Pretoria FM sprei sy vlerke via DStv na Namibië
Pretoria FM het op 20 September 2016 ’n nuwe mylpaal bereik. Uitsendings van hierdie gewilde Afrikaanse radiostasie word via DStv se audio platform herlei na Namibië. Die radiostasie is beskikbaar op DStv kanaal 887.
Mnr. Roger Gertze, Algemene Bestuurder van MultiChoice Namibia het aangevoer dat die uitbreiding van Pretoria FM se uitsendings na Namibië beteken dat Afrikaanssprekende gemeenskappe regoor Namibië nou meer toegang tot Afrikaanse inhoud sal hê. “MultiChoice Namibië se visie is om Namibiërs se lewens te verryk. Een van ons kerndoelwitte is om te verseker dat DStv-intekenare se kykervaringe aanhoudend verbeter word deur inhoud te verskaf waarmee hulle kan assosieer. Ons glo dat DStv-intekenare hierdie Afrikaanse byvoeging tot die DStv-audio platform sal benut.”
Willie Spies, Besturende Direkteur van Pretoria FM meen die radiostasie is baie meer as ’n gemeenskapsradiodiens: “Die uitbreiding van Pretoria FM se voetspoor na via die DStv-platform is ’n besondere mylpaal en ’n hoogtepunt op die radiostasie se pad na die verwesenliking van die visie om ’n wêreldwye radiodiens in Afrikaans te lewer. Ons fokus daarop om ’n onafhanklike Afrikaanse radiodiens met hoë gehalte nuus, aktualiteit en luistergenot te bied aan Afrikaanse luisteraars wêreldwyd.”
Afgesien van Pretoria FM se uitsendings op DStv se audio platform, saai die stasie ook op FM uit vanaf nege geaffilieerde senders oor vyf provinsies in Suid-Afrika en word die stasie se internetuitsendings daagliks deur meer as 20 000 unieke luisteraars wêreldwyd gevolg.
Vir meer inligting, besoek www.dstv.com en www.pretoriafm.co.za.