FAK
Chris Lamprecht (88) is op 19 Mei 2016 in Stellenbosch, tydens die jaarlikse Andrew Murray-prysfonds-geleentheid, vereer met die eerste Andrew Murray-FAK-toekenning vir die bevordering van Christelike musiek.
Volgens dr. Danie Langner wil die FAK met die toekenning nie net erkenning gee aan die Murray-familie se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaanse Christelike musiek sedert 1860 nie, maar wil ook erkenning gee aan die rol wat kerkmusici speel om op die trotse tradisie voort te bou. “Chris Lamprecht het oor ’n tydperk van veertig jaar ’n ontsaglike groot skat van gewyde musiek tot die Afrikaanse musiekerfenis toegevoeg as orrelis, koorleier, komponis en verwerker van Afrikaanse koormusiek. Daarby het hy etlike honderde tradisionele Afrikaanse liedjies verwerk waarvan talle in die 1979- en 2012-FAK Sangbundels opgeneem is.”
Tydens die herlewingsdienste van 1860, met dr. Andrew Murray aan die spits, verskyn daar ’n liederbundel “Die Kinderharp”. Dit was die voorloper van die eerste Hallelujaboek wat in 1903 uitgegee is deur ds. Charles Murray (jonger broer van dr. Andrew) – op daardie stadium nog met Nederlandse teks. Amper 30 jaar later verskyn die Nuwe Halleluja in 1931 deur ds. AC Murray, nou in gevestigde Afrikaans.