by Westminster in die geval van Ierse selfregering (home rule) te beeïndig. Rhodes se motivering vir so ’n onverwagse stap was stellig sy wens dat Ierland deel van ’n federale Britse ryk moes bly, alhoewel met ’n eie parlement in Dublin. Parnell het die helfte van die bedrag aangewend vir Ierse landbouers se veldtog om hul grond teen beslaglegging te beskerm. Van die res van die geld is daar nooit bevredigend rekenskap van gegee nie …

Met die Konserwatiewe regering van Salisbury teen die middel 1890’s aan die bewind in Westminster, en enige vooruitsig op Ierse selfregering op die lange baan geskuif, was die Ierse nasionalistiese politiek op sy laagste vlak in 30 jaar. Die Boere se suksesvolle bekamping van die Jameson-inval in Transvaal in die laaste week van Desember 1895 tot Nuwejaarsdag 1896 het dus welkome lewe in die Ierse vryheidstrewe geblaas. Een van die Iere se leiersfigure, John Dillon, het in die Britse parlement aangedring op die vervolging van Rhodes en sy Ierse handlanger Rochfort Maguire. Die feit dat die deelnemers aan die staatsgreeppoging meestal skotvry daarvan afgekom het, is deur die Ierse nasionalistiese pers veroordeel. Toe Transvaal die skuldiges, wat die doodstraf opgelê is, begenadig, swaar beboet, en vir herverhoor en verdere straf na Londen gestuur het, het die Kaapse parlement, sowel as openbare vergaderings in Port Elizabeth en Aliwal-Noord mosies aanvaar waarin die Britse regering versoek is om as quid pro quo hul Ierse politieke gevangenes te begenadig. Vir diegene wat met die Britse imperiale mentaliteit bekend is, sal dit nie verbasend wees om te verneem dat die koloniale sekretaris (en kapitaalkragtige krygstuigvervaardiger) Joseph Chamberlain, die hoofbeplanner van die Jameson-staatsgreep, niks van so ’n wederkerigheid wou weet nie.

Boerekoors

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (ABO) in Oktober 1899 het “Boerekoors”, soos die historikus Donal McCracken dit stel, deur Ierland geswiep. Hoewel Ierland as deel van die Britse ryk amptelik in ’n staat van oorlog met die Boererepublieke verkeer het, het die nasionalistiese bevolking van die eiland die Boere se saak geesdriftig aangeneem. ’n Persveldtog ten gunste van die Boere is gelei deur Arthur Griffith, wat tot kort tevore in die Transvaalse goudmyne gewerk het. Terug in Ierland het hy die United Irishman begin publiseer, waarin hy selfs ’n Ierse vertaling van die Transvaalse volkslied Kent gij dat volk  geplaas het. Griffith sou die dryfkrag agter die Ierse pro-Boer-beweging word, met sy siening van die oorlog as ’n internasionale misdaad teen ’n volk wat hy bewonder het.

Toe die oorlogswolke oor Transvaal begin opdoem, is in Augustus 1899 die eerste betoging ten gunste van die Boere in Dublin gehou. Dit is gereël deur James Connolly, ’n sosialis wat die Ierse Sosialistiese Republikeinse Party gestig en sy eie koerant, die Workers’ Republic, uitgee het. Enkele weke later het ’n geesdriftige skare van 20 000 in Dublin betoog teen Engeland se beplande aanval op die Zuid-Afrikaansche Republiek van Paul Kruger. Die Transvaalse vierkleur is gehys, en vir die res van die oorlog sou die vlag ’n embleem van die Ierse nasionalistiese beweging wees. Plaaslike rade en openbare vergaderings oor die hele  Ierland het resolusies ter steun van die Boere se vryheidstryd uitgespreek.

Van besondere belang was die stigting van die Ierse Transvaalse Komitee in Dublin op 30 September 1899, met die drievoudige doel om steun vir die Transvaalse republiek uit te druk, om jong Iere te ontmoedig om in die geledere van die Britse magte in Suid-Afrika teen die Boere te veg, en om ’n Ierse nasionale vlag aan die Ierse Brigade te skenk. Hul geledere het aktiviste soos Connolly, Griffith en Maud Gonne ingesluit, asook die parlementslede Michael Davitt en TD Sullivan, en die later beroemde digter William Butler Yeats. Die komitee sou ’n invloed uitoefen wat buite alle verhouding tot hul getalle of fondse was, nie die minste nie deur die United Irishman wat hul spreekbuis sou word. Die polisie het probeer om die koerant tot niet te maak deur hul vernaamste verkoopspunt te sluit, maar die poging was onsuksesvol. Nietemin het die polisie voortgegaan om die komitee se kantore dag en nag dop te hou, en tot so laat as November 1901 is die pro-Boere-komitee deur die polisie as die gevaarlikste groep in Dublin beskou.

