Steek grense oor. Verbind gemeenskappe.
Die Vlaams-Zuidafrikaanse Cultuurstichting, in samewerking met Marnixring (internasionale diensklub vir die ontwikkeling, bewaring en promosie van die Nederlandse taal en kultuur), kondig ’n Europese toer aan van Afrikaanse musiek om die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier. In Maart 2017 reis die Suid-Afrikaanse luistermusiek-kunstenaars, Annari Breed en DuPreez Strauss, na Vlaandere en Nederland om op te tree in ’n reeks optredes om die passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder.
Met die doelwit om idees uit te ruil tussen verskillende kulture, beoog liedjieskrywers/musikante Annari Breed en DuPreez Strauss om die internasionale begrip van die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder deur middel van ’n reeks aktiwiteite en optredes in die buiteland. Deur gebruik te maak van musiek as universele hulpmiddel om dialoog en samewerking te bevorder, neem die singende, spelende duo gehore op ’n emosionele reis van Afrikaanse musiek. Trots Afrikaanse musiek, met hulle eie unieke klank en oorspronklike komposisies.
Die Vlaams-Zuidafrikaanse Cultuurstichting en Marnixring sit ’n sterk tradisie van interkulturele ondersteuning voort met hierdie veldtog om die ryk diversiteit van suiwer Afrikaanse musiek te vier. Die toer bied gehore die geleentheid om ’n verbintenis te vorm met die Afrikaanse taal, om die afstand te verminder tussen gemeenskappe en om die histories bestaande bande tussen kulture weer te versterk.
Die Vlaams-Zuidafrikaanse Cultuurstichting-voorsitter, Frank Judo, sê dan ook: “Vir ’n Nederlandstalige publiek kan geen enkele ervaring ’n beter kombinasie van vreemdheid en vertroudheid skep as te luister na iemand wat in Afrikaans praat nie. Indien die Afrikaans nog bowendien gesing word, word die ervaring eenvoudig magies. Daarom vind ons dit belangrik om Afrikaanssprekendes en Nederlandsprekendes keer op keer met mekaar in kontak te bring. Uit elke ontmoeting onstaan nuwe planne, nuwe ervaringe, nuwe insae, net soos dit sou gebeur met een sterk vriendskap.”
Met hierdie, hulle eerste Europese toer, verskaf Annari Breed en DuPreez Strauss gehore die geleentheid om die Afrikaanse taal op ’n nuwe en verreikende manier te beleef en verstaan. Met musiek as aanknooppunt vir opvoeding, sluit die veldtog werkswinkels in met die Vlaamse jeug.
Annari: “Ons is baie opgewonde om te sien of ons vars belangstelling kan prikkel in die Vlaamse jeug vir Afrikaanse musiek. Dit sal wonderlik wees as ons musiek die geleentheid daar stel vir mense, oud en jonk, van ‘n heel ander kultuur om betrokke te kan raak met ons ryk kulturele nalatenskap. Musiek is ‘n kragtige gelykmaker en informant wat nie onderskat moet word as dit kom by die sterk verbintenisse wat daardeur geskep kan word tussen diverse gemeenskappe nie. Ons hoop van harte dat hierdie toer nie alleen inspirasie sal bied vir Europeërs om verder as die nuus na ons te kyk nie, maar ook om ‘n passie te ontwikkel vir Suid-Afrika se uitbundige diversiteit.”
Annari Breed en DuPreez Strauss vertrek op 1 Maart 2017 op hulle Europese toer.