Afrikaans.com – ’n viering van Afrikaans

Afrikaans.com is ’n saamkomplek vir alles Afrikaans. Dis hier waar jy die taal kan vier en verken. Dis vir almal wat die taal liefhet of geniet en waar jy kan uitvind wat gebeur in Afrikaans.

Afrikaans bestaan uit soveel lekker variante en dialekte en die wye verskeidenheid sprekers maak dit uniek. Taal maak deel uit van jou identiteit en die verskeidenheid maak die taal lewend en interessant. Dink maar aan Kaapse Afrikaans, Swartland-Afrikaans, Bolandse Afrikaans, Weskus-Afrikaans, Oos-Kaap-Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Oranjerivier-/Griekwa-Afrikaans, Boesman-Afrikaans, Richtersveld-Afrikaans, Ghoema, Soweto-Afrikaans en nog meer. Op Afrikaans.com kan jy lees oor die oorsprong … die taal se baie tonge en dis ook ’n plek vir taalpret.

Op Afrikaans.com is op 21 Februarie ’n nuwe interaktiewe lekker-lees Moedertaalonderrig-blad bekendgestel! Jy sal dit vind onder Lekker Leer. Hier beantwoord ons jou vrae oor hoekom moedertaalonderrig so belangrik is vir toekomstige sukses, vertel jou meer oor veeltaligheid en besweer sommer ook ‘n paar bekommernisse en mites oor moedertaalonderrig. Ons nooi jou uit om jou vrae met ons te deel sodat ons die kundiges kan raadpleeg en saam met jou ons kennis oor hierdie belangrike onderwerp kan uitbrei in ons strewe na suksesvolle opvoeding en opleiding vir ons kinders in ’n veeltalige land. Besoek gerus http://www.afrikaans.com/leer/lekker-leer/moedertaalonderrig