Hy is lankal nie net meer ’n wenner van die Afrikaanse TV-program en musiekkompetisie Supersterre nie.
Elf jaar later vervaardig Anthonie Bougas (26) vandag verskeie Afrikaanse televisieprogramme en werk daar ’n span van 35 mense saam met hom, waar hulle regoor die land wyd en syd na talent soek.
Toe hy maar 15 jaar oud was, het hy as tiener harte gesteel op Supersterre met Patricia Lewis as aanbieder.
Hy het dit opgevolg met ’n rol in die kykNET-sepie Villa Rosa en toe sy eie produksiemaatskappy gevestig, waar hy programme soos Sing in Harmonie, Solis vir Christus, Kleuterzone, Uitblinkers, Dans in jou Taal en Rugbyramme vervaardig wat op kykNET NOU! en kykNET & kie uitgesaai word.
Ná sy oorwinning op Supersterre, waar hy nie net die jongste deelnemer was nie, maar ook die eerste was om sy eie oorspronklike komposisie te sing, het hy voor ’n groot keuse te staan gekom. Moet hy teruggaan skool toe en eers later die droom van sang uitleef of tuisonderrig word terwyl hy sy sangloopbaan navolg?
Met die hulp van sy ma, Rensche, het hy homself ’n jaar tyd gegee om dié nuwe loopbaan ’n kans te gee.
“Sy het absoluut haar loopbaan vir my opgeoffer en alles ingesit tot vandag toe nog. Sy is al 11 jaar saam met my. Sy werk saam met my. Ons werk saam aan dié ding. Sy is ’n absolute dryfkrag agter elke program, elke episode en sy is nogsteeds ook betrokke by alles. Sy is omtrent aan die gang.”
Hy som haar op as ’n ekstrovert, go-getter en sy glo dat alles gaan werk.
Hulle het destyds saam ’n skoletoer begin met die besef dat kinders Anthonie se grootste aanhangers was.
“Ek het toe ’n skoletoer begin, waar ek letterlik die land platgetoer het. Daar was letterlik by die 200 dorpe en nagenoeg 500 skole. Ek het ’n kaart gehad waar ek dié dorpe met ’n inkvaste pen gemerk en die skole in daai omgewing tydens dié toer besoek het.”
“My ma het toe al saam met my begin werk. Sy het haar werk bedank om by myne aan te sluit.”
Hy sê die gedagte was dat hy by elke Afrikaanse laerskool in die land ’n draai wou maak, met die hoop om só op sy bekendheid as die wenner van Supersterre voort te bou.
Anthonie het destyds alle beeld- en klankmateriaal self op ’n skootrekenaar geredigeer terwyl nog iemand die klank- en kamerawerk behartig het.
“Ons het nie baie toerusting gehad nie. Net twee luidsprekers en ’n kamera en dít het die ding gedoen vir ’n jaar lank. En toe ná ’n jaar begin ons toe meer raak. Toe was ons so vier/vyf gewees.”
Aan die einde van 2014 is Anthonie se televisieprogramme op kykNET NOU! begin uitsaai.
“Ons het letterlik in ’n kwessie van ’n jaar van een program na drie gespring. Toe word Tienerzone ’n reeks met Kleuterzone en Sing in Harmonie tegelyk.”
Skielik het die span ook na 12 mense gegroei.
In 2016 is Dans in jou Taal en die Kleuterzone Nasionale Kampioenskappe gebore. Die jaar daarna het Rugbyramme bygekom en vandag vervaardig Anthonie en sy span vyf programme wat agt konsepte insluit.
“Sukses gaan baie oor geluk, maar dit gaan ook vir my oor die baie wat jy moes opgee. Ek het byvoorbeeld my kinderlewe en moontlike studentelewe opgegee vir wat ek het vandag het.”
Elke program wat Anthonie vervaardig, het ’n Christelike grondslag.
“Met ons programme bereik ons 55 000 kinders per jaar. Ek probeer dus om elke keer op ’n Christelike grondslag ’n boodskap deur te kry aan die kinders met die hoop dat hulle dit sal onthou.”
Anthonie leef sy eie Christenskap deur musiek uit en probeer hy ook só ’n rolmodel vir ander wees.
Afrikaans en jongmense lê hom nog altyd baie na aan die hart.
“Ons is Suid-Afrikaans, maar trots Afrikaans. Dis ’n absolute voorreg om in Afrikaans ’n beroep te kan nastreef.”
Waar hy Sing in Harmonie, die nasionale skolekoorkompetisie, ses reekse gelede met 24 kore begin het, is daar vanjaar 180 kore wat deelneem. Volgens hom is dit nagenoeg 15 000 koorlede.
Die FAK is vir die tweede agtereenvolgende jaar as vennoot van dié kompetisie betrokke.
“Dit is wonderlik om te sien hoe musiek ’n taal is wat ons almal verstaan. Sing in Harmonie is een van die min kompetisies wat kore van regoor die land die geleentheid gee om nie net deel te neem teen mekaar nie, maar ook tydens die finaal te luister na mekaar. Ek sien hierdie jaar hoe koorlede vir die eerste keer kan hoor hoe harmonieë klink wanneer dit bymekaar kom in ’n optrede. Die skouspelagtige ervaring van televisie, ligte, kamera, ensovoorts het geweldige blootstelling tot gevolg en kweek ’n opgewondenheid wat woorde nie kan beskryf nie. Ek dink koorsang is nie meer net ’n aktiwiteit by skole nie, dit word ’n prestasie om in ’n koor te sing. Dit is wonderlik om te sien hoe dít kinderharte aanraak.”
Hy sê die lekkerste vir hom is om ’n idee uit te dink en dít te sien gebeur.
Om die kinders, wat by sy onderskeie programme betrokke is, se reaksie te sien nadat hulle hul verskyning op die verhoog gemaak het, is vir hom baie bevredigend.
“Om te sien dat ons iets beteken in ‘n kind se lewe, wat hy of sy vir ewig sal onthou, hetsy dit was om op TV te wees en of dit was om saam met Jo Black te sing tydens die finaal hierdie jaar.”
Anthonie het vroeër vanjaar op net so skouspelagtige wyse aan sy trouvrou, Launette van Niekerk, in Thailand verloof geraak.
Launette, ’n dramaskoolonderwyseres van Parys in die Vrystaat, het dadelik verskeie van sy “boksies” afgemerk.
Nadat hy haar aanvanklik op Facebook leer ken het, het hy tydens ’n koffie-afspraak binne 45 minute geweet, “hier kom ’n ding”.
In die daaropvolgende drie maande het hy 9 000 km tussen Pretoria en Parys afgelê om haar hart te wen.
“Ek veg vir ’n doelwit. Ek hou aan met ’n ding. Ek het geweet sy is dié een.”
Anthonie het Launette in April na die Phi Phi-eilande in Thailand geneem waar hulle ’n “advertensie” sou verfilm.
Aan die einde van die video moes Launette ’n hartvormige juweliersboksie oopmaak en dan ’n briefie daarin lees. Anthonie het op ’n getikte briefie haar die groot vraag gevra en sy kon nie anders as om “ja” te sê nie.
Hy sê hy wou nog altyd sy verlowing op kamera vaslê sodat hy en sy geliefde vir altyd daarna kan kyk en ook vir ander kan wys.