Bekende Afrikaanse kerkman, skrywer, taalstryder en kultuurmens oorlede
Ds. Henno Cronjé is op Dinsdagaand 14 Maart op 86-jarige ouderdom na ’n siekbed van enkele weke oorlede. Hy het op elke terrein waar hy betrokke was, diep spore gelaat en ook met uitnemendheid gedien.
As Tukkie-student was hy redakteur van die studentekoerant, Die Perdeby en hy dien ook in die studenteraad. Ná voltooiing van sy teologiese studies het hy sy meestersgraad in Amsterdam, Nederland, onder leiding van N.P. van Wyk Louw verwerf. Sy studies in Nederland is opgevolg deur die ThM-graad aan die Union Theological Seminary aan die Universiteit van Columbia in New York. Hy en Charmara, sy geliefde eggenoot, keer daarna na Suid-Afrika terug waar hy as leraar in die NG Kerk diens aanvaar.
Sy bediening neem hom na Brits tussen die tabak- en sitrusboere, as studenteleraar in Heidelberg en daarna in Waterkloof, Pretoria. Vir hom het die méns saak gemaak en hy het die genade ontvang om die humor in elke situasie te herken en daarmee saam die vermoë om meer lief te hê. Hy het vir boere, studente én professionele mense gepreek en was ewe geliefd onder almal.
Sy predikantsdae is in 1977 opgevolg deur sy aanstelling as direkteur van inligting van die NG Kerk van die eertydse Transvaal en Natal en ook vir Zimbabwe en Suidwes-Afrika. In 1987 is hy gevra om as predikant vir Suid-Afrikaanse lidmate van alle kerke in Noord-Europa diens te doen. Die standplaas was Londen en sy lewe was gekenmerk deur lang ure in vliegtuie en gereelde afwesigheid van sy gesin. Die gesin het desondanks in daardie tyd net nader aan mekaar gegroei.
Henno se empatie vir mense word weerspieël in Woord en Wêreld, sy pitkosrubriek in die Sondagkoerant Rapport. In ’n radioprogram van hom, Huis en Haard, deel hy oor ’n tydperk van ses jaar lewenslesse met die luisteraars.
Op 15 April 1991 word Henno Cronjé die hoofuitvoerende beampte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Hy het dié pos tot en met Julie 1996, tydens die oorgangsjare na die nuwe demokrasie in Suid-Afrika, met onderskeiding beklee. Vir Henno Cronjé was ’n taal die siel van ’n gemeenskap en die Afrikaanse taal in sy verskeidenheid van gebruikers, was hierin onmisbaar. Sy nalatenskap en dié van sy tydgenote het bygedra tot die bloei van die Afrikaanse taal en kultuur.
Ds. Henno Cronjé is in sy leeftyd geseën met wonderlike gawes en hy het geleenthede om diens te lewer, raakgesien en benut. Sy vriende en familie eer hom vir sy voorbeeld en ómgee. Hy laat sy geliefde eggenoot Charmara, 5 kinders, 14 kleinkinders en 7 agterkleinkinders na. Die huldigingsdiens is op Saterdag 18 Maart om 10:30 vanuit die NG Kerk Waterkloof.