DIE DAMESKRINGBERAAD
7 – 9 OKTOBER 2016
BLOEMFONTEIN
Jesaja 6:8: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Toe antwoord Jesaja: “Hier is ek, stuur my.”
Hierdie vers wat 49 jaar gelede vir tannie Martella Pretorius geïnspireer het om Die Dameskring te stig, het weerklank gevind in ’n handvol Dameskring-dames se harte en hulle gedring om die tweejaarlikse Dameskringberaad te Oranje Meisieskool, in Bloemfontein, vanaf 7–9 Oktober by te woon.
Vanuit die staanspoor het die borrelende en aansteeklike entoesiasme van die 141 dames wat die Beraad bygewoon het, deurgesuur na die skitterende gaskunstenaars en motiverende sprekers wat vir elkeen bemagtigende sielskos gebied het.
Die innerlike is natuurlik met etes uit die boonste rakke versterk!
Vrydagoggend het afgeskop met ’n glansontbyt by die RESERVOIR/OLIEWENHUIS waar Anton Esterhuyse op klavier en Richard Reid op viool ons vermaak het met ’n armvol “Golden Oldies”!
Die amptelike opening van die Beraad is daarna deur die President van Die Dameskring, Marda Oosthuysen, hanteer.
Die hooftema was: Vroue vir Nou! Elke gasspreker het hierdie baie besonderse tema elkeen op hulle eie unieke wyse hanteer.
Igno van Niekerk, ’n baie bekende fotograaf, het die gesin EN die uiters belangrike rol van die vrou as moeder deur sy kameralens bekyk.
Nico van Niekerk, ’n welbekende sakeman, het gesorg vir ’n insiggewende gesprek waarin hy pertinent die boodskap gegee het dat God die Skepper van sake-ondernemings is en dat wanneer finansiële sake se bestuur aan Hom opgedra word, floreer dit bonatuurlik!
Al die lede kon in dertien groepe, gefasiliteer deur die Uitvoerende Bestuurslede, aan lewendige groepbesprekings deelneem.
Dr. Danie Langner het sy gedagtes oor geborgenheid in die gesin, veral ’n gesin wat God as ons Vader en Vaste Burg eer, met soveel aardskuddende passie en oortuiging met almal gedeel. Wat hy aan ons oorgedra het, het ewigheidswaarde en kan enige lewenstoets deurstaan …
Die Saterdag se verrigtinge is afgesluit met ’n roerende besoek aan die Nasionale Vrouemonument waar die DK President ’n krans namens al die teenwoordiges gelê het. Dit is afgerond met ’n besigtigingstoer deur die Oorlogsmuseum.
In Universitas se NG-Kerk is die nuwe UB-lede vir die volgende twee jaar op gepaste wyse ingestel en word die Beraad afgesluit met die President se Presidentsrede.