Vanaf die eerste naweek van die oorlog het onluste en aanvalle op Britse soldate in Dublin voorgekom, wat by tye so heftig gewoed het dat dele van die middestad buite perke vir soldate verklaar is. Die oproer het spoedig na Ierse dorpe versprei, waar sommige burgemeesters openlik pro-Boer was. Ook in Limerick het voorvalle van geweld tussen soldate en burgerlikes voorgekom.

In die Britse parlement het die Ierse nasionaliste vanaf die eerste oorlogsdebat in Oktober 1899 met groot ywer as kampvegters vir die Boere opgetree. Tydens dieselfde debat het Michael Davitt as parlementslid bedank nadat hy ’n kragtige toespraak afgesteek het om die Britse oorlog in Suid-Afrika te veroordeel. Hy het tevore jare lank in ’n Britse tronk geslyt as straf vir sy republikeinse aktiwiteite. Hy is in 1895 tot parlementslid vir Mayo in die weste van Ierland verkies. Sy dramatiese bedanking het sy kiesafdeling byna tot rebellie teen die Britse bewind aangespoor. Davitt is vroeg in 1900 na Transvaal, waar hy die laaste sitting van die Transvaalse Volksraad met nostalgie bygewoon het.

Met sy terugkeer na Ierland in Julie van daardie jaar het hy begin skryf aan sy boek The Boer Fight for Freedom, wat steeds as een van die beste publikasies oor die ABO beskou word. Die boek is in 1902 in die VSA uitgegee en het oor die jare ’n gesogte versamelaarstuk geword. In die onlangse verlede is dit heruitgegee deur Scripta Africana (1988) in Suid-Afrika, die Universiteit van Michigan (2009) en Kessinger (2010). Davitt se bewondering vir die Boere blyk uit sy opmerking dat die Iere as vegters vir nasionale vryheid power lyk in vergelyking met die Boere.

Die dramatiese terugslae wat die Britte in Desember 1899 tydens “Swart Week” teen die Boere gelei het, toe hulle by Stormberg, Magersfontein en Colenso in konvensionele veldslae deur die Boere verslaan is, het tot jubeling in Ierland gelei. Vir die romanskrywer George Moore was die Boere-oorwinnings die grootste gebeurtenis sedert die Slag van Thermopylae in antieke Griekeland toe ’n Persiese inval gestuit is.

Te midde van die Ierse euforie het Joseph Chamberlain, ewe ongewild in Ierland as in die Boererepublieke, dit goedgedink om Dublin te besoek ten einde ’n eregraad van Trinity College te ontvang. Dit het tot daglange botsings tussen die Britse polisie en Ierse nasionaliste in die middestad gelei, en tot welkome publisiteit vir die Ierse Transvaalse Komitee wat die protes teen Chamberlain se besoek gereël het.

Teen die einde van Januarie 1900 is die Boere se oorwinning by Spioenkop in Natal dwarsdeur Ierland gevier. Terselfdertyd het gedrukte ballades en pamflette ter steun van die Boere oral begin kop uitsteek, tot misnoeë van die Britse polisie wat alles in die stryd gewerp het om die literatuur te konfiskeer. Skoolseuns is dikwels ingespan om die pamflette te versprei, omdat hul slegs vermaan kon word indien hul deur die polisie betrap is.

Dat die samewerking tussen die Iere en die Boere nie ’n eenrigting-affêre was nie, blyk uit die geldelike steun wat aan die Ierse Republikeinse Broederskap (IRB) verleen is. In die eerste jaar van die oorlog is meer as £6 000 deur dr. Willem Lleyds, die Boererepublieke se gevolmagtigde gesant in Brussels, aan Frank O’Donnell geskenk. Hy was ’n geheime agent vir beide die Boere en die IRB, en die kanse is goed dat meeste van die geld na die IRB gevloei het. Volgens die Britse polisie is ’n deel daarvan aangewend vir anti-oorlog-plakkate in Dublin.

