Orania vereer Ierse vryheidstryders met herwonne monument

Deur MARTHINUS VAN BART

Op 17 Maart het die Afrikaner-gemeenskap van Orania in die Groot Karoo op die Ierse Christelike feesdag van Sint Patrick hulde gebring aan die Ierse vrywilliger-vryheidstryders wat gedurende die Anglo-Boereoorlog sy aan sy met die Boere teen die oorweldigende leërmag van die hebsugtige, imperiale Brittanje vir die vryheid van die Boererepublieke van Transvaal en die Oranje Vrijstaat geveg het.

Op 17 Maart is die Ierse Christelike fees, Sint Patrick's Day (Lá Fhéile Pádriag) op Orania in die Groot Karoo herdenk by die heropgerigte Ierse monument vir die Ierse vrywilliger-vryheidstryders wat saam met die Boere geveg het. Die suile van die monument is vir die herdenkingsgeleentheid in groen linte getooi. Groen is die nasionale kleur van Ierland, soos die groen drieblaar-klawer (shamrock) die Ierse simbool vir die Christendom en vryheid is.

Op 17 Maart is die Ierse Christelike fees, Sint Patrick’s Day (Lá Fhéile Pádriag) op Orania in die Groot Karoo herdenk by die heropgerigte Ierse monument vir die Ierse vrywilliger-vryheidstryders wat saam met die Boere geveg het. Die suile van die monument is vir die herdenkingsgeleentheid in groen linte getooi. Groen is die nasionale kleur van Ierland, soos die groen drieblaar-klawer (shamrock) die Ierse simbool vir die Christendom en vryheid is.

Talle van hierdie Iere het hul lewe vir die Boere-saak opgeoffer, en hul onbaatsugtige heldedade het ’n merkwaardige rimpelingseffek op die geskiedenis van Ierland self veroorsaak.

3. ST PATRICK

Hierdie uitbeelding in gekleurde glas is van Sint Patrick, die Ierse beskermheilige van Ierland. Sedert die vroeë 1600’s word Sint Patrick’s Day elke jaar op 17 Maart gevier. Hierdie Christelike herdenkingsdag word op Orania by die monument vir die Ierse vryheidstryders van die Anglo-Boereoorlog gevier. In sy regterhand hou hy die simboliese groen klawer (shamrock).

Die jaar 2016 is ’n besonderse feesjaar vir Orania, want die gemeenskap is nou reeds 25 jaar daar gevestig. Wat in die kwarteeu bereik is, strek tot eer van die Afrikaner as ondernemende, hardwerkende volk met werkbare vryheidsideale. En die hulde wat daar by die herwonne Ierse monument aan die Ierse helde van die Anglo-Boereoorlog gebring is, vorm deel van die gemeenskapskarakter van Orania.

Ook die redding en die heroprigting van die Ierse monument in 2002 is ’n heldedaad in eie reg. Dit is, soos die verhaal van die Ierse vrywilligerstryders in die Boererepublieke, ’n aangrypende sage in die geskiedenis van Orania en die Afrikaner.

Orania, die unieke, landelike gemeenskap aan die oewer van die Oranjerivier in die Groot Karoo, het in 1967 ontstaan toe ’n kamp vir die bouers van die Vanderkloof-kanale van die Oranjerivier-ontwikkelingsprojek en Vanderkloof-dam opgerig is. Toe die waterprojek na 20 jaar voltooi is, het die ingenieurs en werkers padgegee. In 1991 het prof. Carel Boshoff, skoonseun van dr. HF Verwoerd,  die Orania-organisasie gestig wat deur die sakeonderneming Vlugtjieskraal Aandeleblok Beperk die grond gekoop en ontwikkel het tot selfstandige woongebied vir Afrikaners.

