Dit is omtrent twee jaar sedert die publiek vir die eerste keer met Refentse kennis gemaak het.

Hy het voor sy huis in Vanderbijlpark gesit en Bok van Blerk se treffer “De la Rey” gesing, en toe ’n video daarvan op YouTube geplaas is, het hy ’n CD-kontrak losgeslaan. Die res is geskiedenis.

Nou is hy terug met sy derde CD, Liefdegenerasie, en die vraag is of sy gewildheid dalk verder gaan toeneem. Die eerste snit, “Reisiger”, is iets heeltemal besonders en dalk een van die heel beste liedjies in Afrikaans tot dusver. Vir die eerste keer het Refentse ’n liedjie in Zoeloe opgeneem, naamlik Sonja Herholdt se treffer “Jantjie”. Dozi, wat vlot Zoeloe kan praat, het die Zoeloe-woorde geskryf. Die titelsnit is iets besonders; die lirieke het baie meer om die lyf as die meeste Afrikaanse liedjies wat deesdae oor die radio gehoor word. “Baie gevaarlik” is nog ’n uitstekende snit wat jou lekker sal laat lag. Refentse het selfs ’n reël uit die FAK-liedjie “Daar kom die Alibama” ingesluit, asook die sportliedjie “Jamblikke visblikke”. Die gedeelte wat hy rymklets is nog ’n hoogtepunt. Refentse se weergawe van Karen Zoid se treffer “Deurmekaar” is doodeenvoudig skitterend. Stef Bos sing saam met hom op “Suikerbossie”; nog ’n absolute hoogtepunt. Dis lekker om te sien dat Stef al hoe meer saam met Afrikaanse kunstenaars werk. “Jy”, nog een van Refentse se eie komposisies, het ’n lekker reggae-ritme, wat nie genoeg in Afrikaans gehoor word nie.

Refentse het “Ek glo in liefde” saam met Marc Brendon en Don Kelly geskryf (in der waardheid is hulle Kosie van Niekerk en Ernst Kleinhans van Select Musiek), en die woorde laat ’n mens dink. Hierin sing hy van die mooi dinge in die lewe waarin hy glo. Daar is net een Engelse snit op die album, naamlik “Beauty of Africa”; weer eens met ’n reggae-ritme. Met hierdie snit bewys hy dat hy ewe goed Engels as Afrikaans kan skryf. Koos du Plessis was die beste liedjieskrywer in die geskiedenis van Afrikaanse musiek; en met sy pragtige weergawe van “As almal ver is”, bring Refentse hulde aan hom. “Doringkroon” is nog een van Refentse se oorspronklike komposisies, en weer eens ’n hoogtepunt. Dit is goed om ’n effense rock-klank in hierdie snit te hoor. Een van die heel beste nuwe kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel is Elandré; hy en Refentse het “Dalk saam” geskryf en hulle sing dit ook saam. Dis jammer dat hierdie snit die laaste een op die CD is.

Met hierdie CD bewys Refentse finaal dat hy nie net ernstig opgeneem behoort te word nie, maar ook dat hy een van ons land se beste Afrikaanse kunstenaars is. Hierdie album is ongetwyfeld sy beste een tot dusver, en dalk ook een van die heel beste Afrikaanse albums van die jaar. Dit kan eenvoudig nie sterk genoeg aanbeveel word nie.