In April 1900 het die bejaarde Britse monarg Victoria die land van die Iere vir die vierde en laaste keer besoek; sy sou nege maande later beswyk. Die amptelike rede vir die besoek was om die Ierse soldate te bedank vir hul lojaliteit aan Brittanje. Vir die Ierse nasionaliste was dit ’n klap in die gesig. In ’n brief aan die pers het Yeats aangevoer dat Victoria deur haar raadgewers na Ierland gestuur is op grond van haat vir sy land se nasionale lewe, en dat sy die hoof is van ’n ryk wat besig was om die Suid-Afrikaanse republieke van hul vryheid te beroof. Die latere Nobelpryswenner is deur die pro-Britse media verguis, en hy het aansienlike steun vir sy literêre teater verloor as gevolg van hierdie manmoedige skrywe. Die Ierse Transvaalse Komitee het ’n fakkeloptog teen die koninklike besoek beplan, maar die skare is deur die Britse polisie met knuppels uiteengejaag.

Die skerpste kritiek op die koningin se Ierse besoek het van Maud Gonne gekom, by wyse van ’n artikel in die United Irishman getiteld “The Famine Queen”. Daarin het sy geskryf dat die politieke noodsaak baie sterk moes gewees het om die 81-jarige Victoria te laat besluit om ’n land wat sy haat, te besoek; wie se inwoners die slagoffers is van die misdadige beleid van haar bewind, en die oorlewendes van 60 jaar se georganiseerde hongersnood.

Soos verwag kon word, het Gonne se artikel ’n skerp reaksie tot gevolg gehad. Die Britse polisie het ’n klopjag op die koerant se kantore uitgevoer, en vir die eerste keer is die publikasie daarvan verbied.

Tydens Victoria se besoek aan Dublin is ’n piekniek in Phoenix Park in haar eer aangebied. Dit is deur duisende skoolkinders bygewoon, wat die onvermoeibare Maud Gonne aangespoor het om kort daarna ’n patriotiese kinderpiekniek in Clonturk Park te reël vir kinders wat nie die koninklike geleentheid kon bywoon nie. Sy is met dawerende sukses beloon, want meer as 20 000 kinders het opgedaag. In haar toespraak het Gonne die oorlog in Suid-Afrika veroordeel, en die kinders met Ierse nasionalisme aangevuur – tot ergernis van die Britse polisie wat haar optrede as verraderlik beskou het.

Die Britse oorwinnings wat in die lente van 1900 plaasgevind het, gevolg deur die val van Pretoria, het ’n demper op nasionalistiese ywer in Ierland geplaas. Dit was egter van korte duur, want nuus dat die Boere se guerrilla-oorlog, wat pas begin het, hoogs suksesvol was, het ’n tweede golf van “Boerekoors” deur die land laat waai.

Teen die somer van 1900 is die kleure van die Transvaalse vlag selfs op hoedbande gedra, en portrette van die Boere-generaals is op lapelwapens en mansjetknope vertoon. President Kruger se ballingskap in Europa het wye simpatie onder Ierse nasionaliste ontlok. Met sy aankoms in Frankryk is oorkondes aan hom oorhandig deur Michael Davitt namens ’n groot getal Ierse parlementslede, deur die Dublin-komitee, en deur Maud Gonne namens haar vrouevereniging.

Ierse brigades

Enkele dae voor die uitbreek van die oorlog is ’n Ierse Transvaalse Brigade in Johannesburg gestig, bestaande hoofsaaklik uit Iere wat aan die Witwatersrand gewerk het. Die Volksraad het die vrywilligers volle burgerskap toegestaan, met die voorbehoud dat hulle geen werwing in Ierland of Amerika sou doen nie. Soos altyd, was die Transvaalse leierskap agterdogtig oor die motiewe van buitelanders wat aan Boere-kant wou veg. Weens hierdie agterdog is aansienlike buitelandse mannekrag ingeboet.

Ook vanuit Ierland self het ’n aantal lede vir die versterking van die Ierse brigade opgedaag. Hulle het Transvaal via die Portugees-beheerde Delagoabaai binnegekom, waar hul bewegings aan die Britte bekend gemaak is deur Roger Casement, die Britse konsul. Ironies genoeg sou Casement later self ’n Ierse nasionalis word en as ’n held van die 1916-opstand in Ierland deur die Britte opgehang word.

Die dryfveer agter die Ierse brigade was maj. John MacBride, ’n apteker van beroep wat in 1896 in die Transvaal kom woon het. Met sy vurige geaardheid het hy weldra die leierskap van die Ierse gemeenskap aan die Rand bekom. Saam met sy landgenoot Arthur Griffith het hy teen die belange van die pro-Britse uitlanders gewerk. Met die honderdjarige herdenking van die Ierse opstand in 1898 het MacBride en Griffith ’n veelvolkige optog deur die strate van Johannesburg ter steun van die Boere georganiseer.