Jaco Kleynhans, woordvoerder van Orania, sê deur harde werk met eie Afrikaner-arbeid en met slegs eie kapitaal is hierdie eens afgeleë, verwaarloosde kamp vir konstruksiewerkers omskep in ’n groeiende, selfstandige gemeenskap van meer as 1300 mense wat daar woon, werk en leef. Meer as 100 kleinsake-ondernemings bestaan in Orania, meer as 300 kinders ontvang hier Eerste Wêreldse gehalte onderrig en die Orania-dorpsraad se begroting het van net meer as R1 miljoen in 2001 tot meer as R27 miljoen in 2015 gegroei.

Ierse Monument byna vernietig

Die monument wat in 1975 op die kruin van Brixton-koppie onder die Hertzog-uitsaaitoring in Johannesburg opgerig is ter ere van die Ierse vryheidsvegters wat in die Anglo-Boereoorlog aan Boere-kant geveg het, is in Junie 2002 gered net voordat dit deur stootskrapers van ’n ontwikkelaar verwoes is.

Die Ierse monument is op Brixton-koppie onder die Hertzog-toring opgerig.

Die Ierse monument is op Brixton-koppie onder die Hertzog-toring opgerig.

Mnr. Sebastian Biehl, ’n voormalige inwoner van Brixton en deesdae navorser en toergids van die Orania Beweging, het indertyd verneem dat die monumentperseel aan ’n ontwikkelaar verkoop is en dat die monument deur sloping bedreig word. Hy het dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront, daarvan in kennis gestel. Dr. Mulder het dadelik tot aksie oorgegaan en die monument is net betyds van vernietiging gered. Orania het hiervan verneem, en aangebied om ’n plek op die dorp vir die monument in te ruim. Orania se argitek, Christiaan van Zyl, het die beplanning vir die oorplasing gedoen en toegesien dat dit heropgerig word.

Een van die inwoners van Orania, mev. Betsie Verwoerd, het die monument op 1 November 1975 as premiersvrou onthul. Sy was die eggenote van die premier, dr. HF Verwoerd.

Die Johannesburgse stadsraad het twintig jaar later stil-stil die grond aan die ontwikkelaar verkoop, en hy was van plan om ’n gebou van drie verdiepings in die plek van die monument op te rig. Die koste van die aftakeling en verskuiwing van die monument in 2002 na Orania het R20 000 gekos, wat deur die Vryheidsfront betaal is.

Die monument is in 1973 deur die argiteksfirma Jan van Wijk en Vennote ontwerp en op die perseel reg onder die Hertzog-uitsaaitoring (genoem na dr. Albert Hertzog, destydse Minister van Uitsaaiwese en Telekommunikasie) opgerig. Die Ierse monument bestaan wesenlik uit vier betonsuile wat verskillende fasette van die Ierse vryheidstryderskarakter versimboliseer.

Ondemokratiese stadsraadsbesluit

Die perseel, wat in 1975 aan sorg van die Johannesburgse stadsraad toevertrou is nadat hy plegtig onderneem het om die terrein in stand te hou en te beveilig, is in 1996, in verbreking van die raad se onderneming, aan die ontwikkelaar, Vic Scott, verkoop. Hy het beplan om die monument te sloop en die erf  te ontwikkel. Sy houding was dat as die nuwe regering nie meer omgee “vir die sentimente van die verlede” nie, so waarom moet hy. “Ek is nie ongevoelig nie, maar niemand hou meer die plek in stand nie en dis nou net ’n vullishoop en ’n openbare toilet,” het hy indertyd aan die media gesê.

Die stadsraad, oorwegend Engelssprekende raadslede, het ondemokraties en onwettig die monumentterrein van ’n erfenisterrein na ’n kommersiële terrein gehersoneer, en ’n slopingspermit aan die ontwikkelaar toegestaan. Hierdie stap was nie net onwettig nie, maar is allerweë beskou as een wat in kwader trou en onverdraagsaamheid geneem is. Boonop is die Ierse en Afrikaanse gemeenskappe nie in die saak geken nie, en is hulle dus gruwelik beledig en te na gekom.

Die Ierse monument is afgetakel en na Orania vervoer.

Die Ierse monument is afgetakel en na Orania vervoer.

