Hoewel Samantha Leonard vir die eerste keer as solo-kunstenaar tydens die laaste seisoen van The Voice bekendheid verwerf het, is sy nie heeltemal ’n nuweling in die musiekbedryf nie.
Sy en Arri Opperman het in 2014 saamgespan en die sangpaar Glanz gestig. Hulle het net een album, naamlik In my oë, vrygestel, en Arri het hoofsaaklik as liedjieskrywer gewild geword, veral nadat hy Touch of Class se treffer “Dans in die reën” geskryf het.
Samantha het intussen haar haarkleur van blond na donker verander en sy is gereed om haarself as solo-kunstenaar te vestig. Die sukses wat sy met The Voice behaal het, het gemaak dat sy ’n kontrak aangebied is en haar debuutsoloalbum, ’n Duisend keuses, is pas vrygestel. Vaughan en Nerine Gardiner het saamgespan vir die eerste snit op die album, “Ek is nie almal nie”; dit is ’n snit met ’n sterk boodskap, naamlik dat sy nie dieselfde as enigiemand anders is nie. “Fantasie” is ’n bewys dat sy wéét hoe om in Afrikaans te rock, en daarom is dit ’n baie lekker snit om na te luister. Dit is ook die eerste snit op die album wat sy self geskryf het. Die titelsnit is nog een van haar eie komposisies en dit was ook die eerste enkelsnit vanaf die album. Die kitaarwerk op hierdie snit is besonder goed. “Ek hoop jy’s gelukkig” gaan oor ’n verhouding wat skeefgeloop het. “Is dit lekker?”, nog ’n snit wat sy self geskryf het, sluit tot ’n mate hierby aan, maar hierdie keer sing sy van ’n vrou wat sleg deur ’n man behandel is en die verhouding verbreek het.
“Sê my” is nog ’n liedjie wat ’n duidelike boodskap stuur aan ’n man wat haar seergemaak het. “Jou hart sal heel raak” is die volgende enkelsnit. Dit is ook deur Vaughan en Nerine Gardiner geskryf en dis iets heeltemal anders as die vorige paar snitte. Nie net verskil die boodskap heeltemal nie; dit is ook heelwat rustiger. “My laaste liefde” is nog ’n mooi snit wat deur Vaughan en Nerine Gardiner geskryf is. “Vat ’n kans” is ’n lekker snit wat Samantha self geskryf het, en is seker die eerste snit op die album wat teruggaan na die klank wat sy en Arri saam voortgebring het. Dit móét een van die enkelsnitte vanaf die album wees! “Golwe breek”, nog een van Samantha se eie komposisies, wys weer haar rustige kant, maar met ’n effense rock-klank. Baie mense sal hulle kan vereenselwig met “Ek is nog seer”, wat sy self geskryf het. Dit sal jammer wees as hierdie snit deur radiostasies geïgnoreer word, want dit het trefferpotensiaal. Samantha het ook die enigste Engelse snit op die album, “I will give it all up”, geskryf, en hierop bewys sy dat sy ewe goed in Engels as in Afrikaans kan skryf en sing. Die akoestiese weergawe van die titelsnit is selfs beter as die oorspronklike een; dit bewys dat ’n mens nie altyd volle begeleiding nodig het as ’n kitaar genoeg is nie.
Die afgelope tyd het al hoe meer deelnemers wat aan The Voice deelgeneem het, gewys dat hulle werklike talent het en dat hulle ’n blywende indruk op die musiekbedryf gaan maak. Vernon Barnard en Caroline-Grace is maar twee van hulle, en daar is geen twyfel dat dieselfde van Samantha gesê kan word nie. Hierdie album gaan beslis een van 2019 se bestes wees, en niemand behoort verbaas te wees as dit aanstaande jaar ’n spul Ghoema-toekennings wen nie!