Die herdenkingskomitee het in Oktober 1899 besluit op ’n afsonderlike Ierse eenheid om saam met die Boere te veg. Met die stigting van die Ierse Transvaalse Brigade is MacBride as bevelvoerder aangewys, maar hy was van mening dat sy gebrek aan militêre ervaring hom ongeskik vir so ’n pos sou maak. Hulle is gevolglik aangevoer deur kol. John Blake, ’n Ierse Amerikaner wat in die Amerikaanse ruitery teen die Apache- en Navaho-stamme geveg het. Hy het later in Johannesburg gaan woon. MacBride was toe tweede-in-bevel van die brigade. Blake het sy bevel aanvaar op voorwaarde dat geen lid van die brigade enige vergoeding sou ontvang nie. Dit was die kaliber van die manne wat vrywilliglik aan Boerekant geveg het, in weerwil van die venynige Britse propagandaveldtog teen hulle.

Blake en MacBride se Ierse Brigade het ook ’n aantal Amerikaanse mynwerkers van die Rand en minstens tien Franse burgers ingesluit. Hoewel die brigade nie meer as 200 man sou tel nie, het hulle nogtans goeie diens aan die Boere gelewer. Hulle is aanvanklik na die Natalse grens gestuur, waar hul saam met die Transvaalse staatsgeskut sou veg. Kort voor Kersfees 1899 is ’n Ierse vlag afkomstig van die Dublin-komitee aan die brigade geskenk, waarna dit langs die Vierkleur gewapper het. In Maart 1900 het ’n Iers-Amerikaanse ambulanseenheid van ongeveer 50 man onder bevel van kapt. Patrick O’Connor in Pretoria aangekom, vanwaar hulle by die Ierse Transvaalse Brigade aangesluit het.

Die vrywilligers is deur Ierse verenigings in Massachusetts en Chicago gewerf. Hul aansluiting by die brigade het saamgeval met die Boere se terugval voor Roberts se groot opmars in Transvaal. Die ambulanseenheid se laaste aksie was tydens die onsuksesvolle Boere-aanval in Augustus 1900 by Bergendal in Noord-Oos-Transvaal.

Die Ierse brigade het intussen aan ’n aantal veldslae in Natal deelgeneem, onder meer te Dundee, Colenso en Spioenkop, asook aan die beleg van Ladysmith, waar Blake gewond is. Daarna was hulle deel van die Boere se terugtog deur die Vrystaat en Transvaal, en in September 1900 is die brigade ontbind. Die meeste van die oorblywende Iere het die grens na Mosambiek oorgesteek, maar ’n aantal het by die Boere agtergebly. Ongeveer dertig man het tydens die jaarlange bestaan van die Eerste Ierse Brigade gesneuwel en ’n groter getal is deur die Britte gevange geneem. Kol. Blake het in Suid-Afrika gebly en tot 1902 sy aan sy met die Bittereinders geveg. Hy sou na die oorlog ’n boek, A West Pointer with the Boers, oor sy wedervaringe in Suid-Afrika laat publiseer.

Vroeg in 1900 is ’n Tweede Ierse Brigade gestig onder bevel van kol. Arthur Lynch, ’n Australiese Ier wat in Parys met Maud Gonne bevriend was. Lynch is met die uitbreek van die oorlog as korrespondent van die Franse blad Le Journal na Transvaal, waar hy op die gedagte van ’n tweede brigade gekom het. Hul geledere het ’n groot aantal nasionaliteite ingesluit, onder meer Franse, Duitsers, Hollanders, Oostenrykers, Grieke, Bulgare, Italianers en Amerikaners. Dié verskynsel het Michael Davitt laat opmerk dat die brigade die mees kosmopolitaanse eenheid is wat ooit deur ’n Ier aangevoer is.

Soos die Eerste Brigade is hulle na Natal, waar hul onder die oorhoofse bevel van genl. Lukas Meyer geplaas is. Lynch se brigade het vervolgens aan die Boere se terugtog na Transvaal deelgeneem, en met hul aankoms in Johannesburg in Julie 1900 is die eenheid na ’n bestaan van slegs ’n paar maande ontbind. In die buitewyke van Johannesburg het MacBride en Lynch, nie die beste vriende nie, mekaar vir oulaas gegroet. Hoewel die totale mannekrag van die twee Ierse brigades waarskynlik nie 500 oorskry het nie, het hul aktiwiteite aansienlike opgewondenheid in Ierland meegebring.

