Dit lyk asof daar al hoe meer nuwe Afrikaanse kunstenaars wat vorendag kom met ’n rock-klank wat tog kommersieel toeganklik is.

Bob Ffole se gelyknamige debuutalbum lyk asof dit in daardie kategorie val, maar hoewel min biografiese inligting oor hom bekend is, het hy genoeg gedoen om die aandag van ’n paar bekende name in die musiekbedryf op hom te vestig.

Die bekende sanger en tromspeler Ghapi, wat die laaste paar jaar maar stil was nadat hy ’n Christelike album vrygestel het, het die eerste snit, “Staan en veg”, saam met Bob geskryf, en ’n mens kry die indruk dat hy een van daardie kunstenaars is wie se lirieke ’n sterk boodskap oordra. Ghapi speel tromme op hierdie snit. Nog ’n kunstenaar wat lank stil was, is Robin Auld, wat in die 1980’s treffers met liedjies soos “Baby you’ve been good to me” en “All of woman” gehad het. Robin het “Dit is ons land” saam met Bob geskryf, en dié snit het nie die politieke boodskap wat ’n mens sou verwag nie.  Die volgende snit op die album, “Smag”, is ’n rustiger snit en Johan Kelber se klavierspel is baie goed. Weer eens speel Ghapi, wat dié snit saam met hom geskryf het, die tromme. Baie mense sal egter nie van sy uitspraak van sekere woorde hou nie.  Adele Fouche, die hoofsangeres en hoofkitaarspeler van die vrouerockgroep Saarkie, sing saam met hom op “Droomland”, en die akoestiese kitaarwerk op hierdie snit is besonder goed. “Gaan voort” is nog ’n goeie rock-snit wat Bob self geskryf het. “Ons huis”, met uitstekende kitaarwerk en ’n gestroopte verwerking, is een van die beste snitte op die album. “Saamstaan” is nog ’n snit wat Bob saam met Robin Auld geskryf het. Die boodskap is duidelik, maar die musiek sal nie juis by almal byval vind nie. “Mooiste tyd” is nog een van die rustiger snitte op die album. Bob het “Blou-oog meisiekind” vir sy dogtertjie geskryf. “Laaste lag” was Steve Hofmeyr se eerste Afrikaanse treffer; dit is die enigste snit wat Bob nie self geskryf het nie. Steve se weergawe is baie beter. “Net woorde” is ’n snit wat Bob saam met Slade geskryf het. Daar is ook nie veel inligting oor Slade beskikbaar nie; as die meeste mense dié naam hoor, dink hulle aan ’n Britse rock-groep van die 1970’s en 1980’s. Dit is egter een van die beter snitte op die album.  Albert Frost is seker een van Suid-Afrika se beste kitaarspelers; hy het “Vure in die lug” saam met Bob geskryf en hy speel ook kitaar op hierdie snit.  “Dierbare gedagtes” is nog een van die beter snitte op die album, veral as gevolg van die uitstekende akoestiese kitaarwerk. “Oorlog in stemming” het ’n baie sterk boodskap, maar ’n mens kan net wonder oor die musiek.  Dieselfde met “Selfrespek”, die laaste snit wat op die album se omslag aangedui word. Robin Auld speel die mondfluitjie op die “versteekte snit”, “Wegvind”, een van die beter snitte op die album.

Daar was al ’n aantal kunstenaars wat daarin geslaag het om sukses met Afrikaanse rock te behaal, Jan Blohm, Francois van Coke en veral Jo Black. Bob het regtig hard probeer om met dié groot name in die Afrikaanse musiekbedryf saam te gesels, soos die samewerking tussen hom en ’n paar bekende musikante bewys. Ongelukkig kan hy glad nie met bogenoemde kunstenaars meeding nie. Daar is iets aan sy manier van sing wat ’n mens hinder, en die musiek is nie altyd oortuigend nie. Dis jammer dat ’n mens so krities moet wees, maar ongelukkig kan dit nie anders nie.