Vroegoggend en -aand kan mens voel die winter begin nader kruip.  Hallo serpe en jasse! Totsiens swemklere en sandale. Maar hoe gemaak as die winterkoue in ons harte byt?  Byt ons terug, trek ons warm aan of nooi ons hom uit om ons op te vreet? Elkeen van ons het ander plante in ons tuin en so ook het die spreekwoordelike winter ’n unieke saamgestelde invloed op elke individu. Ander kere verwoes die winter ons hele oes en is dit moeilik om weer op te staan daarna.

Hoe lyk die tande van die “hartswinter”?  Daardie bekende byt van teleurstelling, verraad of venyn … verlies, vertrouensbreuk of selfs ’n oormaat verantwoordelikhede. As vroue moet ons die voorsieners van liefde, bemoediging en versorging kan wees, maar hoe gemaak as ons dit self nodig het? Soms kan ons net ’n serp of jas omhang en ons is reg, maar soms hou ’n vuurtjie nie eers  hierdie soort koue weg nie. Daar is wel ’n hoop waaraan ons kan vashou en is dit die feit dat seisoene bly verander. Die groot vraag is nou … al skyn die sonnetjie maar flou, gaan jy oorgee aan die winterkou of gaan jy enduit deurdruk tot die lente?