MacBride het na afloop van die ABO as ’n held na sy geboorteland teruggekeer, en is deur die voormalige kapelaan van sy brigade met Maud Gonne getrou. Sy statuur as oorlogsheld was so groot dat sy bruid verklaar het dat dit vir haar voel asof sy met Ierland trou. Helaas hou voortreflikheid in oorlogvoering en in die huwelik nie noodwendig met mekaar verband nie, sodat laasgenoemde spoedig tot ’n rampspoedige einde gekom het. Dit sou nie die einde van MacBride se terugslae wees nie: In 1916 sou hy vir sy aandeel aan die mislukte Ierse opstand in Dublin deur die Britte tereggestel word.

Op sy beurt is Lynch in November 1901 as parlementslid vir Galway aan die Ierse weskus verkies, maar met sy aankoms in Londen in Junie 1902 is hy in hegtenis geneem en weens sy hulp aan die Boere van hoogverraad aangekla. Hy het die onderskeiding verwerf om die laaste man te word om deur ’n Britse regter veroordeel te word om eers opgehang te word, en daarna, nog lewend, deur vier perde uitmekaar geskeur moes word. Dié praktyk was Brittanje se bydrae tot barbaarse regspleging. Nadat die Amerikaanse president Theodore Roosevelt egter persoonlik tussenbeide getree het, is Lynch se vonnis na lewenslange dwangarbeid gewysig. Ná slegs vier maande in die tronk is Lynch – in ’n gebaar van versoening – deur die Britse owerhede vrygelaat.

Naas die Ierse brigades het ’n aansienlike getal Iere, tot soveel as 1 200, saam met Boere-kommando’s geveg. Hulle het veral naam gemaak as plofstof-kundiges vanweë hul ervaring van dinamiet in die Randse goudmyne. Ongeveer 300 van hierdie Iere was Amerikaners, insluitend die Duits-opgeleide Otto von Lossberg, wat die Boere se geskut tydens die slag van Sannaspos aangevoer het. Die meesters van guerilla-oorlogvoering, generaals De Wet, De la Rey en Botha, het almal Iere in hul kommando’s gehad.

’n Verdere lofwaardige aspek van die Ierse hulp aan die Boere was die veldtog om werwing vir die Britse leër in Ierland te ontmoedig. Die veldtog is met groot ywer deur Maud Gonne namens die Dublin-komitee bedryf, met Griffith se United Irishman as spreekbuis. Dit het daartoe gelei dat sy deurentyd deur die Britse polisie dopgehou is. Op die keper beskou het die anti-werwing veldtog nie veel uitgerig nie. Slegs in die suide en weste van Ierland is ’n afname in werwing in vergelyking met die vooroorlogse jare geboekstaaf, teenoor Dublin en die noorde wat daarenteen ’n toename beleef het.

’n Groot getal lojalistiese Iere het egter ook aan die Britse kant in die ABO teen die Boere geveg, deels vanweë ’n lang tradisie van militêre diens in lojalistiese families. Die Ierse betrokkenheid in Suid-Afrika was dus soortgelyk aan hul rol in die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog, waartydens Iere aan albei kante van die konflik deelgeneem het, soos Emanoel Lee in sy bekende boek, To the Bitter End, opmerk.

Sommige van die Iere in Britse diens teen die Boere, soos die toekomstige nasionalistiese leier Erskine Childers, en die 1916-rebel Robert Monteith, is egter deur hul ervarings in Suid-Afrika van die Britse ryk vervreem. Talle ander is met meer positiewe sienings van die Boere terug huis toe, gegewe die meer as ’n eeu lange propagandaveldtog in die Britse media (sedert 1795) dat die Boere primitiewe, ongeleerde woestaards was.

Die Protestantse reaksie

In die noordelike Ierse provinsie van Ulster met sy Protestantse meerderheid is ’n skrille kontras met gebeure in die res van Ierland aangetref. Die meeste Ierse Protestante was as unioniste ewe veel pro-Brits as wat hul anti-Katoliek was, sodat hulle nie gehuiwer het om Brittanje in haar oorlog in Suid-Afrika te ondersteun nie. Die steun van Ierse nasionaliste, waarvan die groot meerderheid Katoliek was, vir die Boere, het as dubbele motivering vir die Ierse unioniste gedien om lojaal aan hul Britse heersers te bly. Nuus van Britse oorwinnings is jubelend in Protestantse buurte van Belfast en elders in die noorde gevier. Belfast was die vernaamste werwingsterrein van die Royal Irish Rifles wat vroeg in die oorlog swaar verliese in Natal gelei het.

