Daar is een stukkie Afrikanergeskiedenis wat sedert 1950 nog op ’n gereelde grondslag in Namibië gedenk word: die hele Dorslandtrek (as gebeurtenis) en meer spesifiek hierdie trekkers se finale verhuising vanuit Angola na veral Suidwes-Afrika (vandag Namibië) tussen hoofsaaklik 1928 en 1929. Ons volgende gedenkfees word vir Augustus 2018 beplan.
Wie is hierdie Dorslandtrekkers? Die naam is aan ’n spesifiek groep Afrikaners gegee wat in 1874 uit die Transvaal begin trek het op soek na ’n “land ter bewoning”. Hulle voorouers het toe al ’n hele geskiedenis van trek beleef: eers uit die Kaapkolonie om onder die juk van die Engelse en verengelsing uit te kom, toe uit Natal omdat die Engelse ook daar oorgeneem het. Die Transvaal is hierdie lot ook nie gespaar nie en selfs in die destydse Duitswes het die Engelse die Dorslandtrekkers vooruitgeloop sodat hulle telkens maar weer opgepak het om verder te trek.
Na bykans sewe jaar se omswerwinge het die eerste trekkers hulle in Angola gevestig. Die trekkers was aanvanklik baie welkom, maar na enkele dekades wou die Portugese kolonialiste hulle verportugees, wat die laaste trek terug oor die grens na Suidwes-Afrika tot gevolg gehad het. Hulle is Dorslandtrekkers genoem omdat veral die tweede trek, waarin die grootste groep mense was, ongekende ellende en verliese beleef het in hulle deurtog deur die droë Kalahari dorsland van Botswana op pad na Suidwes-Afrika.
Hierdie was egter ’n klomp sterk mense wat telkens met niks, voor moes begin – en dit het hulle gedoen met ’n diepgewortelde passie en oorlewingsvermoë. Heelparty nasate het van die hoogste sporte in die lewe bereik deur harde werk en ’n wil om van die lewe ’n sukses te maak.
En so woel en werskaf die nasate steeds, nie net om konstruktiewe bydraes tot die ontwikkeling van hul land te lewer nie, maar ook om nooit te vergeet waar hulle vandaan kom nie. Verskeie leiers en reëlingskomitees het sedert 1950 die leiding geneem om die klomp gedenkfeeste wat daar nou al in Namibië was, te reël. En met elke fees het die entoesiasme om hierdie unieke geleentheid daar langs die Kunenerivier by te woon, net groter en groter geword. Stemme het opgegaan dat daar aan meer as net die feeste aandag gegee moet word. Die gevolg was dat ’n amptelike vereniging tydens die fees van 2013 in die lewe geroep is: die Dorslandtrekvereniging Swartbooisdrift.
En dit is hierdie vereniging se bestuur wat sedertdien konstruktief en volstoom aan vasgestelde doelwitte werk. Alle inligting rakende die Dorslandtrek, die trekkers self en hulle nasate word aktief nagevors en versamel, en in die argief en museum van die Afrikaner-kultuursentrum in Windhoek bewaar. Die doopfont wat in Angola gebruik is, is onder andere van die items daar. Een van ons bestuurslede, Faan van der Merwe, het ’n boek die lig laat sien wat jare se navorsing oor al die grafte wat hy in Angola kon opspoor, presies lys met die nodige koördinate. Dan het ons ook ’n pragtige nuwe webblad met baie interessante inligting en foto’s waar mense kan gaan rondblaai. Gaan kyk gerus by dorsland.org. Die bestuur publiseer verder ook ’n nuusbrief twee maal per jaar wat elektronies aan nasate en belangstellendes uitgepos word. Nuwe inligting rakende Rusplaas is byvoorbeeld onlangs daarin gepubliseer.
Van 4 tot 16 Julie bied die vereniging ’n toer aan: “Op die ossewaspoor van ons voorvaders”. Dit sal die Namibiese been van die geskiedkundige trek dek vanaf Rietfontein in die Gobabis-omgewing, deur die Nyae-Nyae-panne in Boesmanland en die Khaudum tot bo by Rundu. Dan terug deur Tsintsabis, die Etosha en verby Rusplaas en Kaoko Otavi om by Swartbooisdrift aan die Kunenerivier te eindig. Die Angola-been van die geskiedkundige trek, sal in 2018, direk na ons fees gery word.
Dit bring ons dan by die belangrikste gebeurtenis op ons vereniging se kalender: die 2018-gedenkfees wat weer tradisioneel langs die Kunenerivier naby Swartbooisdrift in Kaokoland gaan plaasvind. Dit is alreeds ons 90ste herdenkingsjaar en omdat die fees elke vyf jaar gehou word, sal dit ’n fees der feeste wees.
Almal kom kamp vir ’n paar dae op die pragtige oewers van die rivier en beleef die absoluut unieke ervaring om daar langs kampvure en bosgeluide familie te herontdek, terwyl al die ou herinnerings deurgepruim word met lag en traan, sodat ons kinders se kinders ook kan hoor wie en wat hulle voorsate was wat die lewe met soveel durf aangevat het. Want wie sal vandag kans sien om ’n trek op ’n ossewa vanuit die Transvaal tot in Angola, oor ’n tydperk van sewe jaar deur erge ontberings, op tagtigjarige ouderdom te onderneem en lewendig anderkant uit te kom – en dis feite!
Mense wat ons fees wil bywoon, kan die inskrywingsvorm op ons webblad invul (dorsland.org). Die datum van die fees is 24 tot 27 Augustus 2018.