Die Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika is op 12 Maart 1953 gestig en beywer hom vir die bewaring en uitbouing van die Hugenote erfenis. Van die belangrikste take is om die besef van die betekenis van die Hugenote se vestiging in Suid-Afrika lewend te hou. Dit word gedoen op ’n hele aantal maniere:
- Die Hugenote Monument en Museum op Franschhoek word deur die Hugenote Vereniging in stand gehou. Die Vereniging is juis tans besig met die beplanning van ’n groot projek om die besoekerservaring aan die Museum te verbeter. Die twee terreine gaan as ’n eenheid ontwikkel word. Die doel daarmee is dat die terrein beter benut kan word in die toekoms vir die aanbied van byeenkomste soos die Sjampanjefees, die Bastilledag-vieringe en skemeruurkonserte. Die uitstallings in die Museum gaan ook vernuwe word en toegerus word met die nuutste elektroniese toerusting ten einde dit ’n museum van wêreldgehalte te maak. Die Vereniging poog om die ingebruikneming in 2018 te laat saamval met die 330-jarige vieringe van die aankoms van die Hugenote in 1688.
- Die Vereniging het ook onlangs ’n omvattende navorsingsentrum en interaktiewe elektroniese genealogiese navorsingsargief by die Hugenote-gedenkmuseum in Franschhoek beskikbaar gestel aan genealogiese navorsers. Digitale kopieë van Hugenote-genealogieë, Hugenote-foto’s en Hugenote-artikels is hier beskikbaar.
- Voorts onderneem die Vereniging ook om die publikasie van genealogieë van Suid-Afrikaanse families van Hugenote-afkoms te ondersteun. Die Vereniging het reeds nege Hugenote Genealogieë uitgegee. Die volgende is beskikbaar vir bestelling vanaf die sekretaresse of die museumwinkel 1) De Villiers; 2) Theron; 3) Labuschagne; 4) Cillié; 5) De Klerk; 6) Viljoen; 7) Du Preez; 8) Celliers/Cilliers/Cillié en 9) Pienaar. Die Vereniging beplan om eersdaags ook die Joubert-, Du Plessis- en Naude-registers bekend te stel. Stuur gerus u bydraes oor u familie vir bewaring en opname in die bronne.
- Jaarliks word ’n jaarvergadering op Franschhoek en in Pretoria gehou waar ’n gasspreker ’n interessante onderwerp meer toelig. Word gerus ’n lid van die Vereniging vir ’n skamele bedrag van R50 per jaar. Hiervoor ontvang u nie net lidmaatskap nie, maar ontvang ook jaarliks ons gesogte Hugenote Bulletin wat propvol stories oor Hugenote-voorvaders en hul afstammelinge is, sowel as twee Nuusbriewe per jaar. Vanjaar val die fokus op die La Grange-familie. As u interessante stories, staaltjies en foto’s het, stuur dit asb. aan.
Besoek gerus die webwerf van die Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika by http://www.hugenoot.org.za/begin-a.htm om meer te wete te kom van die Vereniging en sy bedrywighede. Onder Tuisblad > Publikasies word al die publikasies wat te koop aangebied word gelys. Details oor die publikasies en hoe om dit aan te skaf, word hier vertoon. Op die tuisblad kan u ook meer lees oor lidmaatskap (enkel, lewenslank, egpaarlede, ens).
Word gerus ’n lid van die Vereniging en help so om ons Hugenote-erfenis te bewaar. Elkeen van ons het tog ’n tikkie Hugenote-bloed in ons are.