In die suidelike provinsies van Ierland het die unioniste hul aktiwiteite ter steun van die Britse oorlogspoging op fondsinsameling toegespits. Daar was veral twee instellings wat openlik die Ierse pro-Boere teengestaan het, naamlik Trinity College in Dublin (die oudste universiteit in Ierland) en die Anglikaanse kerk (in Ierland, merkwaardig genoeg, bekend as die ‘Church of Ireland’). Die primaat van laasgenoemde was Aartsbiskop William Alexander, wat in 1893 die Kaap besoek en ’n groot bewonderaar van Cecil John Rhodes geword het. Die aartsbiskop het selfs ’n gedig ter steun van die oorlog geskryf – wat nie eintlik verbasend is nie, gegewe die tradisionele dienstigheid van die Anglikaanse kerk aan Britse imperialisme. Biskop Colenso van Natal was bepaald ’n uitsondering op hierdie reël …

Een van die ironieë van die Ierse-Boere samewerking wentel juis om die geloofskwessie. Die feit dat die meeste Iere stoere Katolieke was en die meeste Boere ewe stoere Calviniste het nie verhinder dat die twee volkere mekaar bewonder het nie. Beide het immers ’n sterk landboukundige inslag gehad met ’n voorkeur vir tradisionele Christelike waardes. ’n Verdere ironie wat hiermee verband hou, is dat meeste van die Iere wat aan die Britse kant in die ABO geveg het, Protestante vanuit Noord-Ierland was. Dus het Katolieke Iere nie gehuiwer om Calvinistiese Boere, wat beveg is deur oorwegend Protestantse Britte en Iere, te help nie. Praat van godsdienspluralisme!

Tot die Bitter Einde

In die laaste jaar van die oorlog het ’n diep meegevoel met die Boere se lyding in veral landelike Ierland posgevat. Genl. Horatio Herbert Kitchener se misdadige beleid van verskroeide aarde en die konsentrasiekampe vir vrouens en kinders, het woede en meer simpatie in Ierland ontlok. Toe die kwessie van die afbrand van plaashuise en die konsentrasiekampe in die Britse parlement geopper is, het die Ierse lede driftig teen die Britse oorlogsbeleid te velde getrek. John Dillon het reeds in Februarie 1901 verklaar dat die aanhouding van vrouens en kinders in konsentrasiekampe sonder weerga in die moderne tydvak was.

Enkele maande later het Dillon in die parlement verklaar dat veldmaarskalk genl. Frederick Sleigh (Bobs) Roberts die oorlog in Suid-Afrika met die grootste onmenslikheid bedryf het, toe die opposisie teen die toekenning van ’n beloning van £100 000 aan die Britse “krygsheld” gestem het. Dillon se kollega Swift MacNeill het die kritiek op Roberts beaam deur te verklaar dat hy die oorlog met die maksimum wreedheid en die minimum menslikheid aangevoer het. Op sy beurt het Willie Redmond, broer van die nasionalistiese partyleier John Redmond, later ’n mosie ingedien dat Kitchener se moorddadige praktyke in die naam van God en ter wille van die Christendom afgeskaf word, maar dit is deur die Konserwatiewe meerderheid en meeste van die Liberale opposisie uitgestem. Ná die sluiting van die Vrede van Vereeniging was die Ierse lede die enigstes wat gestem het teen ’n mosie waarin die Britse leër vir hul veldtog in Suid-Afrika bedank word.

Die nuwe geslag Boereleiers soos generaals De Wet, De la Rey en Botha het Ierse volkshelde geword. Pro-Boer vergaderings is op die platteland gehou, en klubs vernoem na MacBride, Joubert, De Wet en Kruger is in sommige dorpe gestig. Toe nuus van die Vrede van Vereeniging Ierland bereik, is dit allerweë as ’n morele oorwinning vir die Boere gesien. ’n Boerevlag is terstond van die stadsaal in Kilkenny gewaai. En in Armagh in die noorde het Michael Davitt ’n week later ’n gedenksteen ter ere van die gesneuwelde Ierse brigadelid Hugh Carberry onthul. Dit word as die laaste van die Ierse pro-Boer betogings beskou.

Met die Europese besoek van die Boereleiers Botha, De la Rey, De Wet, Kruger, Reitz en Steyn kort na die oorlog, het Michael Davitt ontmoetings met verskeie Ierse politici gereël. Dit het die stadsraad van Limerick gemotiveer om die vryheid van die stad toe te ken aan president MT Steyn en generaals Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet.

