Openbarings plaas godsdiens in die kollig

ODeur Christa Steyn

o⦁pen⦁baar ww. [het ge-] 1 laat ken; onthul 2 laat sien; vertoon 3 bekend maak; rugbaar maak

Die woord openbaring kan eenvoudig dui op ’n bekendmaking van gebeure, aankondiging van ’n boodskap óf vanuit ’n geloofsperspektief kan dit verwys na bepaalde geloofswaarhede en -beginsels. Christene sal byvoorbeeld die laaste boek van die Bybel in herinnering roep, terwyl ander kerke of godsdienste met leerstellings vanuit húlle geloofspraktyke sal vereenselwig.

Dié assosiasie met geloof is ook ter sprake by die geselsprogram, Openbarings, wat onlangs op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai is. In elke episode vind Sandra Prinsloo, aanbieder van die program, meer uit oor onortodokse godsdiensgroepe in Suid-Afrika deur met leiers, lede, voormalige lede en families te gesels.

Tot dusver is die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (ook bekend as die Mormoonse kerk), Desteni, Sciëntologie, Christ in Me International, Seven Angels Ministry, Rabboni Centre Ministries en End Times Disciples Ministries, Christ Gospel Church, Providence en Shincheonji, Jehovah se Getuies, Grace Gospel Church en die Spade Reënsending (Blou Rokke) onder die soeklig geplaas, terwyl die Universal Church of the Kingdom of God en Israelvisiegroepe in die laaste twee episodes verken sal word (Sien datums en tye onderaan hierdie artikel).

Hierdie program is voorwaar ’n geloofsreis wat ’n mens opnuut bewus maak van die diversiteit wat tussen geloofspraktyke, kerke en godsdienste regoor die wêreld teenwoordig is.

Waar die Mormoonse kerk byvoorbeeld afstand doen van tee, koffie en die gebruik van alkohol en tabakprodukte weens bepaalde geloofsoortuigings, word die Jehovah se Getuies onder andere gekenmerk aan hulle deur-tot-deur-evangelisasie. Lede van die Rabboni Centre Ministries en End Times Disciples Ministries is weer bekend daarvoor om onder bevel van pastore gras of slange te eet en petrol te drink indien hulle van bepaalde lewensomstandighede verlos wil word. Die Seven Angels Ministry is ’n kerk wat in Ngcobo in die Oos-Kaap geleë is en word deur sewe broers beheer wat glo dat hulle engele uit die hemel is. Hulle glo byvoorbeeld weer dat die duiwel in skole losgelaat is en daarom mag die kinders van lidmate nie skoolgaan nie.

Sommige praktyke en tradisies blyk dalk buitensporig te wees, maar enkele aspekte wat hier in gedagte gehou behoort te word, is eerstens dat ’n persoon se besluit om by ’n spesifieke kerk, denominasie of soortgelyke geloofsgroep betrokke te raak, grootliks op persoonlike smaak en behoeftes berus. Aspekte wat bydrae tot die besluitneming wissel van persoonlikheidstipe, geestesgesteldheid of bepaalde lewensomstandighede. Tweedens is dit ook belangrik om te onthou dat sommige geloofsgroepe groot beheer uitoefen op lidmate en dat nuwe lede op ’n slinkse wyse gewerf word. In hierdie geval word individue ongesiens en stelselmatig by alledaagse aktiwiteite soos ondersteuningsgroepe, Bybelstudiegeleenthede of lofprysingsessies betrek, voordat die kerk sy greep uiteindelik verstewig en ’n individu vasgevang word binne hierdie omstandighede.

Die hoofdoel van hierdie program fokus deurgaans daarop om verskeie opinies, ervarings en leerstellings vanuit verskeie oorde te verken. Die oogmerk is dus nie om te vooroordeel nie, maar om inligting weer te gee en juis daarom is Openbarings ’n insiggewende en sielsverrykende program wat by ’n wye spektrum kykers aanklank vind.