Vroeër vanjaar het Pieter Smith ’n vertoning saamgestel waarin hy hulde gebring het aan die kunstenaars wat die grondslag van Afrikaanse musiek gelê het, en hy het belowe dat ’n CD met die musiek daaruit een of ander tyd vrygestel sou word.
Baie mense weet natuurlik ook dat Pieter ’n liedjieskrywer en sanger in eie reg is. Pieter se mees onlangse album, Op die eerste een, is al ’n rukkie gelede vrygestel, en bevat niks anders as sy eie komposisies nie. Daar is ongelukkig te min Afrikaanse kunstenaars wat dit deesdae doen, en in hierdie opsig kan hy met legendes soos Anton Goosen, Coenie de Villiers en Koos du Plessis saamgesels. Hierdie album is opgeneem onder die regie van Christo en Cobus Snyman asook Nic Stevens (Stephan Snyman), wat saam as Broers bekendstaan. Hulle sing saam met hom op die eerste snit, “Rooiwyn”. Die kitaarspel op die titelsnit is baie goed. Dit gaan oor die frustrasie van iemand wat deur die naweek moet swoeg en wat nie vir die naweek kan wag nie. Die bekende akteur Ben Kruger, wat deesdae die rol van oom Ockie Ferreira in Binnelanders vertolk, kan in die musiekvideo gesien word. “Daar sing die see” is ’n lekker snit wat beslis radiolugtyd verdien. Karen Ferreira het lank laas nuwe musiek vrygestel, maar sy sing saam met Pieter op “Wat jy aan my doen”. Dit gebeur nie aldag dat ’n mens ’n trompet in ’n hedendaagse liedjie hoor nie, maar Nic Stevens bespeel een in “Die heel beste lekker”, ’n besliste treffersnit. “Met hierdie hart” is, naas die titelsnit, die een snit op die album wat tot dusver ’n treffer geword het, en dis maklik om te verstaan hoekom.
Pieter weet hoe om ’n storie te vertel, soos wat hy op “Oom Thys de Beer” bewys. Pieter gee aan Pietie “Vleishuis” Engelbrecht van Lambertsbaai erkenning vir die inspirasie agter hierdie liedjie; ’n mens weet nie of Pietie hom dalk ken en die storie vir Pieter vertel het nie. Die hele CD was tot dusver heel vrolik, maar op “Een uit ’n miljoen” wys hy dat hy ook ’n rustige kant het. “Alle paaie lei na Pretoria” is ’n lekker snit, maar ’n mens wonder wat die Kapenaars daarvan sê. Enigiemand wat van Pretoria af kom, sal egter daarvan hou. Ricus Nel speel die konsertina op “Elandsbaai se groot bye”, en ’n mens lag lekker vir die lirieke. Die laaste snit, “Shongololo”, is nog ’n hoogtepunt wat eintlik ook radiolugtyd verdien.
Soos gewoonlik het Pieter weer vorendag gekom met ’n album wat ’n lekker vermenging van ernstige en vrolike liedjies bevat en die feit dat hy sy eie musiek skryf en komponeer, beteken dat hy kop en skouers uitstaan bo die kunstenaars wat hoofsaaklik liedjieskryfkomitees se komposisies sing. Daarvoor verdien hy die grootste respek en ’n mens hoop dat hy nog lank hiermee sal volhou.