Deur Daantjie Dinamiet
In 1967 het die lewe van die destydse onderwysstudent en joolkoningin van die Universiteit van Pretoria onherroeplik verander.
Elizabeth Maria Magdalena (Carike) Keuzenkamp is op 3 Maart 1947 in Den Haag in Nederland gebore en het op ’n jong ouderdom saam met haar ouers na Suid-Afrika gekom. Haar noemnaam is ’n kombinasie van haar ouers se name, Carel en Rik. Sy het aan die Hoërskool Alberton gematrikuleer en daarna aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Dit was hier waar haar pad gekruis het met die dogter van die legendariese rolprentvervaardiger Jamie Uys. Jamie was besig om die rolprent Die professor en die prikkelpop te vervaardig en Carike het ’n klein rolletjie losgeslaan. Almal wat die rolprent gesien het, sal onthou hoedat sy die liedjie “Timothy” in haar nagklere gesing het. Dié liedjie is geskryf deur die destydse teologiese student Dopper Erasmus en was die eerste en enigste liedjie wat die eerste plek op Springbok Radio se Top 20 vir twee verskillende Suid-Afrikaanse kunstenaars of groepe kon behaal. Four Jacks and a Jill het dit ook opgeneem, en hul weergawe, wat effens van dié van Carike verskil het, is as temaliedjie gebruik. Clive Harding, die stigter en baskitaarspeler van Four Jacks and a Jill, het verduidelik dat die oorspronklike weergawe, wat net uit drie akkoorde bestaan het, net té eenvoudig was, en ’n klein stukkie is bygevoeg. Hoe ook al, die liedjie was vir hulle, en vir Carike, ’n treffer.
Op 17 November 1967 het Four Jacks and a Jill se weergawe die nr. 1-posisie gehaal. Die volgende week het hulle daardie posisie behou, maar Carike se weergawe het tot by die tweede plek gevorder. Dit het beteken dat “Timothy” die enigste liedjie was wat tegelyk in die eerste en tweede plek op Springbok Radio se Top 20 was. Carike se weergawe was net op 1 Desember 1967 in die eerste plek. Die sukses van Timothy het daartoe gelei dat Carike se debuutalbum, The charm of Carike, vrygestel is. Dit het nog ’n treffer opgelewer toe “Last dance” op 8 Maart 1968 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het. Carike het die 14de plek met hierdie snit behaal.
In 1969 het Carike se eerste oorwegend Afrikaanse album, Almal se keuse, verskyn. Hierdie album het snitte soos “Groen koringlande”, “Sy kitaar en die see”, “Trekliedjie” en “Mangwane mpulele”, die enigste snit wat nie Afrikaans was nie, bevat. Intussen is sy met Olaus van Zyl getroud; hulle was die eerste egpaar wat deur Dopper Erasmus, wat “Timothy” gekomponeer het, in die huwelik bevestig is.
Carike het gou besluit om haar op Afrikaanse musiek toe te spits, en sy het nog drie albums opgeneem voordat sy en Olaus ’n tyd lank in die Verenigde State van Amerika gebly het terwyl hy daar gestudeer het. Hul eersteling is in daardie tyd gebore. Met hul terugkeer het Carike haar sangloopbaan hervat. Met die koms van televisie het Carike die aanbieder van Kraaines geword en ook bekend onder jonger kykers en luisteraars geword. Met dié program het sy kykers ook aan nuwe talent op die Afrikaanse musiektoneel bekendgestel en Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Jannie du Toit het almal hul debuut in dié program gemaak. Intussen het nóg treffers gevolg, onder meer twee komposisies van Anton Goosen, naamlik “Byeboerwa” en “Hoeka toeka”. Laasgenoemde liedjie was twee weke lank op Springbok Radio se Top 20 en het die 17de plek gehaal. Terselfdertyd het sy ook begin om kinderalbums op te neem. Hoewel haar weergawe van “Heidi” nie op Springbok Radio se Top 20 was nie, en Herbie en Spence dit eerder met hul weergawe kon regkry, is Carike die kunstenaar wat met die Afrikaanse weergawe van hierdie liedjie geassosieer word. Die sukses van die langspeelplaat met “Heidi” as titelsnit het tot verdere kinderalbums gelei.
In 1987 het Carike haar twintigste jaar in die musiekbedryf op ’n besondere manier gevier. Omdat die vyfhonderdste herdenking van “Bartholomeu Dias” die volgende jaar gevier sou word, is ’n liedjie ter herinnering daaraan geskryf en Carike het dit opgeneem. Die musiekvideo is in Madeira verfilm, en die Dias-karveel is daarvoor gebruik. Carike het dit in Afrikaans, Engels en Portugees gesing. Daarby is haar uiters suksesvolle album, Ek sing… uitgereik, met treffers soos “Dis ’n land”, “Die ystertrein”, “Kimberley se trem” en “Karnaval in Bloemfontein”. Daarna het verskeie volwasse en kinderalbums gevolg, en veral haar Carike in Kinderland-reeks, asook haar albums saam met Ghoempie en Ghoeghoe het groot byval by kinders gevind.
In 1995 is ’n album met nuwe opnames van haar gunstelingtreffers van die 1960’s onder die titel Timothy uitgereik. Onder die snitte op hierdie album was “I walk the line”, “Master Jack”, “Sy kitaar en die see”, “Droomverlore”, “Dominique” en “The French song”.
In 2015, kort voordat sy vyftig jaar in die musiekbedryf gevier het, is ’n volledige dubbele versameling van haar musiek, onder die titel 5 dekades van Carike Keuzenkamp, uitgereik. Benewens ’n aantal nuwe snitte het dié album al haar grootste treffers dwarsdeur haar loopbaan bevat.