Onthou jy nog die tye wat jy jouself op die koorbankies moes balanseer, terwyl juffrou Vermaak haar hande ritmies op bekende liedjies beweeg het. Reeds hier het baie van ons land se top kunstenaars hulle eerste blootstelling gekry en uitgedraai as supersterre wat op die kassie en tydskrifvoorblaaie pronk, maar nooit het jy gedink dat jy as skoolleerder reeds hierdie geleentheid sou kon kry om op ’n jong ouderdom jou sangtalent met die wêreld op kykNET te kan deel nie.
Daar is verskeie koorkompetisies wat aangebied word, maar Sing in Harmonie is verseker enig in sy soort. Deur hierdie kompetisie word daar ’n platform geskep vir laer- en hoërskoolkore om hul talente nie net op die verhoog te deel nie, maar op nasionale TV. Sing in Harmonie word weekliks op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) uitgesaai en hier kan jy in die gemak van jou uitskopstoel deur van ons land se engelstemme vermaak word.
Om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder, ondersteun die FAK graag kleurvolle projekte wat ’n toekoms skep. Sing in Harmonie is een van hierdie dinamiese projekte wat voortaan kreatief deur die FAK ondersteun sal word.
Of dit nou op die lirieke van “Suikerbossie” of ’n eenvoudige tra-la-laaa is, hierdie jongspan sal jou verseker van hoendervleis-oomblikke!