'n Europese swael. Hy kan dalk die noordelike somer in Finland deurbring.
Deur Neels Jackson
“Die jaar word ryp in goue akkerblare,” het NP van Wyk Louw geskryf. Ons sien die blare wat verkleur: groen word geel en oranje, rooi en bruin.
Terwyl dit gebeur, speel daar ’n natuurwonder om ons af wat ’n mens, tensy jy oplettend is, dalk nie eens opmerk nie. En selfs al merk jy dit op, is dit moeilik om die grootsheid daarvan te peil.
Die trekvoëls pak hulle langer of korter reise na die spreekwoordelike groener weivelde toe aan.
Een van die eerste kere wat dit my regtig getref het, was een aand langs ’n dam in Middelburg, Mpumalanga. Ek was deel van ’n groep voëlringers en ons wou Europese swaels ring.
Dié swaels broei in die noordelike somer in Europa. As hulle in ons somer hier kuier, het hulle nie neste nie. Dan sit hulle snags in die riete. Ons het ons nette tussen ’n klomp riete opgeslaan en toe hulle skemeraand inkom om te kom sit, het ons ’n hele klompie gevang.
Die gedagte was om ’n ringetjie aan ’n swael se poot te sit, ’n klompie mates te neem, die voël te weeg en dit dan vry te laat. As hy later elders weer gevang word, kan ’n mens iets van sy bewegings leer.
Die opwinding was groot toe iemand ’n swael kry en sien hy het reeds ’n ringetjie aan. Op die ringetjie het onder meer gestaan “Helsinki”. Dié swael is in ’n vorige seisoen in Finland gering en het, al 18 g van hom, daarvandaan tot hier gevlieg.
Ek was verstom. Dat so ’n klein voëltjie dit kon doen. Dat duisende van hulle dié tog twee maal per jaar aanpak, een maal suidwaarts en een maal terug noorde toe. Dat hulle dit jaar na jaar doen.
Nie alle voëls is trekvoëls nie. Party bly reg deur die jaar, jaar na jaar, min of meer op dieselfde plek.
Ander, soos die grootstreepswaels wat in ’n stadium teen die stukkie plafon buite my voordeur nesgemaak het, trek heelwat korter afstande. Dalk tot in een van die Kongo’s, dalk net tot in Zambië of Angola, iewers naby die ewenaar.
Een broeipaar het jaar na jaar teruggekom na ons toe. Ek kon aan die ringetjies wat ek vir hulle aangesit het, sien dat dit dieselfde twee was wat elke jaar twee kuikens by ons kom uitbroei en grootmaak het.
Tot een jaar, toe dit net die mannetjie was wat teruggekom het, met ’n nuwe wyfie aan sy sy. En die broeiery het voortgegaan soos voorheen.
Maar party trekvoëls het verstommende verhale, soos die krombekstrandlopers. In ons somers is hulle volop veral langs die Weskus. Hulle wei al langs die kant van die water aan allerlei klein goggatjies.
En wanneer die somer einde se kant toe staan, dan begin hulle gewig aansit. Petrol vir die lang reis Siberië toe. Navorsers het vasgestel dat hulle hulle gewig met sowat 50% kan vermeerder voordat hulle begin trek.
Maar hierdie brandstof is nie naastenby genoeg om hulle in Siberië te bring nie. Daarom het hulle ’n paar ruspunte langs die pad. Eenstoppe, sou ’n mens kon sê, waar hulle ’n week of twee oorstaan, en hulleself weer vetvreet voordat hulle verder vlieg.
Ná sowat 13 000 km kom hulle aan in ’n arktiese somer wat elke jaar vir ’n kort tydjie vir hierdie en ander trekvoëls ’n oorvloedige feesmaal van goggatjies bied.
’n Paar weke later draai die mannetjies om en pak die terugtog aan. Hulle het net gekom om te paar. Die wyfies bly langer. Hulle broei die eiers uit en versorg die kuikens totdat hulle groot genoeg is. En ’n rukkie nadat die wyfies die terugtog aangepak het, volg die jonges op hulle eerste reis na die suidpunt van Afrika.
En as die suidelike lente aanbreek, dan kom ons somerbesoekers terug. Ons hoor hoe die Europese byvreters in die lug tjirp. Ons verlustig ons weer aan die roep van die bosveldvisvangers wat hoër op in Afrika gekuier het.
En as ons mooi daaroor dink, dan staan ons verwonderd oor wat alles om ons gebeur.