‘n Nuwe klipmonument vir oom Paul

Deur Seugnet van Zyl

Soos ’n berg, ongebuk,
breed en bonkig van stuk,
dis hy!

Die gelaat, hap vir hap
uit die kranse gekap,
elke kerf, elke knou
harde noodlot se hou;
elke moet, elke merk
vryheidsvyand se werk,
dis hy!

Groot-simpel gerig
deur die Woord as sy lig.

Sonder traan, sonder lag,
stil en stoer in sy krag.
Maats-egaal in sy daad,
wysheidswigtig sy raad, –
suinig woord, raak en kort
soos ’n skot uit ’n fort.
Nie soos storm wat woel,
dog onkeerbaar en koel –
soos die Vaal se vloed gly,
dis hy!

Simonskragtig gepees
soos die korpus, die gees.
Wie die weg ons berei
wat tot vryheid sal lei,
dis hy!

 

Dié gedig van Jan FE Celliers oor oudpres. Paul Kruger het as inspirasie vir ’n beeldhouer van Centurion gedien om gestalte aan ’n nuwe beeld vir Oom Paul se graf te gee ná dié graf onlangs in die Heldeakker in Pretoria gevandaliseer is.

Eerder as om die beskadigde borsbeeld bo-op dié graf bloot te restoureer, het Jacques Müller uit verskeie foto’s en afbeeldings van Kruger as verwysing met ’n hele nuwe beeld, oftewel ’n nuwe Kruger-monument soos hy dit noem, vorendag gekom.

Jacques sê dis nie ’n “klassiek anatomiese afbeelding” van Kruger nie, maar eerder “eenvoudig gestyleerd soos die volksvader wat hy was”.

Hy som dié beeld as “dinamies, baie dramaties en ’n sterk werk” op.

Met net ’n beitel en hamer het hy stukkie vir stukkie lewe aan Kruger met sy alombekende baard uit ’n stuk pienkgrysgraniet gegee.

Hoekom het hy graniet gebruik?

“Dis een van die hardste klippe op aarde, maar jy kan dit sag maak en terselfdertyd ’n persoonlikheid daaraan gee. Dis ’n element wat nie kan vergaan nie. Dis verewig. Die graniet is ook eie aan Afrika en ’n metafoor vir die hardheid en ongenaakbaarheid van die kontinent. Hy (Kruger) was ook hard. Hy was in die oorlog al van kleins af. Daar is dus ’n simbiose tussen hom en die materiaal.”

Die nuwe grafsteen bestaan uit vier dele, waaronder die afbeelding van Kruger se kop wat op drie aparte wit marmerstukke rus.

Volgens hom vorm al die dele “’n sterk eenheid”.

“Dit simboliseer ook ’n drie-enige God of ’n sterkte van geloof. Die nuwe Kruger-monument is ’n steunpilaar, ’n hoeksteen of fondament van iets baie groot of ’n monumentale entiteit. Die dele wat uit marmer bestaan, is rou gelos, wat ’n sterk metafoor vir die gedig is, maar dui ook op ’n verpersoonliking van oom Paul se persoonlikheid,” verduidelik Jacques die simboliek agter sy beeld.

Om ere aan Kruger se bekende presidensiële serp te gee, het Jacques slegs ’n epoulette op sy regterskouer uit die marmer gekerf en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)-wapen op dié serp het hy byna soos ’n watermerk subtiel op die onderste marmerklip ingraveer. In dié tyd is dié wapen ook in amptelike gebruik van die Ou Transvaal en die Hervormde Kerk gewees.

Jacques (38) het ’n nasionale diploma in beeldende kuns aan die destydse Technikon van Pretoria verwerf en hy het in beeldhou en skilderkuns gespesialiseer.

Hy put inspirasie uit die natuur, die lewe in die algemeen en die onvermydelike proses van verganklikheid. Sy skilderye en beelde “leef” in vrede saam deur die gebruik van abstrakte elemente soos kleur in sy skilderye en beide organiese en anorganiese voorwerpe in sy beelde om ’n realistiese geheelbeeld te skep. Die kortstondigheid van die lewe is duidelik sigbaar deur die kreatiewe proses om die onvermydelikheid van tyd te beklemtoon.

Jacques het al beeldhou- en skilderwerk in opdrag van korporatiewe en private versamelaars gelewer. Sy werk is ingesluit in verskeie versamelings regoor Suid-Afrika, Australië, Italië en die V.S.A.

Die nuwe Kruger-monument sal op 10 Oktober ingewy word en die gerestoureerde borsbeeld sal later dié maand ’n ereplek by die Voortrekkermonument in Pretoria inneem.