“Om te act is om te luister,” só sê die 21-jarige Elani Dekker wat die rol van Lisa in die romantiese drama Liewe Lisa, vertolk. Wanneer sy oor haar persoonlike ontwikkeling as aktrise gesels, voeg sy by dat om teenwoordig te wees in elke oomblik en om toe te laat dat wat ook al gebeur haar beïnvloed, op ’n manier help dat sy fiks bly om toneel te speel. Van kleins af was Elani storiebehep en deesdae kan sy hierdie passie op die silwerdoek en as lektor uitleef.
Toe Elani op 16 moes vakke kies, nes al die ander kinders van haar ouderdom, wou sy eerder stories vertel. Haar behoefte was egter nie om toneel te speel nie, maar om ‘eendag’ agter die kamera as regisseur te werk.
In 2015 het sy toe besluit om Lelia Etsebeth en Jacques Bessenger se Acting on Screen-opleidingskursus by te woon, met die doel “om te gaan, maar om agter in die klas te sit en niks te doen nie” en eerder te kyk hoe om met akteurs te werk. Uit die aard van die kursus word sy verplig om toneel te speel en vir die eerste keer het Elani gemaklik tussen vreemde mense gevoel. In dieselfde jaar het sy ook opleiding in Amerika ontvang, wat onder andere ’n Acting on Film-kursus by die gesogte New York Film Academy, insluit.
Ongeveer ’n jaar later is Elani vir haar eerste rol in ’n film gekies. Sy onthou dat Lelia haar gebel het om te hoor of sy ’n oudisie vir Jou Romeo sal doen en dat sy op die dag van die oudisies onseker gevoel het tussen talle ander meisies wat baie meer ervaring as sy gehad het. “Dit breek my brein dat kykNET besluit het om die rol vir hierdie meisie te gee wat niks ervaring het nie,” vertel sy oor haar eerste hoofrol. Sedertdien het sy ook in Vaselinetjie en Raaiselkind gespeel, sowel as in Toorbos wat vroeg in 2020 vrygestel sal word.
Elani is van die begin van 2019 af ook as lektor betrokke by Bright Light Film Academy, ’n inisiatief wat filmopleiding aan hoërskoolleerders verskaf. Die kursus vorm nie deel van die skoolkurrikulum nie en word dus as buitemuurse aktiwiteit aangebied. Elani erken dat sy aanvanklik skrikkerig was, omdat sy nie die teoretiese kennis van film het nie. Maar sy het gou besef dat haar ervaring in die bedryf uiters waardevol is.
Oor haar ervaring van Liewe Lisa vertel sy dat dit anders was as enige film waarin sy al gespeel het, grootliks weens die vryheid wat Hendrik en Johan Cronjé as vervaardigers gehad het. Hendrik vertel soos volg: “Ware onafhanklike films gee jou die vryheid om ’n storie te skryf en te konseptualiseer soos jy wil of bedoel”. Elani meen dat sy juis as gevolg hiervan ongelooflik baie respek vir die Cronjé-broers het, wat Liewe Lisa eiehandig en onafhanklik gemaak het.
Wanneer sy oor haar loopbaan, opleiding en die lewe praat, word dit duidelik dat Elani nie bang is om openlik haar geloof en verhouding met God te erken nie. Haar storie getuig van genade en ’n opregte dankbaarheid, wat die dryfveer agter haar menswees is.
Interessante feite:
Liewe Lisa is op 14 Februarie 2019 vrygestel. Vir meer inligting oor die film en ’n lys van fliekteaters waar die film vertoon gaan word, besoek die film se Facebook-blad.