Dianne Broodryk, haar ma, Patsy van der Westhuizen, en haar dogter, Robyn. Foto: Chantelle Loots
Sy is dalk ma van een, maar vir honderde radioluisteraars is sy ’n moeder van vele.
Dianne Broodryk, die sogenaamde moeder van Jacaranda FM se hulpverleningsprojek Good Morning Angels, is nou voltyds aan die stuur van dié projek wat verskeie motoriste Woensdagoggende in trane het.
Good Morning Angels is sedert 2005 ’n gereelde oggendinsetsel op dié radiostasie, waar hulpbehoewendes met borge en skenkers verenig word. Waar Dianne aanvanklik eers as nuusleser saam met radio-omroeper Kieno Kammies aan dié projek begin werk het, het sy deur die jare onder meer ook saam met Darren Scott en Rian van Heerden gewerk en werk sy deesdae saam met Martin Bester. Dit is juis Rian wat liefderik na haar as “moeder” op sy radioprogram verwys het.
Oor dié groot rol sê Dianne dis nie iets wat sy gekies het nie, maar eerder iets wat haar amper gekies het.
“Dis ’n groot verantwoordelik en ’n voorreg. Die stasie is eintlik ’n platform vir die skenkers, wat graag iets wou doen, maar nie regtig geweet het hoe of wat nie. Van tyd tot tyd het ons versoeke van mense gekry wat hulp nodig gehad het, maar terselfdertyd wou ons adverteerders en ons kliënte ook help.”
Sy vertel hoe hulle aanvanklik klein begin het en vir mense byvoorbeeld nuwe bande vir hulle motors gegee het, en hoe die skenkings net al hoe groter geword het namate hulle hul eie fondse begin genereer het.
Al het dié projek sedert sy ontstaan Dianne, wat as radiojoernalis opgelei is, se “baba” gebly, is sy van 2017 nou voltyds aan die stuur van Good Morning Angels.
Sy geniet haar nuwe rol vreeslik baie, want sy kan steeds mense se stories vertel, maar nou met die verskil dat sy ook ’n oplossing daarvoor kan vind.
Kinders lê haar veral na aan die hart.
“Dis die stories wat my die hardste ruk, maar ook vir my die meeste beteken. Dit is stories van mense wat nie moed opgee nie. Ek leer so baie by die mense wat ons help, want hulle gee net nooit moed op nie. Ons en ek by Good Morning Angels hou daarvan om mense te help, wat hulleself kan help.”
Dianne sê sy het juis ’n joernalis geword om op die radio te kan werk.
“Ek het met radio grootgeword. Ons het op die bed gelê en na stories op die radio geluister. Ek was ses jaar oud toe die eerste televisie in Suid-Afrika uitgekom het.”
In die gees van Moedersdag het Flink met Dianne saam met haar ma, Patsy van der Westhuizen (71), en haar dogter, Robyn (16), ’n gr. 11-leerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, gekuier.
Haar ma, Patsy, vertel dan hoe haar middelste kind op laerskool al haar eerste radiodrama, Roep van naguil, met byklanke en al saam met haar vriende gemaak het.
Hoekom juis radio?
“Radio is ongelooflik. Dit is een-op-een. Dis persoonlik. Dis alombeskikbaar en -teenwoordig. Jy kan ander goed doen, terwyl jy radio luister. Die radio is eintlik jou metgesel waar jy in jou kar ry of werk en dis verniet. Van alle vorme van media, is radio die intiemste. Elke individu wat hulle radio by hul het, voel dit is nét vir hulle.”
Wat beteken dit vir haar om ’n ma te wees?
Dit is die grootste verantwoordelikheid wat jy in jou lewe sal hê, waarop niks of niemand jou kan voorberei nie. Gelukkig het ek ’n baie goeie voorbeeld. As ek net die helfte so goeie ma is soos wat my ma vir my is, sal my kind oukei wees.
Wat is jou geliefste herinnering van jou ma?
Ek onthou die baie kere tydens my grootwordjare wat ons saam gesing het terwyl ons ander goed doen … skottelgoed was, in die kar ry … sommer partykeer ons eie liedjies opmaak of ons eie woorde vir liedjies. Waar my Ma is, is daar altyd goeie musiek wat speel. Elke Sondag as my Ma kosmaak, is dit die beste bord kos in die wêreld – en elke keer as ons saam reis, shop, vakansie hou of sommer net gaan fliek. Voor Robyn gebore is, het ek en my Ma elke Vrydagmiddag ’n fliek-date gehad. Ek geniet dit om saam met my Ma te wees.
Onthou jy jou eerste Moedersdag en/of die eerste Moedersdag wat jy saam met jou ma spandeer het?
Op my eerste Moedersdag was Robyn nege maande oud. Ek het
waarskynlik ontbyt in die bed gekry – soos dit nou nog die tradisie is. Vandat
sy kan teken en skryf, kry ek ’n handgemaakte kaartjie (waarna ek die meeste
uitsien) en dan gaan ons na een van die familie toe vir middagete saam.
Wat is jou wens vir jou ma op hierdie Moedersdag?
My wens vir my Ma hierdie Moedersdag is dat sy moet voel
en besef hoe lief haar kinders en kleinkinders vir haar en ons pa is. Hulle is
al meer as 50 jaar getroud en is die kern van ons hegte familie. Vir my ouers
wens ek net voorspoed, gesondheid, liefde en geluk toe – hulle verdien dit.
Watter raad van jou ma sal jy altyd onthou?
By my ma het ek baie wyshede geleer – nie net oor ouerskap nie, maar ook oor menswees. ’n Stukkie raad wat ek nooit sal vergeet nie, het sy vir my gegee toe ek in die laerskool was en baie hartseer was oor ’n maatjie met my lelik was. My ma het gesê ek moet só daaraan dink: “Net iemand wat self ongelukkig is, maak ander mense opsetlik hartseer. Daar is waarskynlik iets wat haar pla wat niks met jou te doen het nie en daarom is sy sommer lelik met jou. Jy moet eintlik vir haar jammer voel en eerder vra of jy haar met iets kan help as om terug lelik te wees.” Dit was ook so! Ek pas daardie wysheid nou nog gereeld toe.
Robyn oor haar ma
“Sy is ’n lekker mens in die algemeen. Dis lekker om haar kind te wees. Sy is ’n baie goeie ma. Sy is nog altyd een van my beste vriendinne. Sy laat my toe om net myself te wees.