Sedert hy in 2011 die album Ek laaik van jol vrygestel het, het Snotkop se gewildheid al hoe meer toegeneem.

Voor die tyd is hy beskou as ’n sanger en rymkletser wat hoofsaaklik by jonger luisteraars byval gevind het, maar sedertdien het hy gewys dat sy musiek ook aanklank by mense van alle ouderdomme kan vind. Sy jongste album, Sous, is pas uitgereik.

Met die eerste snit, “Souserig”, wat ook die eerste enkelsnit is, kom ’n mens agter dat sy lirieke al hoe meer gewaagd word; die musiekvideo van “Hoe lyk dit”, vanaf sy vorige album, is immers deur kykNET afgekeur. Nog ’n neiging wat in hierdie snit na vore kom, is dat hy kos en dit waaroor ’n mens eintlik nie mag skryf nie, bymekaar bring. Hoewel hy nie vuil taal gebruik soos wat hy al in die verlede gedoen het nie, stuur dit nie ’n boodskap uit wat vir jong mense se ore bedoel is nie. “Kortbroek en plakkies” is ’n lekker snit waarop hy sterk standpunt inneem teen mense wat dink hulle is beter as ander. Hopelik sal dit ’n treffer word. “Dik in Desember” is onbeskaamd gemik op almal wat Desember as ’n tyd vir vakansie en kuier beskou. “Dropit soos ’n Disprin” het ’n lekker ritme en sal die dansvloere gou vol kry. In “Brannas” sing Snotkop van brandewyn en Coke en weer eens sal dit nie by almal byval vind nie. Snotkop sal die getroude vroue sekerlik woedend maak met “Jy raas”, want hy sing van vroue wat die heel tyd kla oor hul mans se doen en late. Loki Rothman sing saam op “Alles gaan okay wees”, ’n snit met lirieke wat die mees moedelose mens hoop sal gee. Hopelik sal dit ’n treffer word; dit is een van die heel beste snitte op die album.

“Proe soos naweek” is nog ’n snit wat gemik is op diegene wat daarvan hou om partytjie te hou. Jeukerig is nog ’n snit met effens gewaagde lirieke; dit is dalk effens subtiel maar daar kan geen twyfel oor die boodskap bestaan nie. “Plat plaasmatras” is ’n lekker snit waarop Ricus Nel konsertina speel. “Izzit” is nog ’n snit met effens stoute lirieke, en veral jonger luisteraars sal van die loslit-taalgebruik hou. “Moenie dat Maandag jou Sondag bederf nie” is ’n snit met ’n lekker reggae-ritme en hierin sing hy van ’n naweek wat te gou verbygaan. Die laaste snit op die album is “Voetsoots”; die boodskap is dat ’n mens hom moet aanvaar soos hy is, met sy foute en al.

Op die ou einde hang dit af van wat jy nog altyd van Snotkop gedink het. Ongelukkig is daar op hierdie album weinig tekens van sy dieper kant, soos wat ’n mens met “Dis ’n land” of “Song vir my Dad” gehoor het; hierdie album is suiwer gemik op diegene wat die lewe wil geniet en partytjie wil hou sonder om hulle oor enigiets te bekommer. As jy jonk, of jonk van gees is, sal jy van dié album hou. Hierdie album sal Snotkop se getroue aanhangers tevrede stel, maar as jy effens ouer is, moet jy dalk twee keer dink.