Die politieke erflating

’n Belangrike nasleep van die ABO was die verhoging in politieke bewussyn wat in Ierse nasionalistiese kringe plaasgevind het. Só het die “Gaelic League” se getal takke tydens die oorlogsjare gestyg van 107 tot bykans 400. Voorts het die Ierse standpunt oor die oorlog regstreeks daartoe bygedra dat die parlementêre party wat sedert Parnell se dood in tweespalt verkeer het, vroeg in 1900 herenig is. Vir die volgende twee jaar sou die nasionalistiese parlementslede verenig wees in hul teenkanting jeens Brittanje se oorlog in Suid-Afrika. Dit was vir meeste van die Ierse nasionaliste ’n gewetensaak, in so ’n mate dat hulle nie bereid was om die Boere se onafhanklikheid op te offer ter wille van die moontlikheid van selfregering vir hul eie land nie.

Die morele standvastigheid van die nasionalistiese parlementslede het daartoe gelei dat die kwessie van Ierse selfregering deur hul Britse heersers op die agtergrond geskuif is. Eers in 1910, toe die Iere die magsbalans in Westminster gehou het, het selfregering weer deel van die Liberale regering se agenda geword. Intussen het die buiteparlementêre nasionaliste heelwat veld gewen en sou hul voortaan beide hul parlementêre kollegas en die Britse owerheid die stryd aansê.

Vir die Ierse pro-Boere buite die partypolitiek sou die lesse van die ABO van onskatbare waarde wees in hul voortgesette stryd teen Britse oorheersing. In die eerste jare na die oorlog was Arthur Griffith die invloedrykste van hierdie nasionaliste. Hy het reeds in September 1900, slegs ’n jaar na die stigting van die Ierse Transvaalse Komitee, die “Cumann na Gaedheal” gestig met die komiteelede as kern. Sy doel was om soveel as moontlik Ierse nasionalistiese groepe op alle lewensterreine te verenig. Hulle het nie-gewelddadige aktiwiteite beklemtoon, want Griffith het op grond van die Boere se ervaring gereken dat gewapende opstand teen imperiale Brittanje op die lange duur vrugteloos was. Gevolglik het hy nie aan die 1916-opstand deelgeneem nie.

Griffith se vereniging het in 1905 die meer bekende Sinn Fein (“Ons Eie”) geword, steeds met die voormalige Dublin-komitee as leiersfigure. Dit is in die lig van Griffith se ervaring in Suid-Afrika nie verbasend dat Sinn Fein vanuit die staanspoor verkies het om ’n politieke in plaas van militêre stryd teen die Britte te voer nie. Griffith is verder geïnspireer deur die Boererepublieke se beleid van ekonomiese selfstandigheid, wat insgelyks deel van Sinn Fein se program geword het. Oor die jare heen het Sinn Fein en die Ierse Republikeinse Leër wel begin om saam te werk, tot so ’n mate dat die IRL mettertyd as die gewapende vleuel van Sinn Fein beskou is en Sinn Fein as die politieke vleuel van die IRL.

Selfs in die geval van die mislukte 1916-opstand in Ierland was daar ’n verbintenis met die ABO. Drie van die rebelleleiers wat deur die Britte tereggestel is, was prominente pro-Boere: John MacBride, Tom Clarke en James Connolly. Op ’n onverklaarbare wyse het ’n aantal Boeregewere in die hande van die opstandelinge in Dublin beland. MacBride het op ’n manmoedige wyse voor ’n vuurpeleton gesterf. Vanaf Suid-Afrikaanse kant het premier Louis Botha ná die rebellie in ’n brief aan die nasionalistiese leier John Redmond die hoop uitgespreek dat die Iere sal voortgaan om hom (Botha) te ondersteun.

Toe die finale Ierse vryheidsoorlog teen die Britte in 1918/19 uitbreek, is guerilla-taktieke met groot sukses deur die IRL ingespan. Republikeinse bevelvoerders soos Dan Breen, Michael Collins en Liam Mellows is geïnspireer deur die Boere en hul krygsmetodes. Met die totstandkoming van die Ierse Vrystaat in 1922 het Collins aan genl. De Wet geskryf en hom van sy opregte groete verseker. Beide leiers het gemeen dat aanvaarding van die Anglo-Ierse verdrag van 1921 aan die Iere die geleentheid sou bied om hulself te organiseer en mettertyd volle onafhanklikheid van Brittanje te bekom. Die geskiedenis sou hul oordeel as korrek bewys.

Op 17 Maart is die Ierse Christelike fees, Sint Patrick's Day (Lá Fhéile Pádriag) op Orania in die Groot Karoo herdenk by die heropgerigte Ierse monument vir die Ierse vrywilliger-vryheidstryders wat saam met die Boere geveg het. Die suile van die monument is vir die herdenkingsgeleentheid in groen linte getooi. Groen is die nasionale kleur van Ierland, soos die groen drieblaar-klawer (shamrock) die Ierse simbool vir die Christendom en vryheid is.

