Een van die nuwe toevoegings tot die Liedboek van die Kerk, wat in 2001 in gebruik geneem is, is ’n lied wat eintlik al in 1950 opgeteken is.
Prof. Gawie Cillié was van 1939 tot 1964 die orrelis van die NG Moedergemeente op Stellenbosch. Hy het sy lewe aan die werk van die FAK gewy en was die voorsitter van 1979 tot 1985. Dit was as gevolg van navorsing wat hy oor ou Afrikaanse volksmusiek gedoen het wat hy op die “Magaliesburgse Aandlied” afgekom het.
Hy het die woorde, wat aanvanklik in Nederlands was, in 1950 raakgeloop en besef dat dit getoonset kon word. Die oorspronklike titel daarvan was “Leg mij om te slapen neder”. Hy het dit op ’n klein traporrel in die huis van oom Frans Fouché op die plaas Doornhoek getoonset. Die naam van die toonsetting is afgelei van die omgewing waar die plaas geleë is, aan die voet van die Magaliesberg tussen Magaliesburg en Maanhaarrand in die Noordwes-provinsie.
Sedertdien is die lied ook in Engels en glo ook in Zoeloe vertaal, en dis deur onder meer die koor van die Universiteit van Stellenbosch opgeneem. Nianell het ook ’n weergawe daarvan opgeneem, maar bykomende woorde daarvoor geskryf. Benewens die bestaande weergawe is ’n bykomende een, met nuwe woorde deur ds. Attie van der Colff, in die Liedboek van die Kerk ingesluit.