Omtrent vyftien jaar gelede het DJ Ossewa op die Afrikaanse musiektoneel verskyn en dadelik ’n groot gunsteling geword as gevolg van hul humoristiese lirieke.
Elke lid van die groep het ’n verhoognaam gehad; die leier van die groep was Pieter Rischmüller, wat die naam Piet Pompies vir homself gekies het. Hy het al erken dat die oorspronklike Piet Pompies, wie se regte naam Pieter van der Byl was en treffers soos “Haar pa wil nie gaan slaap” en “Hanswors” gesing het, hom geïnspireer het en dat hy op hierdie manier hulde aan die oorspronklike Piet Pompies wou bring.
Nou het Pieter egter op sy eie gegaan en sy soloalbum, My harlekyn, is onlangs uitgereik. Die titelsnit is, soos die meeste snitte op die album, sy eie komposisie en dalk nie so komies soos die meeste van DJ Ossewa se liedjies nie. Dit kan eerder as ’n lag met ’n traan beskryf word. “Bring net jou sussie saam” kon net sowel ’n DJ Ossewa-liedjie gewees het; dit is dalk nie grappig nie, maar dit is lekker vrolik en behoort die dansvloere gou vol te kry. Die titel van “Supercalafragalistic” is dalk ’n tongknoper en is sekerlik geïnspireer deur die liedjie met daardie titel uit Mary Poppins. Dit is een van die rustiger snitte op die album. “Somertyd” is nog ’n goeie snit wat Pieter self geskryf het. “Jakkalsdans vanaand” is een van die enkelsnitte vanaf die album. Daar is twee Engelse snitte op die album; “Know where to find you” is deur Johan Ferreira geskryf en ’n mens wonder of dit dalk die rock-sanger Joe F is. “Kliphard vir jou geval” is ’n lekker snit wat ’n treffer kan word. “Waar wy wat wou” klink dalk na ’n niksseggende titel maar dié snit het meer om die lyf as wat ’n mens mag dink. “Goodbye is net vir nou” is ’n baie goeie snit wat ’n treffer behoort te word. In die laat 1980’s was Cinema een van die gewildste groepe in Suid-Afrika en veral “My kind of girl” was ’n groot treffer wat vandag nog gereeld oor die radio gehoor word. Pieter se weergawe is omtrent net so goed soos die oorspronklike een. “Kry jou halfpad” is ’n lekker snit met ’n aansteeklike ritme en ’n boodskap wat ’n mens laat dink. Dit is een van die hoogtepunte vanaf die album. “Dis my nommer” is nog ’n snit wat vir die dansvloere bedoel is. Die laaste snit, wat as ’n bonussnit aangedui word, is “Pomp oppie jam”. Voordat enigiemand vra: dit is nie ’n Afrikaanse weergawe van Technotronic se treffer “Pump up the jam” nie, maar ’n oorspronklike komposisie wat op ’n jong gehoor gemik is.
Wanneer jy na hierdie album luister, is dit dalk nodig om van Pieter se DJ Ossewa-agtergrond te vergeet en hom as ’n kunstenaar in eie reg te beoordeel. In daardie opsig slaag Pieter die toets, aangesien hy ’n goeie liedjieskrywer en sanger is en hierdie album by ’n breë gehoor byval sal vind.