Die SA Erfenishulpbronagentskap, die enigste statutêre liggaam wat luidens die land se bewaringswetgewing toesig oor Suid-Afrika se erfenis moet hou, het geen vinger verroer om die stadsraad se hersonering en sy instemming tot die sloping van die monument ingevolge bestaande bewaringswetgewing te voorkom nie. Die liggaam het ook geen geldelike of kundige bydrae gelewer om die monument af te takel en na Orania te verskuif vir heroprigting nie. Luidens die Ouditeursverslae van die afgelope paar jaar, wat jaarliks voor die Parlement dien,  is die organisasie chronies weens wanbestuur, geldverduistering en binnegevegte tussen amptenare bankrot, korrup en disfunksioneel. ’n Senior advokaat wat die agentskap se raad van regsadvies bedien het, het uit protes teen hierdie toedrag van sake bedank.

Argitek Jan van Wijk verduidelik die simboliek van die monument

In die FAK se pragboek oor die monumente in Suid-Afrika wat vir die Afrikanergemeenskap van betekenis is, Afrikanerbakens, uitgegee in 1989 en tans uit druk, verskyn ’n insiggewende artikel deur die argitek van die Ierse monument, Jan van Wijk. Hierin verduidelik hy die ontwerpsmotivering vir en die simboliese aard van die monument soos volg:

In die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 het tussen 400 en 500 Iere hulle met die Boerestryd om vryheid en reg vereenselwig. ’n Komitee van Randse Iere onder leiding van John McBride is op die been gebring met die doel om ’n Ierse Brigade saam te stel om die Boere op die slagveld in hul stryd teen Brittanje by te staan. Aangesien verskeie van hierdie Iere afkomstig van Ierland en Australië was, was hulle Britse onderdane. Hulle sou deur die Britse militêre as rebelle doodgeskiet word indien hulle krygsgevange geneem word. Pres. Paul Kruger van die ZAR het dus twee versoeke van hulle om ’n gevegseenheid te vorm, van die hand gewys. Hulle het egter nie moed opgegee nie. Met die derde versoek het Kruger toegegee, en ’n spesiale wet is deur die Volksraad geloods wat Transvaalse burgerregte aan hierdie Iere toegeken het.

Amerikaanse Iere wat in die Anglo-Boereoorlog saam met die Boere geveg het.

Amerikaanse Iere wat in die Anglo-Boereoorlog saam met die Boere geveg het.

Een kommando van sowat 300 man het onder bevel van ’n Amerikaanse Ier van Pretoria, kol. John Blake, gestaan. Hulle het aan die Natalse front diens verrig en hulle onderskei in die Slag van Nicholsonsnek, asook in die Slag van Colenso. ’n Tweede kommando, onder bevel van die Australiese Ier Arthur Lynch, met sowat 20 Iere in die geledere, het diens verrig in gevegte teen die Britse leër by Ladysmith en Glencoe. ’n Groep van sowat 50 Amerikaanse Iere onder kapt. O’Connor is as ’n ambulanseenheid deur die Clan-na-Gael van Amerika na Transvaal gestuur. Slegs tien was opgeleide ambulansmanne. Na afloop van die groot veldslae (die konvensionele fase van die oorlog) is die Iere onder verskeie Boerekommando’s ingedeel en het hulle enduit aan die stryd deelgeneem.

Ten einde hulde te bring aan hierdie moedige manne is ’n Ierse Kommando-gedenkfonds (Ciste ar son Briogaid na Gael) in 1952 gestig. Verskeie vooraanstaande Iere en Afrikaners het in dié komitee gedien.

Die geldinsameling het 25 jaar geduur. In 1973 is opdrag aan die argiteksfirma Jan van Wijk en Vennote gegee om ’n gedenkteken te ontwerp. Die terrein is aan die noord-oostekant van die Hertzog-toring in Brixton, Johannesburg, gekies. Dit is van die SAUK vir ’n perseel in Cottesloe verruil.

