Sexy vi my – Dirk van der Westhuizen

Dit was seker omtrent vyf jaar gelede toe Dirk van der Westhuizen die publiek woedend gemaak het met sy trefferliedjie “Superhero”, waarby hy Psy se trefferliedjie “Gangam style” ingewerk het.

Hy en sy destydse platebaas het destyds gereeld haatpos en -boodskappe gekry, maar sedertdien het Dirk se gewildheid verder toegeneem, veral toe sy album #Ons wil en ons kan die treffers “Gooi jou suiker op my” en “Spoel my af” opgelewer het.

Nou is hy terug met sy jongste album, Sexy vi my, en dit lyk asof hy selfs groter sukses gaan behaal. Die titelsnit is ’n komposisie van Johan Oberholzer, wat al treffers vir verskeie kunstenaars geskryf het en het al tot verskeie radiostasies se trefferslyste toegetree. Dit vind veral byval by jonger luisteraars terwyl diegene wat in hul dertigerjare of ouer is dalk hul neuse daarvoor sal optrek. Dirk het “Gaan mal” saam met Ferdinand Skead geskryf en is presies op dieselfde teikenmark gemik. “Hey jy” laat ’n mens baie dink aan Snotkop, en sy aanhangers behoort ook daarvan te hou. “Temptasie” (hoekom nie versoeking nie?) sit die sentrale tema net verder voort.

“Die Tennis Tune” is geskryf deur Sorina Erasmus; Sorina se “alter ego”, die Flooze, sing dit saam met hom en dit is ook op haar nuwe CD. “Telefoon” is nog ’n komposisie van Johan Oberholzer; dit is dalk een van die beter snitte op die album. “Mic drop” sal sonder twyfel by die album se teikenmark byval vind, maar dit is omtrent waar dit bly. “Laat die dansvloer stamp” is ’n komposisie van Vincent Gordon saam met Ferdinand Skead, en Vincent se stem kan ook op hierdie snit gehoor word. “Jy weet jy’s hawt” sal dalk aanklank vind by tienermeisies, maar byna vir seker by niemand anders nie. Tot dusver is elke snit daarop gemik om die dansvloere vol te kry, maar “Net so (mmm)” is ’n bietjie rustiger. Met “Kyk weg” draai hy egter weer die krane oop; die boodskap is dat jy moet stilbly as jy nie hou van wat jy hoor of sien nie. “Lyftaal” is dalk ook een van die beter snitte op die album. Dirk het “Luuks” saam met Ferdinand Skead geskryf; die boodskap, dat ’n mens nie moet dink jy is beter as ander nie, word heeltemal deur die musiek oorweldig. “Mos” is die laaste komposisie van Johan Oberholzer. Gelukkig is nie elke snit op die album op die dansvloer gemik nie; “Op die ou end”, geskryf deur Vaughn en Nerine Gardiner, is ’n bewys dat hy tot beter in staat is. Ongelukkig is die heel beste snit op die album, “Hy is hoop”, heel laaste op die album en dit kan as ’n Christelike snit beskou word.

Dit is duidelik dat hierdie album op ’n jonger gehoor gemik is; as jy in jou tiener- of twintigerjare is, sal jy dalk daarvan hou, maar as jy ouer as dit is, moet jy liewer iets anders kry om na te luister.