deur Belinda Campher
Die Dameskring het in Oktober 2016 by hulle tweejaarlikse beraad in Bloemfontein hul nasionale projek vir 2017/2018 bekend gestel. Die projek het die ontwikkeling van waardes by jong kinders ten doel en is gebore vanuit hierdie organisasie se oortuiging dat die sleutel vir die verandering van omstandighede in Suid-Afrika in die karakterontwikkeling van ons kinders lê.
Die kernwaardes wat vooruitstrewende lande se bevolkings rig is etiese, korrupsievrye optrede, integriteit, verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid, respek vir reëls, regulasies en die regte van ander, ’n kultuur van hardwerkendheid, werkstrots en spaarsamigheid, die wil om verantwoordelikheid vir jou toekoms te aanvaar, asook stiptelikheid en gedissiplineerdheid.
Al hierdie beginsels kan saamgevat word in een begrip: ’n sterk karakter.
Deurleefde waardes is by verre een van die wonderlikste gawes wat ons as volwassenes vir kinders kan gee. Dit sal hulle in staat stel om in ’n dikwels korrupte wêreld aanpasbaar te wees, weldeurdagte keuses te maak en met oorgawe te leef.
Die Dameskring bemark tans landwyd die handleiding “Waardes vir Woelwaters” wat gerig is op die ontwikkeling van waardes by die jong kind binne die gesinskonteks, asook die skool. In die handleiding word kernwaardes uiteengesit deur middel van basiese riglyne vir die kweek van elke betrokke waarde, toepaslike Bybel- en vertelstories, asook praktiese aktiwiteite of speletjies om die betrokke waarde vas te lê. Alle inligting en aktiwiteite kan aangepas word volgens individuele behoeftes binne die gesin of klassituasie. Hoewel die handleiding geskryf is met die voorskoolse kind in gedagte, behoort dit ewe suksesvol aangewend te kan word in die grondslagfase (Graad 1, 2 en 3).
Om meer inligting oor hierdie projek te bekom, of ’n handleiding te bestel, kontak gerus vir Belinda Campher by 083 421 0217 of per e-pos by mccampher@mtnloaded.co.za