Die Afrikaanse Kultuurvereniging van Beaufort-Wes

Die Afrikaanse Kultuurvereniging van Beaufort-Wes, is gestig op 18 Maart 2004, deur die Bestuurslede van die Beaufort-Wes Rapportryerskorps, net voordat die korps finaal ontbind het. Die motivering was dat ’n alternatiewe gesinsorganisasie, waarby al die lede van ’n Afrikanergesin, betrokke kon wees, groter byval sou vind by die gemeenskap van Beaufort-Wes.

Waardevolle kultuurwerk is gedoen deur die nuutgestigte AKV, gedurende die tydperk 18 Maart 2004 tot 4 Julie 2016, toe die vereniging ontbind het.  Jaarlikse Gemeenskap Sangfeeste is georganiseer en het die hele gemeenskap se Skoolkore, Kerkkore, Dorpskore en Sanggroepe gretig deelgeneem aan die grootse sanggenot.  In Oktober 2010 is die ATKV se landswye Applous Koorwerkswinkel na Beaufort-Wes gebring met me. Margie Spamer en Bessie Kuhn as aanbieders. ’n Rekordgetal van 25 koorleiers het die tweedagkursus deurloop en erkenningsertifikate daarvoor ontvang.

Die jaarlikse Geloftefeesdienste uit die NG Kerk Gamka-Oos is getrou ondersteun deur die vereniging se lede en het die AKV ook op ’n gereëlde basis ’n spreker voorsien, asook ’n voordraer, wat die gelofte in Nederlands voorgelees het.  Na afloop hiervan is ’n kranslegging gehou by die gesamentlike graf van helde van Beaufort-Wes, wat aan die slag van Bloedrivier deelgeneem het.  Op 16 Desember 2009, is daar gereël met mnr. Claude Schravesande, ’n kleinseun van Jan Gerritze Bantjes, ’n oud onderwyser van Beaufort-Wes, wat die Groot Trek meegemaak het en wat opgetree het as penvoerder (sekretaris/skrywer) van die Voortrekkers, om die kranslegging te doen ter verering van sy gewaardeerde en prominente voorvader. Die oorblywende lede van die AKV sal egter nog altyd voortgaan met hierdie tradisie.

Na die verkope van hul eiendom, die historiese gebou te Birdstraat 111, Beaufort-Wes, is alle fondse van die vereniging oorgedra na die ACVV se Ouetehuis te Hesperos Beaufort-Wes vir kapitale verbeteringe en opgradering van die bestaande fasiliteite t.o.v. die inwoners van die tehuis, wat eens ook aktiewe lede van die AKV was.

Die orige voorraad Beaufort-Wes boeke, wat die geskiedenis van Beaufort-Wes gedurende die tydperk 1969–2000 opgeteken het en wat ’n opvolg was van Hooyvlakte, die verhaal van Beaufort-Wes gedurende 1818–1968 soos geskryf deur WGH en S Vivier, is geskenk aan die verskillende skole van die gemeenskap se skoolbiblioteke, vir navorsing en studiedoeleindes.