Die sleutelwoorde wat die argitek gebruik het by die beplanning van die monument, was: “Die Iere het saam met die Boere geveg vir vryheid.” Verder is twee elemente wat prominent in die Ierse vroeë monumentbou gebruik is, in ag geneem: die grondwal (of berm), wat sirkelvormig ’n laer of bastion vorm en beskerming bied, en staanstene, wat historiese plekke en gebeurtenisse aandui.

By die onthulling op 1 November 1975 van die Ierse monument vir die vryheidstryders wat sy aan sy met die Boere teen die Britte in die Anglo-Boereoorlog geveg het, het die destydse premiersvrou, mev. Betsie Verwoerd, gesê: “Met die oprigting van hierdie monument is ʼn lang uitstaande ereskuld teenoor die Iere deur die Afrikaners en hul vriende van Ierse afkoms, vereffen . . .” Foto: FAK Afrikanerbakens

By die onthulling op 1 November 1975 van die Ierse monument vir die vryheidstryders wat sy aan sy met die Boere teen die Britte in die Anglo-Boereoorlog geveg het, het die destydse premiersvrou, mev. Betsie Verwoerd, gesê: “Met die oprigting van hierdie monument is ʼn lang uitstaande ereskuld teenoor die Iere deur die Afrikaners en hul vriende van Ierse afkoms, vereffen . . .” Foto: FAK Afrikanerbakens

Dié twee elemente is soos volg in die ontwerp toegepas: Soos met die Voortrekkers se walaers en volgens die Ierse gebruik is ’n sirkelvormige grondwal van 22 m in deursnee gebou wat die monument omsoom. Die wal, as deel van die tuinuitleg, word met gras bedek en het aan die westekant ’n opening wat dien as ingang na die binneruim. Op ’n ronde podium in die middel van die binneruim is vier gehamerde staanstene van beton in ’n sirkel gerangskik. Hulle is links om van klein tot groot geplaas. Die eerste drie ondersteun mekaar in ’n opwaarts strewende beweging, van klein en skuins tot groot en meer regop – simbolies van die Ierse Brigade of die Boere-kommando’s. Aan die einde van hierdie “strewe” en in dieselfde vloeiende sirkellyn, staan die vierde steen fier en regop: die simbool van vryheid. Die besoeker se oog volg hierdie opwaartse lyn en rus dan uiteindelik op die hoofelement. Die staanstene is 900 mm in deursnee en die hoogste is 3,5 m.

Die boukoste het indertyd R25 000 beloop, en die bou-aannemer was Stocks Construction (Rand).

By die onthulling van die monument op 1 November 1975 het die indertydse premiersvrou, mev. Betsie Verwoerd, onder meer gesê: “Met die oprigting van hierdie monument is ’n lang uitstaande ereskuld teenoor die Iere deur die Afrikaners en hul vriende van Ierse afkoms, vereffen …”

By die ingang na die binneruim is die volgende inskripsie in Iers en in Afrikaans teenoor ’n afbeelding van die tradisionele Ierse harp, ’n nasionale volkssimbool, aangebring: Opgerig ter nagedagtenis van die Iere wat vir die Boerenasie geveg het in sy tyd van nood, 1899–1902. Mag hul offers vir vryheid en reg ’n ewige band smee tussen die Ierse volk en die Boerenasie, en mag dié monument ’n simbool daarvan wees.

Jan van Wijk was ook die ontwerper en oprigter van die Afrikaanse Taalmonument teen die hang van die Paarlberg by Wellington. ’n Boek oor daardie monument, Taalmonument – Jan van Wijk, het onlangs by Historical Media verskyn. Dit word deur die Taalmuseum van die Paarl versprei.

* Lees ook die artikel elders in KultuurKroniek van die historikus dr. Wynand de Beer oor die historiese en kulturele band tussen die Afrikaners en die Iere van 1880 tot 1935. Hy bespreek ook die rimpelingseffek wat die Ierse vryheidstryders se onbaatsugtige hulp aan die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog in Ierland en elders tot gevolg gehad het. 

 

Comments are closed.