Sedert Ray Dylan in 2005 groot sukses met sy album Hokaai stop die lorrie behaal het, het hy een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars geword, maar hy het lank laas ’n nuwe Afrikaanse album vrygestel.

Ray se laaste album was ’n uitstekende huldeblyk aan Roy Orbison, maar nou is hy terug met die tipe musiek wat hom in die eerste plek gewild gemaak het; Uitbasuin is sy eerste Afrikaanse album in ’n paar jaar.

Die eerste snit op die album is ook die eerste enkelsnit, naamlik “Vir ewig jonk”. Dit is ’n liedjie wat by Ray se aanhangers byval sal vind en dit het reeds ’n treffer geword. “Liedjieskrywer” is ’n komposisie van Neil Schoombee en Don Kelly en hierin sing hy van iemand wat nie vir sy geliefde kan sê hoe hy voel nie maar hoedat hy dit met behulp van ’n liedjie kon doen.  Ray het die titelsnit saam met Don Kelly, Adolf Vorster en Dirk van Niekerk geskryf en dit is seker een van die beste snitte op die album. Op : You’re my everything” bewys Ray dat hy ewe goed Engels as Afrikaans kan skryf. Ray het “Jy’s my eerste, jy’s  my laaste” saam met Adolf Vorster en Neil Schoombee geskryf; dit is ’n baie mooi snit wat  ’n treffer behoort te wees. Op “Ek is wie ek is” wys Ray dat hy nie vergeet het hoe om te “rock” nie; hierop sing hy van dinge waarmee hy grootgeword het. Hier teen jou lyf is nog ’n snit wat Ray help skryf het, en dit is nog ’n snit wat byval by sy aanhangers behoort te vind. “Keep on believing” is nog ’n baie goeie Engelse komposisie wat ’n groot treffer  behoort te word. “Lig in die tonnel” is nog ’n uitstekende snit; dit verdien om baie radiolugtyd te kry. Die woorde van “Dis nooit te laat nie” is ’n bewys dat Ray “grootgeword” het, want dit het meer om die lyf as baie van die liedjies wat hy vroeër jare gesing het. Ray het “Breek my” saam met Marc Brendon en Don Kelly geskryf; dit is nog ’n moontlike treffer. In “’n Vriend soos jy” sing Ray van die waarde van ’n jarelange vriendskap; hy het die woorde en musiek geskryf. Liezel Pieters is, saam met Ray, deel van 4 Werke; hulle sing die pragtige snit “Just a fool”, wat oorspronklik deur Christina Aguilera en Blake Shelton opgeneem is, saam en hul weergawe is net so goed soos die oorspronklike een. Die laaste snit, “Woorde”, is nog een van Ray se komposisies; dit is ’n baie mooi snit wat dalk nie soveel radiolugtyd sal kry as wat dit dalk moet nie, maar hopelik is dit nie die geval nie.

Dalk moet ’n mens nie te gou praat nie, maar dit lyk asof Uitbasuin ’n waterskeiding vir Ray is; die lirieke van omtrent al die snitte het baie meer om die lyf as voorheen, en dit lyk asof hy saam met sy aanhangers ontwikkel het. Daarom kan hierdie album sterk aanbeveel word, selfs vir dié wat hom in die verlede gekritiseer het.