Die Voortrekkers is op 30 September 2016 85 jaar jonk. Die tema van die feesjaar is “Trap Nuwe Spore”. As deel van die verjaardagviering het Die Voortrekkers feeste georganiseer regoor Suid-Afrika en Namibië.
Die feesjaar is begin met ’n kamp te Kerkenberg waar ons historiese voetspore bevestig is met ’n tog af teen die Drakensberg met meer as 400 kinders en vier ossewaens. As deel van die tog is twee monumente onthul, een aan die begin van die tog ter viering van die tog en die feesjaar op die terrein van die Kaalvoetvrou-beeld en die tweede een by die ATKV Drakensville-vakansieoord. By die tweede monument is ook 85 inheemse bome geplant.
Verskeie feeste is hierna gehou te Kimberley, George, Swakopmund, Paarl, Heilbron, Bloemfontein, Vryheid, Pretoria en Port Elizabeth. Die feeste is gehou by Afrikanerbakens in die dorpe of omgewing soos die Nasionale Vrouemonument, Taalmonument, Voortrekkermonument, Vegkop en Bloedrivier. Jak de Priester, die bekende sanger, het ook ’n spesiale lied vir die feesjaar geskryf, genaamd “Sporelied”. Met die feeste en die feeslied is verskeie nuwe spore getrap.
Op 18 en 25 September 2016 is ’n dokumentêr oor Die Voortrekkers uitgesaai op DSTV se kykNET-kanaal, waartydens Die Voortrekkers se bestaansspore bevestig is in Suid-Afrika en Namibië.
Die feesjaar is afgesluit met twee spesiale geleenthede. Eerstens is die Voortrekkerkind-beeld onthul aan die voet van die Voortrekkermonument om erkenning te gee aan duisende spore wat kinders getrap het oor meer as 85 jaar sedert die beplanning vir die stigting van Die Voortrekkers begin het.
’n Erediens is in die Voortrekkermonument gehou op 25 September 2016 waartydens ons Christelike spore van dankbaarheid bevestig is. Tydens dié geleentheid het meer as 4000 feesgangers onder andere die “Onse Vader” gesing en dank betuig vir die voorsiende hand van God Drie-enig, in die afgelope 85 jaar.
Die Voortrekkers is ’n tuiste vir Afrikanerkinders waarbinne hulle hulleself as dienende leiers kan uitleef as moderne Afrikaners, positiewe burgers en konsekwente Christene.