RDie langverwagte Afrikaanse rolprent, Die verhaal van Racheltjie de Beer, word in Oktober vanjaar landwyd in fliekteaters vrygestel.
Dié rolprent is geskoei op die topverkoperroman met dieselfde naam deur die skrywer en rolprentmaker Brett Michael Innes.
Vyf jaar ná hul moeder, Marie, se dood, bevind die De Beer-kinders, Racheltjie (12) en Jamie (5), hulself op pad na die goudvelde van die Witwatersrand saam met hul pa, Herman, wie ’n nuwe lewe daar wil begin.
Tydens die trek tel hul ossewa skade op en die De Beers vind verblyf op ’n afgeleë plaas in die bergagtige Oos-Vrystaat wat deur George en Jacoba Lundt en hul dogter Sara bewoon word. Die eerste koue front is op pad en George waarsku Herman dat hulle op die plaas sal moet aanbly en wag tot die sneeu opklaar voor hulle weer die pad na die goudvelde kan aandurf.
In ruil vir verblyf en kos help Herman om die vervalle klipkraal te herstel. Soos die De Beers aanpas op die plaas bly Racheltjie bewus dat Goeie Vrydag, die gedenkdag van hul ma se dood, al hoe nader kom.
Goeie Vrydag arriveer en, later daardie aand, sluip Racheltjie en Jamie uit die huis om saam met Sara hul ma se lewe en dood te herdenk. Herman, gekant teen die herdenking van Marie se dood, betrap hulle en in ’n uitbarsting maak hy die besluit om summier die pad te vat.
Die volgende oggend, terwyl Herman gereed maak om die plaas te verlaat, besef hulle dat Jamie se troetelkalfie vermis is. Herman los die kinders in die huis terwyl hy die wa herstel, maar die onheilspellende stormwolke en verwoede wind trek in oor die plaas en hy het geen keuse as om sy waansinnige missie te laat vaar nie.
Herman keer terug na die huis nes Racheltjie besef dat Jamie uitgeglip het om die kalfie te gaan soek. Die son het reeds gesak en ’n soekgeselskap word uitgestuur terwyl Racheltjie die huis beman.
Terwyl die eerste sneeuvlokkies val, besef Racheltjie dat Jamie na die mierneste gegaan het waar hulle vroeër die week die kalfie gevind het. Met niemand om te vertel nie en die storm wat al hoe sterker woed, neem sy ’n lantern en durf die wind en sneeu aan om haar boetie te gaan haal.
Racheltjie vind hom by die mierneste, maar die swaar sneeu en donkerte maak dit onmoontlik vir die twee kinders om hul pad terug huis toe te vind. Sy kom te staan voor ’n keuse wat of albei se lewens sal kos of een sal laat oorleef. Racheltjie neem die dapper besluit wat van haar ’n heldin gemaak het.
Die volgende oggend vind Herman Racheltjie se gevriesde, naakte lyk, wat die ingang na een van die miershope bedek. Hy trek haar dooie liggaam teenaan sy bors en vind vir Jamie, snoesig toegedraai in Racheltjie se warm klere binne in die miershoop, veilig en lewendig te danke aan haar opoffering.
Die sterbelaaide rolverdeling sluit in Stian Bam (Herman de Beer), Zonika de Vries (Racheltjie), Marius Weyers (George Lundt), Sandra Prinsloo (Jacoba Lundt), Antoinette Louw (Sara Lundt) en Beáte Opperman (Marie de Beer). Johannes Jordaan vertolk sy heel eerste rol as Racheltjie se kleinboet, Jamie, in hierdie rolprent.