Deur Dik en Dun: Lekker kos en stories uit ou Pretoria
Outeur: Riana Mulder
Uitgewer: Die Erfenisstigting
Kyk jy by jou karvenster uit wanneer jy deur die Daspoorttonnel ry, vir die Fonteinesirkel se verkeerslig wag of parkering by ʼn besige Pretoriase winkelsentrum soek, kan jy jou glad nie die nedersetting indink wat byna 200 jaar gelede soos ʼn skoon skilderdoek hier gelê het nie. Die eerste inwoners was dik gelap en dun gesaai. In Deur Dik en Dun ontmoet jy die mense wat die fondament vir vandag se polsende Pretoria gelê het, en hoe hulle dit gedoen het.
Die boek neem mens op ʼn voëlvlug van die Pretoria van ouds – oor die Kashanberge in die vroeë 19de eeu in die tyd van die Difaqane, verby die Apiesrivier, tot by kerkplein se eerste kerkie met sy omringende hartbeeshuisies en reusedoringbome. Jy sweef oor baie water en mooi tuine, oor kroeë en bakkerye. Jy sien verjaarsdagvieringe, krieketwedstryde, musiekaande en pieknieks en leer só heelwat meer oor die leefwyse van vroeër jare.
Burgerspark en die Melrosehuis verskyn deftig op die toneel, terwyl Marabastad aan die ander kant van die dorp ook staanplek kry. Jy sien hoe die eerste trein Pretoria binnestoom en verwonder jou aan die Bloutrein se weelde. Jy bewonder die Irene-plaas se lower, maak ʼn draai by die dieretuin en vertoef natuurlik ʼn wyle by die Uniegebou. Britse besetting en dreigende oorlog gooi ʼn skadu oor die mooi prentjie, maar oorheers nie die boek nie.
Daar word oor sendelinge en jagters vertel, oor Voortrekkers en pioniers. Bekendes soos Robbert Moffat en Mzilikazi, C. Louis Leipoldt, Jeppe, Paul Kruger, Skinner, Eugene Marais, Nellmapius en die Britse koningsgesin vertolk hul ererolle in die stad se lewensverhaal, maar word goed afgewissel met minder bekende stories en staaltjies oor gewone mense, soos veldkornet Andries van der Walt en Lang Piet Marais. Interessante karakters van Engelse, Duitse en Nederlandse afkoms het ook vir sports gesorg en ʼn mens lag lekker oor dié gebeure, waaroor jy nie in algemene geskiedenisboeke sal lees nie.
Behalwe vir die 226 bladsye vol feite en stories uit Pretoria se geskiedenis, bevat die boek ook ‘koskassies’ wat elke stukkie geskiedenis met kos verbind, en 92 resepte – oud én modern – wat op die geskiedenis gebaseer is. Dit is pragtig op glanspapier uitgelê met oorvloedige foto’s wat die verhale en resepte uitstekend uitbeeld.
Daar is Matabele-resepte, wildsresepte, kos uit elke era met beskrywings van hoe dit gemaak en geëet is. Daar is Joodse en Indiese resepte wanneer oor Sammy Marks en Marabastad vertel word en natuurlik boerekosresepte te kies en te keur. Pap en wors, boerebrood en konfyt, biltong en beskuit word in kleur en geur beskryf. Watter Afrikaner-resepteboek is volledig sonder roosterkoek, vetkoek, pannekoek en pampoenkoekies? ʼn Mens ruik sommer die vars piesangbrood en sien voor jou geestesoog hoe dit tydens ʼn piekniek by die Fonteine stukkie vir stukkie met ʼn beker boeretroos afgesluk word. Dié boek is ʼn plesier vir die sintuie.
Met my mond wat knaend water het my hande behoorlik begin jeuk om ʼn paar resepte te beproef. Ek het op drie besluit – gebakte vla, moderne mosbolletjies en Hollandse spekulaas. Elke eksperiment was ʼn smaaklike sukses en ek was veral beïndruk met die spekulaas – dis werklik ʼn wenner!
Hoewel die resepte ʼn aanwins is, onderskei die sappige stories wat Deur Dik en Dun vertel dié boek van ander. Jy kan as’t ware sê die goed nagevorste vertellings is die hoofgereg en die resepte die bykosse. Die foto’s is nagereg, sodat die leser versadig en tevrede van dié tafel af kan opstaan.
Deur Dik en Dun is ʼn versamelstuk vir geskiedenisliefhebbers en Pretorianers in hart en siel. Die sketse en ou foto’s van Pretoria en die omgewing is werklik waardevol en gee konteks aan die stories – al wat kortkom is ʼn klankbaan om die ervaring te vervolmaak!