In 1918 het ’n lied ontstaan wat later jare nie net Suid-Afrika se nasionale lied sou word nie, maar ook vir groot omstredenheid sou sorg.

Tydens sy voorbereiding vir ’n reeks verkiesingsvergaderings het die Afrikaanse skrywer CJ Langenhoven ’n gedig by sy huis Arbeidsgenot in Oudtshoorn geskryf, en op 31 Mei daardie jaar is “Die Stem” voltooi. Hoewel hy dit getoonset het, het sy toonsetting nie byval gevind nie, en op 5 Augustus 1918 het hy ’n uitnodiging in De Burger aan komponiste voorgelê om die woorde te toonset.

Ds. MLde Villiers, die leraar van die Nederduits Gereformeerde gemeente Simonstad het in 1919 sy eerste toonsetting voorgelê, maar Langenhoven was nie daarmee tevrede nie.  Nogtans het hy aan De Villiers, maar ook aan Stephen Eyssen, Gideon Fagan en Victor Potgieter toestemming gegee om hul toonsettings te publiseer. In 1921 het De Villiers ’n nuwe wysie daarvoor gekomponeer, dit op ’n familieklavier gespeel en die musiek neergeskryf. In die daaropvolgende jare het hy veral skole besoek om die lied bekend te stel.

Met die eerste hysing van die Unievlag (die Oranje Blanje Blou) op 31 Mei 1928  is “Die Stem” vir die eerste keer in ’n amptelike program ingesluit. Nadat ’n geskikte Engelse teks daarvoor aanvaar is, het adv. JG Strijdom op 2 Mei 1957 verklaar dat die Afrikaanse- en Engelse weergawes van “Die Stem” die nasionale lied van Suid-Afrika sou wees.

Met die bewindsoorname van die ANC in 1994 het “Die Stem” sy status as nasionale lied naas Enoch Sotonga se komposisie “Nkosi sikhelel’I Afrika” behou, maar in Oktober 1997 is ’n proklamasie in die Staatskoerant gepubliseer wat bepaal het dat dié twee liedere gekombineer sou word in ’n nuwe nasionale lied. Net die eerste twee reëls van die Afrikaanse weergawe het behoue gebly. Nogtans het “Die Stem” in sy geheel nie in die vergetelheid verdwyn nie.  Steve Hofmeyr het dit vir die eerste keer in Julie 2014 by die Innibos-kunstefees gesing en sedertdien het hy dit by al hoe meer geleenthede begin doen.