Deur Seugnet van Zyl
Hy is haar gunsteling mens en hy is weer gaande daaroor dat sy altyd die mooi in mense raaksien.
Flink het met die akteurspaar, Ivan Botha en Donnalee Roberts, kort voor die première van hulle derde fliek, Stroomop, by ’n restaurant in Parkhurst, Johannesburg gepraat.
Donnalee het kort voor Ivan daar aangekom. Met sy aankoms is die vonk tussen die twee aanvoelbaar.
Sy sê hardop: “Is hy nie mooi nie,” terwyl sy hom hallo soen en hy haar liggies op haar voorkop terug soen.
Enkele dae voor dié ontmoeting, het ons ook by die boekbekendstelling van Stroomop in Pretoria ingeloer en skaars ’n paar dae later het ons met hulle gesels op die blou tapyt tydens die première van die rolprent.
Vir albei was hulle derde rolprent “’n lewensveranderende reis” gewees.
Ivan, wat dié keer nie voor die kamera te sien was nie, maar eerder van agter die regie van Stroomop behartig het, sê hy het nog nooit die Here só ervaar soos in dié rolprent nie.
“Ons het dit met Stroomop só baie ervaar en naderhand aanvaar.”
By die première van Stroomop het Ivan gesê die Here se seën tydens die verfilming van dié rolprent op die oewer van die Oranjerivier sal hom altyd bybly.
“Dit was só tasbaar met Stroomop dat dit nie eers snaaks was nie. Die stories wat ek het om te vertel, is eindeloos van hoe genade en seën neergereën het op dié projek.
Donnalee sê ook dat “God se guns tasbaar” was sedert hulle heel eerste rolprent, Pad na jou hart.
Geloof is duidelik sigbaar in dié twee se verhouding waar hulle ook later hande vat en saam bid voor hulle etensmaal.
Donnalee sê die storie vir Stroomop is drie jaar gelede in hulle “harte wakker gemaak”.
“Ons wou die gesegde stroomop uitdaag teen die wêreld se onrealistiese drome.”
Ivan sê hulle het na ’n storie gesoek wat Donnalee as akteur sou uitdaag en vir hom die geleentheid sou gee om die regie te behartig.
“Meer as dit wou ons ’n storie skep waar vrouens nie ’n man nodig het om die held te wees nie. Die belangrikheid van vrouwees in verhoudings was vir ons baie belangrik gewees om te vertel.”
Daarom is daar vyf vroue wat die hoofrolle in Stroomop vertolk.
Hierdie opwindende avontuurverhaal gaan oor meer as net lewe en dood. Dit vertel die storie van vyf vroue, wat elkeen besig is om te ‘verdrink’ en in die rowwe waters van die lewe rondgemaal word. ’n Sameloop van omstandighede neem hulle saam op ’n avontuur op die Oranjerivier. Hier gebeur die ondenkbare en hulle boot word omgegooi, die riviergids raak verlore en die vroue bevind hulleself in ’n stryd om oorlewing in die wildernis.
Die reis verander hulle lewens ingrypend, soos wat hulle saam deur seer en vrees worstel.
Met hulle eerste rolprent, Pad na jou hart, het hulle hul eie produksiemaatskappy, 17 Films, op die been gebring. Hulle sê hulle het saam met hul drie rolprente gegroei en beskou Stroomop as die “volwasse ons”.
“Ek dink hoe ons die storie en teks benader het, is meer volwasse. Ek dink ook hoe ons probleme op stel hanteer het, was baie meer volwasse,” sê Ivan.
Albei het nog altyd daarvan gedroom om eendag hulle eie stories in Afrikaans te vertel.
“Ons beginpunt is altyd: wat wil ons sê met die rolprent. Wat is die tema van dit? Dit moet iets sê. Dit moet iets beteken, want mense gee hulle tyd vir ons, wat só kosbaar is,” vertel Donnalee passievol.
Al is Stroomop nog hoog op hulle agenda gewees, het hulle ook oor hul planne vir die toekoms gepraat.
Vir nou spits hulle hul aandag toe op hulle Onder die sterre-toer, waar hulle Stroomop op massiewe skerms in die buitelug met mense gaan deel. Dan volg die bekendstelling van Donnalee se nuwe klerereeks, The Romantic Collective, waar sy nie net self haar eie klere ontwerp nie, maar ook saam met ander ontwerpers saam werk. Hulle beplan ook om hopelik teen die einde van die jaar Kaap toe te trek.
“Jou lewe lank word jy geleer om te droom en te droom en te droom en mens se droom van waar hulle wil bly, bly net ‘n droom. As ons regtig baie graag in die Kaap wil bly, hoekom dan nou nie? Hoekom is nou nie die eendag nie?” vra Donnalee.
Hulle sal steeds vir sakebelange tussen Kaapstad en Johannesburg reis.
Oor hulle trouplanne is hulle self nog onseker.
Dit blyk of hulle vir eers net hulle liefde vir mekaar en hulle verlowing vir ’n bietjie langer wil geniet en die wegholsukses van Stroomop.
“Ivan is rêrig my gunsteling mens. As ek sou kon kies om iets saam met iemand te doen, sal dit Ivan wees, want hy is my pêl.
“Ons families het destyds al gegrap en gesê ons is aan die heup verbind, want as ek iewers heen ry, móét hy saamry. Al is daar geen doel vir hom om saam te gaan nie. Daar is vir my niks erger as om ‘n herinnering iewers sonder hom te maak nie. Dan voel dit vir my ek moet daai herinnering oormaak sodat hy ook deel is daarvan.
“Ivan het onbeskryflike insig in mense en situasies en dis vir my verskriklik inspirerend. Hy is die eerste mens wat ek vir raad wil vra en die grootste les wat ek al ooit geleer het, het ek by hom geleer: Donnalee, dinge in hierdie lewe het net soveel krag soos wat jy kies om daarvoor te gee. Dit het my lewe verander. Letterlik. Dit het my soveel sterker gemaak as mens, want ek is sensitief. Ivan het ‘n kalmte aan hom wat my kalm maak. As ek saam met hom is en hy sê iets sal oukei wees, dan glo ek dít.”
Dan is dit Ivan se beurt.
“Eerstens wat ek absoluut mal oor is, is dat sy ongelooflik sexy en mooi is. Sy word só wakker. Donnalee se uitkyk op die lewe en oor mense is ook daagliks ongelooflik inspirend. Sy is altyd positief en sien altyd die mooi in mense en situasies raak.”