JJannie du Toit sê hy is ná meer as 50 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld “geseënd om steeds te doen waarvoor hy lief is”.
Du Toit is op 24 Mei deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ’n eretoekenning vir sy besonderse kultuurprestasie vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek die afgelope 50 jaar tydens die jaarlikse Cantare-kinderkoorfees in Alberton, Johannesburg vereer.
“Ek is baie jare geseënd en bevoorreg om te kan sing. Ek is baie lief vir my taal en ek doen dit natuurlik in die eerste plek omdat dit vir my lekker is. Ek doen dit vir myself, maar jy doen in die taal waarvoor jy lief is en as daar êrens erkenning is soos nou, is ek regtig groot dank verskuldig aan die FAK vir hierdie eer.”
Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, sê: “Enige musiekwêreld het standaarde nodig aan die hand waaraan hy hom kan meet. As daardie standaarde nie daar is nie, sak ons weg in die middelmatige en in vele opsigte verteenwoordig Jannie du Toit se musiek só ’n standaard. Dit verteenwoordig goeie Afrikaanse musiek en die Afrikaanse musiek het dit nodig.”
Volgens Goosen is die tweede rede Du Toit se noue verbintenis met Afrikaans en Nederland.
“Dit is vir ons (FAK) belangrik om daardie verbintenis in stand te hou ook juis ter wille van dié kwaliteit nie net van die Afrikaanse musiek nie, maar waarskynlik ook van die Nederlandse musiek. Jannie het deur die loop van sy roemryke loopbaan werklikwaar grense verskuif en nuwe wêrelde geopen vir Afrikaans plaaslik en internasionaal.”
Du Toit sonder veral die 25 jaar wat hy saam met Christa Steyn gesing het, as ’n hoogtepunt van sy musiekloopbaan uit, maar veel eerder dat die “Liewe Here my tot vandag toe die geleentheid gegee het om aan te hou. Dis eintlik die hoogtepunt.”
Jannie het tydens die kooraand by die Brackenhurst NG-kerk in Alberton alleen gesing, saam met die Cantare-kinderkoor en ook aan die einde saam met al die kore, waaronder Laerskool Concordia Seniorkoor, Laerskool Elspark Juniorkoor, Cantare-kinderkoor en die Alberton Mannekoor, van sy bekendste liedjies, “’n Liedjie vir jou” en “Gee ons Vrede”, gesing.
Die Cantare-kinderkoor is in 1995 deur Ida Strydom gestig om jeugdiges in die Suidelike Gauteng-streek en groter Ekurhuleni oor ras-, kultuur- en taalgrense heen te verenig. Dié koor is vandag een van die beste kinderkore in die land. Tydens verlede jaar se Wêreldkoor Olimpiade in Pretoria het dié koor ook ’n silwer medalje ontvang. Die Cantare-kinderkoor, wat uit sowat 265 lede bestaan, het al saam met verskeie kore, kunstenaars en groepe soos Rina Hugo, André Schwartz, Cutt Glass, Navi Redd, Manuel Escórcio, Jannie du Toit, Nianell, Jak de Priester, Juanita du Plessis, Coenie de Villiers, Heinz Winckler, Jannie Moolman, Joshua na die Reën en Elvis Blue opgetree.