Met die Ghoema-musiektoekennings vroeër vanjaar het ’n nuwe groep die toekenning as die publiek se gunsteling gewen.

Tussen Sterre se debuutalbum, Kosmies, het kort tevore verskyn en die feit dat hulle so goed deur die publiek ontvang is, is ’n bewys dat hulle sommer gou by musiekliefhebbers aanklank gevind het. Die groep bestaan uit Jan-Mattys van Lill, SJ van Dyk en Martin Earle.  Al drie groeplede is voltydse musikante; Jan-Mattys het Suid-Afrika in 2009 in ’n sangkompetisie in Los Angeles verteenwoordig, SJ kan kitaar, klavier en tromme speel en Martin is ’n kitaaronderwyser wat aan die Campus of Performing Arts gestudeer het en al as musikant in Doebai gewerk het.

Die album begin met ’n inleiding van ’n minuut en ’n half lank, en daarna volg “Nostalgie”, soos al die snitte ’n spanpoging tussen hulle. “Blou maan liefde” is nog ’n baie goeie snit wat die potensiaal het om ’n treffer te word. Een ding wat regtig sterk in hul guns tel, is die feit dat daar geen deurmekaar taalgebruik in hul lirieke is nie.  Die lirieke van “Hemelrym”, waarop Bouwer Bosch saam met hulle sing, stuur ’n uiters belangrike boodskap uit, naamlik dat jy jouself moet aanvaar en dat ander mense jou ook moet aanvaar al dink jy anders as hulle. Ongelukkig gebeur dit nie, selfs nie in vandag se samelewing waarin daar meer verdraagsaamheid vir mense se verskille is nie. “Gee ’n bietjie hoop” sluit baie daarby aan; dit verwoord die verskil wat mense in mense se lewens kan maak, baie goed.  “Wenteldans” is nog ’n lekker snit wat verdien om ’n treffer te word. “Gewoonte as verliefdheid” is ’n baie mooi snit wat hul veelsydigheid baie goed ten toon stel. Nie net is die kitaarwerk  baie goed nie, hulle harmonieer ook baie mooi. “Tien uit tien” is die teenoorgestelde; dit is ’n lekker rock-snit met ’n sterk boodskap, naamlik dat ’n mens verder as net die ooglopende  moet kyk en dat mense jou dalk sal verras as jy net dieper kyk. In “Net vriende” sing hulle van iemand wat net in vriendskap, eerder as ’n verhouding, belangstel. “Agapé” is die Griekse woord vir Christelike liefde sonder romantiese bedoelings; dit is die jongste snit waarvan ’n musiekvideo vervaardig is en ook die huidige enkelsnit vanaf die album. Die boodskap is dat hierdie tipe liefde belangriker as romanse is.  Dit is ’n jammerte dat “Vir ewig ’n goeie tyd” aan die einde van die CD voorkom; dit is ’n baie goeie snit wat reeds ’n treffer geword het en waarvan ’n musiekvideo ook al gemaak is.

Daar is ’n paar dinge wat Tussen Sterre van ander hedendaagse Afrikaanse kunstenaars en groepe onderskei. Die feit dat hulle almal musiekopleiding gehad het en nie sommer halsoorkop in die bedryf in gespring het nie, kom duidelik na vore. Hulle neem hul musiek ernstig op, al is hierdie album op ’n kommersiële manier gemik, en dis goed om te sien dat die hele album uit oorspronklike komposisies bestaan en dat daar geen Engelse lirieke voorkom nie. Daarom is hierdie album een van die beste debuutalbums wat in ’n lang tyd vrygestel is.