Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Die sanger en liedjieskrywer Pieter Smith (43) krap aan sy drie dae oue-stoppelbaard. “Sien jy, ek kry ’n dubbelken. Die swaartekrag tree in.” ’n Gie-gie bars uit sy solar plexus. Yolandi, Pieter se vrou, kyk hom geskok aan, “Is nie liefie, jy lyk baie goed vir jou ouderdom.”

“Hmmm, wat bedoel jy?”

Dit is ’n Donderdagmiddag en dié twee het vinnig weggebreek van hulle kroos. Alexei is  22-maande en hulle baba, klein Pieter Dawid (die tweede) is nou twee weke oud.

Yolandi, wat reeds weer haar vietse lyfie in haar voor-swangerskap klere kan giet, blaai deur haar selfoon. “Kyk net onse ou babatjie,” spog sy. Die mondjie vol – soos sy pa s’n. Die ogies blouselblou.

Pieter kyk ook na die foto’s. “Hy lyk net soos dáárdie ou ooms in die vermaakbedryf.”

Tandlose bekkie en die ene babaplooie …

“Sies, liefie,” lag Yolandi. 

Maar al het Pieter altyd ’n-grappie-op-stokkie, selfs al is dit ten koste van sy kroos of homself, is hy baie erg oor sy naamgenoot. “Hy gaan volgende jaar saam Australië toe. Ons moes vir hom ’n paspoort kry. Was dit nou ’n gesukkel met die paspoortfoto’s. Hy wou nie vir die kamera kyk nie. Ons het vir 20 minute gesukkel om die foto’s te neem.”

Pieter is so sinoniem met Pretoria soos die Uniegebou, die jakarandas en die Universiteit van Pretoria. En natuurlik die FAK-liedjies. Hy was tog die een wat sowat 20 jaar gelede begin het om “Heidi”en “Hasie”en “Sarie Marais”weer cool te maak.

Geen student sal ooit sy Dinsdagaandkonserte by die nou gestorwe Firkin-kuierkroeg vergeet nie.

Ná ’n paar oorspronklike CD’s het die spoke van die verlede begin om vir Pieter te teister. Die tartgeeste en die dwalendes en ja, die Waterbobbejaan.

Geskiedenis, vervloë dae en stories, dit is Pieter se achilleshiel. “Ek het met stories groot geword.  Die Smitte en die Venters (sy ma se familie) is almal storievertellers.”

En om in Potchefstroom groot te word – tussen Totius se drome en Sarie Marais se Mooirivier – het ook seker gehelp om die storieliefde te voed.

Maar Pieter het vir nou eers die spoke met rus gelaat en hy het die afgelope paar maande die spoor van ou Afrikaanse liedjies – daardie liedjies waarvan die lirieke en komposisies nog oorspronklik was – gevolg. “Ek het na dié sangers gaan soek wat die fondamente gebou het van wat ons vandag Afrikaanse musiek noem.”

Sy splinternuwe CD, Die storie van Afrikaanse musiek 1, word middel November uitgereik. “Ek het op musiek van die vroeë twintigste eeu tot hier om en by die sewentigs gefokus.”

Hy het self by Daantjie Badenhorst, beter bekend as Daantjie Dinamiet, die musiekkenner gaan kers opsteek.

Wie het “Oom Bossie van die Bosveld”geskryf? “Danie Bosman.”  In watter jaar is die eerste Afrikaanse liedjie opgeneem? “1906.”  Wie het “My Sarie Marais”geskryf“Niemand het hom ooit die erkenning gegee wat hy verdien het nie; dit was Fred Mitchel.

Noot-vir-Noot saam met Pieter …

Nou wie sou die R50-noot by Johan van Rensburg gekry het? Daantjie of Pieter?

“Hmmm,” sê Pieter.

Pieter is ’n ou siel en daarom het hy dit geniet om so tussen die spoke van die “legends” te kuier. “Mense soos Cissie en Willie Cooper, Chris Blignaut en Dawid de Lange was die supersterre van hulle dag.

“Ek hou veral baie van Dawid de Lange. Hy was ’n regte ou rebel. Hy was ’n gewone ou wat net wou gekskeer, hard werk en dop steek,” lag Pieter. “Die destydse SAUK-radio het geweier om van sy liedjies te speel, want die temas het gehandel oor drank en ander mans se vroue.

“Soos die een …”

En net daar trek Pieter los: “Nou voel ek sommer baie lekker vol. Hier is ’n lekker bier, drink hom weer. Hier’s ’n lekker bier, drink hom weer. Nou voel ek sommer lekker vol, lekker vol.”

Pieter raak sommer melankolies oor die ou dae en musiek waar die lirieke kort was en musieksolo’s langer. “Regte musiek.”

Hy het ook al ‘n paar teatervertonings gehou, waar hy stories oor die sangers met hulle musiek kombineer. “Ek beplan ‘n trilogie waar ek na musiek van die sewentigs kyk.”

Soos Leon van Nierop oor ou Afrikaanse rolprente voel, so voel Pieter oor ou Afrikaanse musiek.

Yolandi kyk vinnig op haar horlosie. “Ons moet ry.”

Gaste wat die nuwe toevoeging tot die Smith-gesin kom besoek.  “Goed, Yolandi.”

Voor hy by die restaurant uitloop, knipoog Pieter: “Daar woon my Sarie Marais.”  ’n Speelse verwysing na die groot liefde in sy lewe, sy Yolandi.