Theana Breugem

Deur Seugnet van Zyl

Party mense sal sê sy is seker gaga oor melktert, want waarom anders sal sy ’n meestersgraad oor die Suid-Afrikaanse soetgebak aanpak.

Rachel Botes (50), ’n sjef wat vir jare lank diep in die harte van menige Pretorianers gekruip het met haar uithalerdisse by die Carlton Café Delicious in Menlopark, sê Suid-Afrikaners dink melktert is volksbesit.

“Mense dink dis dalk ’n eenvoudige tert, maar daar is soveel meer daaraan.”
Met haar navorsing aan die Universiteit van Pretoria se departement
historiese en erfenisstudies wil sy mense se persepsie oor “wat melktert is” probeer bepaal.

Sy sê buiten vir haar liefde vir kosmaak, hou sy ook daarvan om navorsing oor kosgeskiedenis te doen, daarom het sy op dié meestersgraad besluit.
Wat sy tot dusver bevind het, is dat daar verskeie lande is wat met hulle eie melkterte spog.
“Ek gaan ons melktert met ander lande se ekwivalente vergelyk.”
Dit sluit onder meer Griekeland, Portugal, Spanje, China en Engeland in.
Buiten vir dié lande, verskil melktert in die verskillende streke van Suid-Afrika ook.

“Die basiese bestanddele vir melktert bly altyd dieselfde, maar die Kaapse Maleiers gooi byvoorbeeld kardomonpeule by, terwyl ander weer amandelgeursel byvoeg.”
“Kruisbestuiwing van die resep vir melktert, het almal ’n invloed op mekaar gehad. Watter invloede het streeksgewys die melktert beïnvloed?”

Sy het al regoor die land agter die “beste melktert” aangery en verskeie resepte, waaronder Hildagonda Duckitt, wat beskou word as Suid-Afrika se eerste kosskrywer, mevrou Dijkman, ’n Engelse sendeling se vrou, wat die eerste Afrikaanse resepteboek geskryf het en selfs Louis Leipoldt se luukse melktertresep met 16 eiers, beproef.
Haar eie melktertresep het ’n marsala-stropie bo-oor.

ataniël beskou Rachel, ’n opgeleide prokureur en gekwalifiseerde slagter, as sy (kos)mentor en vriendin. Haar restaurant was eens langs sy Kaalkop-winkel in dieselfde straat gewees. Dit is hoe hulle bevriend geraak en sy ook gereeld op sy televisieprogram, Die Nataniël Tafel, verskyn het waar sy in meesterklasse saam met hom disse voorberei het.
Later het sy Nataniël se winkelspasie oorgeneem en by haar restaurant gevoeg en vir byna twee dekades lank daagliks mense laat smul aan haar kos by dié gewilde restaurant en deli.

Carlton Café Delicious het ná sestien jaar op 27 Julie hulle deure gesluit weens onsuksesvolle onderhandelings van die restaurant se huurooreenkoms

Vir nou gaan Rachel voort met haar meestersgraad en die voltooiing van ‘n eietydse wildskookboek.
“Ek sal altyd kook op ’n manier,” sê sy enkele dae voor die restaurant se sluiting.
Wat haar altyd sal bybly, is al die mense wat daagliks daar kom eet en bly terugkom het.
“Ek was deel van ’n gemeenskap. Ek het tuis gevoel.”
Sy sê vleis was nog altyd vir haar ’n passie gewees en daarom het sy ’n blokmankursus gedoen.
Om ’n karkas te verwerk, is vir haar ’n spirituele ervaring, waar sy gebak as ’n wetenskap beskou.
Omdat sy “nie ’n eendimensionele brein” het nie, vul die slagter/bakster in haar gedeeltes van haar psige aan.