DIE REBELLIE VAN LAFRAS VERWEY is ’n tragikomedie, wat gebaseer is op die 1971-drama wat deur die oorlede skrywer en sy seun, Simon Barnard, verwerk is in ’n eietydse draaiboek. Dit vertel die verhaal van Lafras Verwey, ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie. Hy werk in die Staatsdiens, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander. Wanneer hy Petra, ’n jong swanger vrou, onderdak neem, kry die rebellie vir hom nog groter betekenis. Ironies genoeg, begin sy gedroomde revolusie juis die nag wat die baba gebore word. Komedie, drama en elemente van fantasie, word verweef in ’n aangrypende storie, van ’n man wat kans sien om die onmoontlike aan te durf om sy droom, van ’n beter wêreld vir almal, te verwesenlik. Die rolprent is vervaardig deur geliefde aktrise en regisseur, Katinka Heyns en Genevieve Hofmeyr, onder leiding van opkomende filmmaker, Simon Barnard. Laasgenoemde maak ook sy debuut as regisseur van ’n vollengte speelfilm met dié boeiende verhaal, wat op 7 April 2017 landswyd deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik is.