Omtrent vier jaar gelede het twee van die grootste name in die plaaslike musiekbedryf, Jannie Moolman en Corlea Botha, vir die eerste keer saamgespan en ’n oorwegend Afrikaanse album getiteld Alle paaie lei na Rome, vrygestel.
Jannie is al jare lank een van Suid-Afrika se suksesvolste tenore en het al ’n duetalbum saam met Rina Hugo vrygestel. Corlea het al drie albums saam met Rudi Claase opgeneem en haarself ook al as solokunstenaar gevestig.
Nou is hulle terug met hul jongste duetalbum, Unforgettable, waarop hulle pop- en klassieke treffers sing, maar waarop hoegenaamd geen Afrikaanse snit voorkom nie. Die eerste snit op die album, “You’ll never find another love like mine”, is oorspronklik in 1976 deur Lou Rawls opgeneem en het die eerste plek op Springbok Radio se Top 20 bereik. Sedertdien het Michael Bublé dit ook opgeneem en Jannie en Corlea se weergawe herinner baie aan die laasgenoemde een. Daar was twee liedjies met die naam “Love changes everything” wat in die laat 1980’s treffers was, maar Jannie en Corlea het, heel voorspelbaar, besluit om die een wat deur Andrew Lloyd Webber gekomponeer is, by hierdie album in te sluit. Die titelsnit is oorspronklik deur Nat King Cole opgeneem en later is die stem van sy dogter, Natalie, deur middel van tegnologie bygevoeg. Die volgende snit is ’n verrassing; een van ’n handjievol werklik modern snitte op die album. Ariana Grande het “E piu ti penso” oorspronklik opgeneem. Dit is ’n pragtige snit en hul vertolking daarvan is iets besonders. “You are the song” is ’n komposisie van die plaaslike komponis Sean Butler en dit is weer eens ’n baie goeie snit. “Annie’s song” is deur John Denver geskryf en oorspronklik gesing en dit werk baie goed as ’n duet. “Always on my mind” is een van twee snitte wat oorspronklik deur Elvis Presley opgeneem is en sedertdien in verskillende genres gesing is, maar Jannie en Corlea gaan terug na die oorspronklike styl van hierdie liedjie en dit klink baie goed.
Die Swing-medley bestaan uit liedjies uit die big band-era, naamlik “Fly me to the moon” en “Come fly with me” van Frank Sinatra en “Ain’t that a kick in the head” van Dean Martin. Hulle bewys dat hulle ook hierdie tipe musiek baie goed kan sing. Lionel Richie het “Endless love” as temaliedjie vir die gelyknamige rolprent geskryf en dit saam met Diana Ross gesing. Jannie en Corlea se opname vergelyk baie goed met die oorspronklike een. Die een werklik klassieke snit op die album is “Merry Widow Waltz” uit die operette Die lustige Witwe (The merry widow) wat deur Franz Lehar geskryf is. Die volgende snit is nog ’n verrassing, naamlik “Run”, wat oorspronklik deur Snow Patrol gesing is. Jannie en Corlea sing dit in ’n hoër toonaard, en hul weergawe klink baie goed. “Quando quando” was oorspronklik ’n treffer vir Engelbert Humperdinck en Jannie en Corlea is dalk die eerste sangpaar wat dit as ’n duet opneem. “Can’t help falling in love” is die tweede Elvis Presley-treffer wat al in verskeie genres gesing is, maar Jannie en Corlea se opname herinner weer eens aan die oorspronklike een. Josh Groban en Barbra Streisand het David Foster se komposisie “All I know of love” oorspronklik opgeneem, en Jannie en Corlea se weergawe is net so goed soos die oorspronklike een. Die laaste snit, “I want to spend my lifetime loving you”, oorspronklik gesing deur Marc Anthony en Tina Arena, is een van die heel mooiste liefdesliedjies wat nog ooit vrygestel is en dis goed dat Jannie en Corlea dit ingesluit het.
Hierdie album bied ’n verskeidenheid kontemporêre en klassieke snitte wat dalk nie noodwendig in jonger luisteraars se smaak sal val nie, maar eerder gemik is op diegene wat op soek is na ’n album wat die toets van die tyd sal deurstaan en waarna ’n mens nog sal luister as jy van hedendaagse treffers vergeet het.