Ons sing, praat en DANS in Afrikaans!

 

deur Danette Smith

Die Wapadrand Boeredansgroep is in November 2004 gestig en het ten doel om die Afrikaner volksdans-kultuur op sigbare wyse aan toeriste wat Suid-Afrika besoek, maar ook aan die mense van ons land te vertoon.

Danette bied twee kampe (Januarie en Oktober) per jaar vir kinders, Graad 6 tot 12, aan, waartydens hulle bekend gestel word aan die verskillende boeredansstyle asook dansetiket en ander interessanthede.

Na afloop van die kampe kan die kind dan besluit of hy/sy wil deel word van die groep.  Ledegeld om aan die groep te behoort beloop R200 / jaar.

Die lede van die groep – wat vrywillig en sonder enige erkenning op skoolvlak asook ’n besige program – met entoesiasme meedoen aan die groep se aktiwiteite, deel my passie vir ons boeredanse. Dus beskou ek die kind as die beste spreekbuis om ons lewende en groeiende kultuur te adverteer.

Die groep is saamgestel uit kinders tussen die ouderdomme 12 en 17 jaar.  Vertonings sluit die immergewilde wals, die kadriel, setees, mazurka en polka in wat uitgevoer word op Afrikaanse en boeremusiek.

Die groep tree op by die Voortrekkermonument, maar ook op uitnodiging by onder andere koöperatiewe geleenthede waar die toeskouers geleentheid kry om saam te dans.

Ons leuse is: Ons sing, praat en DANS in Afrikaans!

Ons gaan hierdie jaar ons Saterdagoptredes by die Voortrekkermonument afwissel met optredes by Jasmyn Varsprodukte Padstal by Hartbeespoortdam. Die eienaars wat Afrikanerskap in al sy fasette ondersteun, het hierdie voorstel met ope arms verwelkom en ons sien uit na die ervaring.  Hierdie optredes behels dat die groep tussen 08:00 en 13:00 met tussenposes optree vir toeskouers.  Dit is ook met hierdie optredes wat ons fondse insamel en hierdie jaar spesifiek vir ons toer na België.

Danie Langer, besturende direkteur van die FAK, het vir ons die geleentheid geskep om deel te neem aan ’n “Volkskunstweek” wat elke twee jaar in Saint Niklaas, België, aangebied word (http://www.ossaart.org).  Groepe wat in die verlede al aan die fees deelgeneem het sluit in Duitsland, Spanje, Swede, Hongarye, Italië, Oostenryk en Engeland.

Ons het reeds kontak gemaak met die organiseerders en hulle is baie opgewonde om ’n groep vanuit Suid-Afrika in te sluit in die feesprogram.  Die program bestaan uit daaglikse optredes deur al die verteenwoordigde lande op verskillende plekke in Saint Niklaas en daar is ook tyd vir saam kuier en blootstelling aan ander kulture. Beslis ’n ervaring wat onvergeetlike herinneringe sal skep.

Die groep beplan om na België te vertrek op 8 Augustus 2018 en weer terug te keer op 19 Augustus 2018.

Daar word ook jaarliks (Maartmaand) ’n naweekkursus vir volwassenes aangebied waartydens daar lekker gedans en gelag word, en ook gesels word ook watter belangrike rol volksdanse in elke volk se tradisies en kultuur behoort te speel.

Addisionele kampe/kursusse kan op aanvraag aangebied word.

Op ons webblad is daar inligting oor waar ons boeredanse vandaan kom en inligting oor kampe en optredes word daarop gepubliseer.

Danette is een van Afrikaans.com se Ambassadeurs vir Afrikaans en verdere inligting is ook op hulle webblad geplaas.

Dagboek:

22 April : 08:00 – 12:00

Voortrekkermonument

 

13 Mei : 09:00 – 13:00

Jasmyn Varsprodukte Padstal

 

27 Mei : 10:00

NG Kerk Wonderboom Kermis

 

29 Julie: 08:00 – 12:00

Voortrekkermonument

 

Hou gerus ons webblad dop vir verdere optredes : www.boeredansgroep.co.za

Indien jy wil deel in die boeredanspret, ons wil nooi vir ’n optrede of ’n bydrae lewer om ons droom te verwesenlik, kontak gerus vir Danette by boeredansgroep@gmail.com of sel by 082 923 6177.

 

Ons bankbesonderhede:

Standard Bank

Spaar

D Smith

Rek no: 015968413

Verwysing: België 2018