Zorada Temmingh
Zorada Temmingh, vooraanstaande Suid-Afrikaanse orrelis, is onlangs met die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike musiek in Stellenbosch vereer.
Zorada (59) is die derde geslag orreliste in haar familie: haar ouma, Edna Labuschagne, was vir 40 jaar orrelis by die Groot Kerk in Graaff-Reinet, en haar ma, Zorada Labuschagne, het deur die jare verskeie orrelposte beklee, onder meer in Newton Park, Port Elizabeth.
“Ek is totaal verbaas gewees toe ek hoor ek kry hierdie toekenning. Ek het nooit gedink ek sal ’n toekenning ontvang nie. Die klassieke bedieningstyl is ’n kwynende musiekstyl. Dis my wonderlik dat dít, eerder as ek, erkenning kry.”
Sy vertel al het sy tussen orrels grootgeword, het sy eintlik “toevallig as ’n orrelis opgeëindig”.
“Dit (orrels) was altyd deel van my lewe. My ouma was vir 40 jaar ’n orrelis gewees. Ek het nooit gedink ek sal ’n orrelis word nie. Ek wou eintlik ’n argitek word.”
Om geld bymekaar te maak vir ’n klavier het sy in die kerk begin orrel speel.
“Ek het die orrelsalaris nodig gehad om die paaiemente van my speelklavier te betaal.”
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Temmingh beskryf as “een van Suid-Afrika se voorste orreliste en orrel-improvisators”.
Sy is veral vir haar innoverende klankbaan-improvisasies vir die stomfilms The Hunchback of Notre Dame, The Four Horsemen of the Apocalypse en The Phantom of the Opera bekend. Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie kunsvorm aandurf.
Haar grootste droom is om eendag op die orrel in die Notre Dame-katedraal, wat onlangs brandskade gely het, in Parys, Frankryk te speel. So 15 jaar terug het het sy dié orrel se merkwaardige klank die eerste keer gehoor
“Die eerste keer wat ek daai orrel gehoor het, het ek geweet ek wil eendag op daai orrel speel.”
Vir haar grensverskuiwende bydrae tot klassieke musiek is sy in 2006 op die KKNK met ’n spesiale Kanna vereer. In 2007 het sy die MJ Thom-toekenning vir uitmuntende onderwys van die FAK ontvang. Sy het verskeie CD’s uitgereik, is deel van ʼn klavierduo en tree op as beoordelaar by verskeie musiek- en koorkompetisies. Tans is sy nasionale eksaminator vir die nasionale departement van basiese onderwys en ʼn moderator vir Umalusi.
Sy was tot 2007 departementshoof van musiek aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch. In 1995 het sy die Stellenbosch Nasionale Ensemble-kompetisie gestig, en was vir 11 jaar die hooforganiseerder daarvan. Tans is sy ’n vryskut-musikant. Sy is sedert 1986 orrelis van die Moedergemeente op Stellenbosch, die eerste vroueorrelis van hierdie historiese kerk.
“Dit bly ’n voorreg, sowel as ’n uitdaging, om dit elke Sondag in twee eredienste te doen, nou al vir 31 jaar,” sê Zorada.
Kyk hier: https://youtu.be/_R2eWikV2dg