Jy het seker al in jou dorp van die Vryburgers Omgeemense gehoor of hulle gesien waar hulle werksaam is. Wie is die Vryburgers en wat doen hulle? Die Vryburgers is ’n nie-politiese diensorganisasie wat daarna strewe en hulle beywer vir die maatskaplike ontwikkeling van die gemeenskap en terselfdertyd ook die bevordering van die Afrikaanse kultuur en tradisies. Die organisasie gebruik die Bybel as grondslag. Meeste van ons lede is Afrikaanse besigheidsmanne (en deesdae vroue ook) wat graag ’n verskil in hulle onmiddellike omgewing en ons land wil maak.

Die Vryburger Omgeemense het GEEN verbintenis of assosiasie met die Vrymesselaars en die dorp Vryburg nie.

Nou hoekom dan die naam Vryburgers? Wel, in 1652 het Jan van Riebeeck ’n halfweghuis vir die VOC op die handelsroete tussen Europa en die Ooste gevestig. In 1657 besef die goewerneur dat hy nie die land alleen mak kan maak nie. Ongeveer 550 kontrakwerkers word onthef en ontvang grond om vir hul eie rekening te bewerk. Hierdie pioniers, die Vrije Burgher, was die eerste landbouers aan die Kaap. Later het hulle dan as die Vryburgers bekendgestaan.

Die hunkering na ’n Afrikaanse diensbeweging het ’n groepie Afrikanermans van Bloemfontein aangespoor om ’n beweging te stig waardeur daar na die welsyn van die gemeenskap omgesien kan word. Gedurende 1963 is so ’n beweging gestig. Daar is besluit op die naam Vryburgers, met ’n afbeelding van Adam Tas, een van die vroeë Vryburgers, se huis as embleem. Sedertdien is Die Vryburger Omgeemense ’n groepering van outonome korpse (klubs) en is die oogmerk die insameling van fondse en inklusiewe dienslewering aan die breë gemeenskap.

Daar is dan ook besluit om die vroeë Kaapse ampsbenamings vir die beweging se ampte te gebruik.  So staan die voorsitter as Stuurman bekend.  Sekretaris = Skrijwer.  Tesourier = Fiskaal.  Ordebeampte = Ritmeester.  Skakelbeampte en bemarking = Basuin.

Alhoewel ’n nasionale organisasie sorteer meeste van die korpse onder die Wes-Kaap, met korpse in Ashton, Bonnievale, Ceres, De Doorns, Mosselbaai, George, Oudshoorn, Paarl, Rawsonville, Robertson, Tygerberg, Wolseley en Worcester. Verder oor die land is daar korpse in Oos-Londen, Bloemfontein, Kroonstad, Upington, Pretoria, Ermelo, Polokwane en dan sommer twee korpse in Rustenburg.

Soos maar met die meeste organisasies, kom die Vryburger Omgeemense een keer per maand in hulle korpse bymekaar vir ’n vergadering en dan ook sommer om lekker saam te kuier. Die twee prominentste aktiwiteite in ’n korps is fondsinsameling en dienslewering.

Alhoewel elke korps sy eie aktiwiteite beplan en uitvoer, is daar in die organisasie drie inisiatiewe waarop daar landwyd gefokus word:

  • Kos vir Kinders: Menigte kinders kom honger skool toe aangesien daar net nie genoeg kos by die huis is nie. Die Vryburgers ondersteun skole en hul onderskeie “sopkombuise” om dan vir hierdie kinders deur die dag iets te gee om te eet.
  • Woordverspreiding: Bybels, oudiobybels en geestelike werkboeke word vanaf verskeie geestelike lektuurverskaffers aangekoop en dan na gemeenskappe en skole versprei waar daar ’n behoefte vir die Woord van God is.
  • Omgeewater: Hierdie is ’n relatief nuwe fokus waar al die korpse saamspan vir die aankoop van watertenks waar die droogtenood gemeenskappe beïnvloed. Daar is onlangs ’n 40 000 liter staal-reservoir aan ’n skool in Kroonstad geskenk en staangemaak om nie net die skool nie, maar ook omliggende huishoudings te bedien nadat die dorp se waterbronne opgedroog het.
  • Omgeewinkel: Almal maak hul kas en huis skoon en gooi dan klere uit. Wat dan met die ou klere gemaak? Die Vryburgers het hierdie penarie en armoede bymekaargebring en die Omgeewinkel-konsep staangemaak. Die gemeenskap gaan gee hulle ou klere by die Vryburgers af wat dit dan was, regmaak en sorteer. Hierdie klere word dan teen spotgoedkoop aan die behoewende gemeenskap verkoop. Die inkomste gegenereer uit die klere wat verkoop word, gee weer vir die Vryburgers die geleentheid om elders in die gemeenskap die nood te verlig. Sommige van die korpse het geboue waaruit hulle elke dag verkoop en die ander korpse verkoop weekliks of maandeliks op straat.
  • Tamaaibraai: Die Tamaaibraai is ons heel nuutse inisiatief en is iets waaroor ons baie opgewonde is. Op Saterdag 8 April gaan elkeen van die 22 korpse elk by ’n ouetehuis of soortgelyke inrigting braai. Die idee is om die oumense uit hul kamers te kry. Daar sal dalk ’n sanger of storieverteller wees om hulle te boei en, wie weet, dalk ’n ou ietsie sterker ook… Ons rowwe somme dui op hierdie stadium dat ons vir meer as 1 000 mense die dag gaan braai en bederf.

TamaaiBraai

Tydens die naweek van 13 Mei hou ons Burgerraad by Sun City. Die Burgerraad is ’n naweek waar die Vryburgers en hul gades een keer per jaar byeenkom, nie net om vergadering te hou nie, maar ook idees uitruil, lekker saamkuier en dan ook bietjie optooi.

 

Meer inligting oor die Vryburger Omgeemense is ook beskikbaar by www.vryburgers.co.za en www.facebook.com/VryburgerSA/