Kroondoringbome lê die skilder veral na die hart

Gerrit Pitout, wat al vir amper 50 jaar ’n kunstenaar is, sê die kroondoringboom het veral vir hom ’n bekoring.

“Ek dink ek is met dié doringboom gebore. Hy toor met my,” vertel Pitout by sy onlangse kunsuitstalling by die Pretoria Kunskamer.

Hy sê dié saambreelvormige doringboom met “sy vorm en sy ritme” is sy gunstelingboom om te skilder.

Pitout (66), wat in Barberton in Mpumalanga grootgeword het en deesdae in Elarduspark in die Jakarandastad bly, se treffende kombinasie van wolke, bome en landskappe is uniek aan sy skilderye.

Gerrit gee self die leidraad as hy vertel nie dat hy nie net deur Pieter Henning en Gregoire Boonzaaier beïnvloed is nie, maar veral deur een van ons voorste Afrikaanse skilders, naamlik Jacob Hendrik Pierneef. Ook in Pierneef se skilderkuns staan bome en wolke sentraal.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Pitout se kunsuitstalling geopen.

“Ek is glad nie ’n kunskenner of -versamelaar is nie. Ek is maar net ’n gewone ou wat weet as iets vir my mooi is en subjektief op ’n dieper vlak met my hart resoneer. Dit is presies die rede hoekom Gerrit se plasings van sy treffende kunswerke op sosiale media my opgeval het.

“Eers later het ek gelees dat Gerrit ’n seun van die Laeveld is, wat gereeld die Krugerwildtuin, Kalahari en Namib vir sy inspirasie besoek. Toe het ek beter verstaan hoekom sy skilderye met my hart praat, want dit is vir my, net soos vir soveel ander, rus- en inspirasieplekke.

“Goeie kuns trek jou nader, nooi jou uit om dieper te kyk as die lyne en kleure en dieper oor die boodskap na te dink as die ooglopende prent. Goeie kuns nooi jou veral uit tot ’n dieper gesprek. Dit is waar van Gerrit se kuns,” sê Langner.

Pitout was destyds as matriekleerling die eerste skoolleerling wat kuns as sewende vak geneem het. Sy pa, ’n kunsdosent, het ook sy mentor en tutor geword. Waterverf, wat hom aanvanklik bekendheid laat verwerf het, beskou hy steeds as sy gunsteling verfmedium, al skilder hy deesdae meestal met olieverf.

“Waterverf is beslis die moeilikste medium om te gebruik. Dit is so mooi en suiwer medium.”

Vir meer inligting oor Pitout besoek sy Facebookblad:
https://www.facebook.com/gerrit.pitout