Wikipedia: Doen jou deel vir Afrikaans
Daar is soveel dinge wat ʼn mens kan doen om Afrikaans te help bevorder, maak nie saak hoe groot of klein die bydrae is nie. Om betrokke te raak by die Afrikaanse Wikipedia-projek is ook ʼn manier om jou deel vir Afrikaans te doen.
Dis juis om dié rede dat Maroela Media ʼn projek op die been gebring het om nóg mense aan te moedig om deel te raak van hierdie Afrikaanse gemeenskap. Afrikaanse Wikipedia het vanjaar sy 15de bestaansjaar gevier en volgens die blad is daar reeds 42 711 artikels in Afrikaans.
Einde verlede jaar het Maroela Media saam met Unisa gratis opleiding aan vakkundiges begin gee om hulle te help om kennis op Wikipedia te deel. Ouddosente, onderwysers en selfs buitelanders het begin skryf en vertaal aan artikels.
In ʼn vorige artikel op Maroela sê Sören Pfauder van Brandenburg, ʼn Duitser wat passievol is oor Afrikaans, dat hy homself dié taal geleer praat het, hoofsaaklik deur sy betrokkenheid by die Afrikaanse Wikipedia.
“Ek sal bly skryf en bydraes lewer omdat dit vir my lekker is. Wat ʼn mooi taal is Afrikaans tog!”
Keren van den Berg, projekbestuurder by Maroela Media, sê die projek is sover ʼn dawerende sukses.
“Ons wou net hê Afrikaanse Wikipedia moes groei, maar die aantal mense wat betrokke geraak het, was vir ons oorweldigend. Mense het hulle hart oopgemaak en inligting gratis gegee. Dit was definitief ʼn groot sukses.”
Hierdie webblad is ook ʼn heerlike bron van inligting, veral vir skoolkinders wat aan take moet werk. Op die tuisblad is daar nie net interessante inligting en nuusgebeure nie, maar ook verskeie kategorieë om jou soektog te vergemaklik.
Interessante feite oor Afrikaanse Wikipedia:
Besoek die Afrikaanse Wikipedia se webwerf vir meer inligting oor bydraes.
As jy betrokke wil raak, stuur gerus ʼn e-pos na wiki@maroelamedia.co.za. Laat weet wat jou gebied van kundigheid is en waaroor jy graag sal wil skryf.
Maroela Media het ook drie opleidingsvideo’s beskikbaar gestel oor hoe om Afrikaanse artikels vir Wikipedia te vertaal en te skryf.