Philip Moolman en sy Lurianne Foto: Chantelle Loots
Piet-my-vrou. Piet-my -vrou, sing die voëls vroegoggend by die Voortrekkermonument in Pretoria.
“Nee, dit moet eintlik Lurianne-vrou-Lurianne-my wees,” lag die akteur en sanger Philip Moolman (54). Sy hand styf gevou oor dié van sy vlamkop-vrou van die afgelope drie jaar.
Dit is die eerste keer sedert 1993 dat Philip, wat bekendheid verwerf het vir sy rol as Neil MacDonald in Sonkring en vir sy rol as André Vorster in Egoli, Plek van Goud, weer hier by die Voortrekkermonument is.
“Ek was laas hier toe ons Prins van Pretoria geskiet het,” skeeftand hy. Philip het die romantiese hoofrol gespeel in die rolprent wat dóérietyd al ’n begroting van R1 miljoen gehad het.
Nou is hy ouer en wyser, maar steeds die man wat ligvoets deur die lewe wil dans. “Toe ek jonger was het ek nooit regtig oor die toekoms gedink nie. Ek het vir die oomblik geleef – gedoen wat ek moes en wou doen.”
Hy dans steeds, maar die keer doen hy ’n wilde tango en ’n vinnige foxtrot saam met Lurianne (49), sy sielsgenoot, beste vriendin, mede-gospelsanger en “die mooiste vrou in die hele wêreld.”
Dit is ook seker heel gepas dat hy en Lurianne vandag hier by die Voortrekkermonument afgeneem word, want net soos dié kolossale Suid-Afrikaanse erfstuk, is Philip nog lank nie uit die mode nie, want die karakter Neil sal seker altyd agter Philip se skaduwee aandraf – elke dan en wan besluit óf kykNET óf SABC Encoreom Sonkring wéér uit te saai.
Philip en Lurianne steun die hordes trappe by die Voortrekkermonument op. Die Chinese toeriste draf-stap boontoe. “Ons is nie meer vandag se kinders nie,” spot hulle in ’n koor. Dit is ook die eerste keer dat Phillip die derde mevrou Moolman aan die publiek bekendstel. “Dit is seker ook my eie skuld,” sê Lurianne wat as lewensafrigter en personeelwerwer werk, “ek wou nie in die openbare oog wees nie en Philip het my besluit respekteer.”
Maar nou, voor die kamera, dans en poseer sy soos ’n wafferse model – al sny die “windjie koud en skraal” aan die agterkant van die Voortrekkermonument.
Dié twee het ook hulle speelgoed saamgebring – Philip sy kitaar en Lurianne haar ukulele, ’n klein kitaartjie.
“Ek het eers na ons troue besef dat my vrou ook baie goed kan sing en musikaal is,” vertel Philip later oor ’n bord stomende kerrie-en-rys. “Ons skryf saam liedjies – soms so tussen die badkamer en die kospotte word liedjies gebore. Op ’n dag het ons besef ons het veertien liedjies – genoeg vir ’n vollengte album.”
Hulle het ook ’n teaterproduksie, Norm@l geskryf en voer dit by kerke en damesoggende op. “Ek het nooit besef ek kan ook ’n bietjie toneel speel nie,” spot Lurianne. “Sy is ’n natural op die verhoog,” koer Philip. “Toe ons die vertoning die eerste keer moes opvoer, stress ek my dood. Ek het die heeltyd na Lurianne gekyk, maar toe knipoog sy en act.”
Lurianne het jare gelede ’n gospelalbum uitgereik. “Ek was so ’n paar keer op die radio, maar het nooit die album ernstig bemark nie,” trek sy skouers op.
Da-dam-da-dam, beweeg hulle voete saam. “Ons dink seker maar in ritme oor mekaar.”
Hulle is op 16 Desember 2016 getroud, nadat hulle mekaar in 2015 by die Blou Hond, ’n teaterin Pretoria ontmoet het. “Dit was ’n intieme troue by my ouers se strandhuis in Groot Brak,” vertel Lurianne.
16 Desember. “Ek het ’n datum gekies wat ek kan onthou,” spot Philip. Op ’n ernstiger noot; “Ons het die datum gekies, want ons het ook ’n gelofte voor God afgelê. Die gelofte het ’n driepuntfokus; tussen ons, tussen God en voor die klein groepie familie en vriende wat ons troue bygewoon het.”
Philip was al twee keer getroud; met die aktrises Anna-Mart van der Merwe en Susan Coetzer, maar die derde keer is skeepsreg. “Ons gaan saam oud word,” glo hulle.
Hoewel Philip nie meer die romantiese held in rolprente en sepies speel nie, kry hy deesdae ander rolle; die as pa.
Hy is nou in die SABC-sepie Skeem Saam, te sien. “Daar is net twee wit karakters in die sepie; Candice en Candice se pa. Die swartmense herken my; net nou die aand het ons by ’n petrolstasie gestop. Toe kyk die petroljoggies so na my en Lurianne en vra: ‘Is dit Candice se ma?’”
Sy toneelspel, erken Philip, het hy gruwelik afgeskeep. “Die Blou Hond,wat vir ’n dekade in Linden in Johannesburg was, het baie van my tyd opgevreet. Ek het daaraan gebou en vandag is dit ’n bekende musiek-venueen handelsmerk. Nadat ek in 2012 van Susan geskei is, het ek die konsep aan Casa Toscana in Pretoria verkoop, maar hy is steeds die gasheer, want die Blou Hond en Philip is sinoniem.
Lurianne en Philip het ook onlangs na Benoni aan die Oosrand verhuis. “Darem meer aan die buitewyke van Benoni. Nader aan Pretoria,” spot hulle. “Ons huis kyk op die dam uit. Ons het ons eie brulpaddas en voëls wat amper soos seemeeue lyk.”
Later, stap die twee, hand aan hand, deur die FAK se Liedjietuin. “Sproetjies”, die liedjie van Sias Reynecke is op een van die granietborde verewig. Lurianne het ook sproetjies oor die brug van haar neus.
Lurianne-my-vrou. Lurianne-my-vrou, roep die voëls.