Deur Petronel Fourie

Titel: Om tot verhaal te kom

Outeur: Lizette Rabe

Uitgewer: Lapa

Trauma tref jou soos ’n trein. Dit slaan jou wind uit. Dit gryp jou uit jou gemaksone en gooi jou genadeloos in ’n gat. Dit stroop jou van alles wat jy gewéét het, als waarvan jy seker was.

“Ek het in daardie tyd voor ’n spieël gestaan en van ’n baie ver plek na die vrou voor my gekyk. Ek het geweet sy sal nooit weer bestaan nie. Sy sal ’n nuwe identiteit moet kry. Sy sal tussen woorde – honderde, duisende, miljoene – moet swerf om iets te probeer vind wat sin maak.”

Lizette Rabe is in die gewone lewe ’n professor in joernalistiek aan Stellenbosch Universiteit, maar in dié boek is sy ’n ma wat rou ken, wat deur die dood rou geskaaf is. Sy staan eerlik voor die leser en steek ’n ervare hand uit om getraumatiseerdes op die pad van genesing te begelei.

Die boek is die resultaat van Rabe se eie worsteling ná die selfdood van haar seun. Skryf het vir haar ’n ander vorm van huil geword. Woorde was haar roetekaart “vir ’n ongenaakbare nuwe landskap, om die mees onbarmhartige, onvoorstelbare omswerwinge te navigeer”.

Daar is niks wat jou ooit op dié roete kan voorberei nie. Tog bied hierdie skryfterapiegids aan die sinkende, verdrinkende iets om aan vas te gryp voordat die maalkolk jou insluk. Rabe gooi ’n reddingsboei uit voordat jou kop onder die water verdwyn.

Vir Rabe was dit die beste terapie: om te skryf. Dit was ’n uitlaatklep vir die pyn en woede en frustrasie van die ondraaglike werklikheid. Skryfterapie neem jou stap vir stap deur die pynlike proses sodat jy jouself weer kan vind – ’n nuwe jy. Jy kom verhalend tot verhaal.

Baie mense se voorbehoud is dat hulle nie skryfvaardig is nie, nog nooit geskryf het nie, nie weet waaroor om te skryf nie. Ook met hierdie inhibisie het Rabe raad en lei sy jou om jou lyding los te skryf.

Vertel jou storie, op watter wyse ook al vir jou werk, sê sy. Of dit is om dagboek te hou, ’n blog of e-posse te skryf, briewe, gedigte, verhale, selfs net krabbels. Skrýf net. Dit gaan om terapie, nie om ’n prys te wen nie. Skryf die pyn uit jou uit. Dié boek bied jou riglyne oor hoe om die taak aan te pak, as jou selfvertroue jou nog pootjie. “Jy gaan voel dat jy jouself bemagtig, en dit gaan uiteindelik ’n transformasie van jou eie ervaring van verlies teweegbring.”

Rabe deel baie van haarself en bied op dié manier medelye en begrip. Sy bemagtig en inspireer die leser ook met aanhalings en raad van bekendes oor die wêreld en die eeue heen. Sy beveel boeke aan om te lees, stuur jou in die rigting van internetbronne wat inspirasie bied, vertel selfs watter musiek om te luister wanneer jy die pen opneem of voor die rekenaar inskuif. Sy begelei jou op elke moontlike manier om – op jóú manier – weer tot verhaal te kom.