S le Roux Marais se bladmusiek nou in die FAK se besit

Coert Grobbelaar, bekende tenoor, oorhandig die oorspronklike bladmusiek van S le Roux Marais aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK

Die FAK is nou die trotse eienaar van die komponis S le Roux Marais se oorspronklike bladmusiek.

Coert Grobbelaar, ’n bekende operasanger, het onlangs, Le Roux Marais se oorspronklike bladmusiek van “Heimweë” namens die familie aan die FAK oorhandig ter herdenking aan die 40 jaar ná Le Roux Marais afsterwe op 25 Mei 1979.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK  sê: “S le Roux Marais word vandag onthou as die Schubert van Afrikaanse musiek. As orrelis, onderwyser en musikant het hy in ’n tyd toe Afrikaans in haar babaskoene was oor die honderd Afrikaanse liedere gekomponeer. Dit sluit nie eers die koorstukke, orrel en instrumentale komposisies in nie. 


“Oom Fanie, soos sy familie en vriende hom genoem het, het met noot en klank die poësie van AG Visser, Leipoldt, NP van Wyk Louw, Eitemal, ID du Plessis, CF Visser en vele ander digters in tydlose liedere omskep wat vandag steeds goue treffers is. Dink maar aan “Heimweë” wat Mimi Coertse se hartslied is, “Kom dans Klaradyn” en “Mali die slaaf”. 

Dié bladmusiek is nog in potlood in Le Roux Marais eie handskrif geskryf.

“Afrikaanse musiek bou vandag voort op die fondamente van reuse wat in hulle kuns en lied net na die beste, skoonste en uitnemendste kuns gestreef het. Dit is iets wat ons te gou vergeet,” sê Langner

Kyk hier: https://youtu.be/OkHbBBcqTBU