Op 17 Maart is die Ierse Christelike fees, Sint Patrick’s Day (Lá Fhéile Pádriag) op Orania in die Groot Karoo herdenk by die heropgerigte Ierse monument vir die Ierse vrywilliger-vryheidstryders wat saam met die Boere geveg het. Die suile van die monument is vir die herdenkingsgeleentheid in groen linte getooi. Groen is die nasionale kleur van Ierland, soos die groen drieblaar-klawer (shamrock) die Ierse simbool vir die Christendom en vryheid is.

Dit is algemeen bekend dat die Boeregeneraals Louis Botha en Jan Smuts na afloop van die ABO getroue dienaars van die Britse ryk geword het. Botha was die Unie-premier toe die land in 1914 die Eerste Wêreldoorlog aan die Britse kant betree het, wat direk tot die tragiese Boere-rebellie van daardie jaar sou lei. Op sy beurt was Smuts die Unie-premier met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939, en het hy insgelyks gesorg dat SA bykans dadelik aan die Britse kant begin veg. Wat minder bekend is, is dat Smuts ook ’n rol in die Iere se verwerwing van selfregering gespeel het. Kort nadat hy in Junie 1920 ’n Imperiale konferensie in Londen bygewoon het, het Smuts onder die skuilnaam, Mr Smith, na Ierland gereis, waar hy gesprekke met nasionalistiese leiers soos Arthur Griffith, Éamon de Valera en Erskine Childers gevoer het. Die voormalige Boere-offisier het bygedra om ’n wapenstilstand tussen die Iere en die Britte te bemiddel, en om die Iere te oorreed om selfregering as ’n Britse dominium te aanvaar.

Stellig die laaste nadraai binne Suid-Afrika van die merkwardige band tussen die Iere en die Boere was die Irish Republican Association (South Africa), wat van 1920 tot 1922 bestaan het. Gereelde vergaderings is deur die IRA (SA) se 25 takke gehou, en ’n eie koerant, The Republic, is met welslae uitgegee. Met die verwesenliking van Ierse selfregering het die beweging tot ’n einde gekom.

Op die internasionale terrein het noue samewerking tussen die nuwe Ierse regering en die SA regering van premier J.B.M. Hertzog plaasgevind. Beide regerings was kampvegters vir volle onafhanklikheid van die Britse kroon, ’n ideaal wat in 1931 met die Statuut van Westminster verwesenlik is. In 1935 is ’n eregraad deur die Nasionale Universiteit van Ierland aan Hertzog toegeken – ’n gepaste huldeblyk aan ’n groot Boereleier en staatsman.

Naskrif

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het die Ierse nasionalis Patrick Pearse, ’n held van die komende 1916-opstand, geskryf dat ’n reguit lyn getrek kan word tussen die velde van Suid-Afrika en die strate van Dublin, as simbole van twee volkere se vryheidstryd teen imperiale Brittanje. Dit was immers die Boere wat die ondergang van die Britse ryk ingelui het, het die gevierde skrywer James Joyce in sy roman Ulysses geskryf. Wat ’n jammerte is dit nie dat hierdie eertydse besonderse band tussen die Iere en die Boere/Afrikaners weens politieke gebeure in Suid-Afrika later in die twintigste eeu grotendeels verbrokkel het.

Lesers wat belangstel in die Ierse vryheidstryd van die vroeg Twintigste Eeu teen Britse imperialisme word verwys na die Engelse regisseur Ken Loach se aangrypende rolprent The Wind that Shakes the Barley. Daarin word die heldhaftige Ierse verset teen Britse onderdrukking en brutaliteit ná die Eerste Wêreldoorlog, asook die tragiese burgeroorlog wat op die verwerwing van Ierse selfregering in 1922 gevolg het, op ’n realistiese wyse uitgebeeld. Die rolprent is in 2006 met ’n Goue Palm by die Cannes Filmfees bekroon.

Belfast, Noord-Ierland 2006

(Hersien 2011 & 2016)

 

Bronne

S.M. Goodson. General Jan Christian Smuts: The Debunking of a Myth. Pretoria: Bienedell Publishers, 2012.

Emanoel Lee. To the Bitter End. A Photographic History of the Boer War 1899-1902. London: Guild Publishing, 1985.

Donal McCracken. Forgotten Protest. Ireland and the Anglo-Boer War. Belfast: Ulster Historical Foundation, 2003.

S.B. Spies. Methods of Barbarism? Roberts, Kitchener and Civilians in the Boer Republics: January 1900 – May 1902. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers, 2001.