In die 1960’s het Dawie Couzyn en Doris Brasch bekendheid verwerf vir hul kinderliedjies wat deur Betty Misheiker geskryf is.
Baie van hierdie liedjies is deur die diereryk geïnspireer en een daarvan, wat nou nog gewild is, is “Die dapper muis”. Dawie en Doris, wat onderskeidelik bas- en sopraanstemme gehad het, het hoofsaaklik ernstige musiek gesing maar met hul albums Sal jy dit glo? en Tingeling het hulle ook hul ander kant gewys. “Die dapper muis” was dalk ’n speelse liedjie maar die boodskap was effens meer ernstig, naamlik dat ’n mens nie moet grootpraat nie. Dawie en Doris se kinderalbums het ook verskeie ander treffers opgelewer.
Sedert die oorspronklike weergawe vrygestel is, het verskeie kunstenaars dit ook opgeneem, en veral Carike Keuzenkamp en Bill Flynn se opname was baie gewild. Soos “Die lappop” was dit een van die tien finaliste in die kategorie vir kinderliedjies in Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie van alle tye-veldtog in 2013.
Ek’s ‘n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis,
en daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
Vir niemand is ek bang, daar is niks wat my kan vang,
nee daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
En sê nou daar’s ‘n kat!
Oe, ‘n kat!
Ja, ‘n kat met ‘n huis wat altyd hunker na ‘n muis.
Ag nou ja!
Buiten vir ‘n kat, is daar niks waarvoor ek skrik nie.
Ek’s ‘n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis,
en daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
Vir niemand is ek bang, daar is niks wat my kan vang,
nee daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
En sê nou daar’s ‘n valletjie
Oe, ‘n valletjie!
Ja, ‘n ding wat val met ‘n gruwelike knal.
Ag nou ja!
Buiten vir ‘n kat en ‘n valletjie,
is daar niks waarvoor ek skrik nie.
Ek’s ‘n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis,
en daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
Vir niemand is ek bang, daar is niks wat my kan vang,
nee daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
En sê nou daar’s ‘n uil.
Oe, ‘n uil!
Ja, ‘n uil van wie muise altyd skuil.
Ag nou ja!
Buiten vir ‘n kat en ‘n valletjie en ‘n uil,
is daar niks waarvoor ek skrik nie.
En wat van ‘n lawaai, soos ‘n haan wat kraai,
en ‘n gebr /eek en ‘n gekraak en iets wat tjiep-tjiep maak.
En ‘n geklingel en ‘n getingel en ‘n gekletter en ‘n geknetter,
en ‘n boems en ‘n kardoems.
Waar’s jy?
O buiten vir ‘n kat met ‘n gryns wat altyd hunker na ‘n muis
en ‘n ding wat val met ‘n gruwelike knal
en ‘n uil in die nag wat vir muise sit en wag
en ‘n huis met ‘n lawaai soos ‘n haan wat kraai.
‘n Gebr /eek, ‘n gekraak, iets wat tjiep-tjiep maak.
‘n Getjingel, ‘n getingel, ‘n gekletter, ‘n geknetter
en ‘n boem en ‘n kardoems
Oe-eee!
Is daar niks waarvoor ek skrik nie.
Jy Jok!